Protes teen e-tol gaan Vrydag voort

‘n Hooggeregshof het toestemming verleen vir ‘n e-tolprotes om Vrydagoggend voort te gaan, het die vakbondfederasie Cosatu Donderdag in Gauteng gesê.

Cosatu het vroeër in Mei aansoek gedoen by die metropolisie en die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit vir die reg om te betoog, maar die versoek is van die hand gewys, berig EWN. Die regering is van plan om met die omstrede stelsel voort te gaan, ondanks ‘n hofsaak wat steeds aan die gang is. “Ons sal nou so veel as moontlik ondersteuning probeer kry in die tyd wat vir ons beskikbaar is,” het Dumisani Dakile, woordvoerder van Cosatu, aan EWN gesê. “Die hof het die spesifieke bevel met kostes aan ons toegestaan teen die munisipaliteit en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Ons gaan môre met ons aksie voort.”

Volgens Dakile sal motoriste Vrydagoggend omstreeks 09:00 stadig begin ry en sal groot snelweë soos die N3 en die N12 in Gauteng hierdeur beïnvloed word. Cosatu, die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) en die Katolieke Kerk het die stelsel publiek teengestaan. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het egter gesê die tolstelsel is op hande. Sanral sê die e-tolstelsel sal ná die 30-dae periode en sodra pres. Jacob Zuma die wetgewing onderteken het, in werking tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.