Renate Barnard-regstelsaak aangehoor, uitspraak voorbehou

Renate Barnard

Renate Barnard

Kapt. Renate Barnard sou tot luitenant-kolonel (superintendent volgens die vorige range) bevorder geword het op die basis van haar prestasiegeskiedenis en die aanbevelings van die onderhoudpaneel, was dit nie vir haar velkleur nie. So het die vakbond Solidariteit vandag in die hoogste hof van appèl aangevoer in sy regstellendeaksiesaak teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) namens kapt. Barnard. Barnard, wat oor 24 jaar diens in die SAPD beskik, se regstellendeaksiestryd het reeds agt jaar gelede begin. Uitspraak in die saak is voorbehou.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, sê die Barnard-saak is ʼn toetssaak wat gaan bepaal wat wit Suid-Afrikaners se reg op waardigheid en gelykheid in regstellendeaksieprosesse is. “Indien die saak in Solidariteit se guns beslis word, kan dit ingrypende gevolge hê aangesien nog agt diskriminasiesake teen die SAPD op die beslissing van dié saak wag. Regter Hilary Rabkin-Naicker het onlangs in haar uitspraak in Solidariteit se saak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD) beslis dat sy nie regshulp aan die wit applikant kan gee nie aangesien sy saak aan die Barnard-saak gebonde is. Die Barnard-uitspraak gaan dus bepalend wees ten opsigte van hoe die howe wit Suid-Afrikaners in regstellendeaksiesake gaan hanteer.”

Hermann sê Barnard het twee keer vir dieselfde pos aansoek gedoen en is telkens as die beste kandidaat aangewys en deur die onderhoudpaneel aanbeveel. “Die Nasionale Kommissaris het egter geweier om Barnard aan te stel omdat sy wit is. Die pos is ’n derde keer geadverteer, maar is geskrap nadat sy weer daarvoor aansoek gedoen het. Die meganiese toepassing van numeriese teikens kan nie as ʼn regstellendeaksiemaatstaf gebruik word nie. Ons wil sekerheid hê oor die grondwetlikheid van ’n kwotastelsel wat op die nasionale rassedemografie gebaseer is; die balans tussen regstellende aksie en dienslewering; en wat die Grondwet oor die nie-aangewese groep se reg op gelykheid en waardigheid bepaal. Solidariteit wil ook duidelikheid verkry oor die kwessie of werkgewers poste vir die doel van regstellende aksie vakant kan los en sodoende dienslewering negatief beïnvloed,” het Hermann gesê.

Die arbeidsappèlhof het in November verlede jaar in die SAPD se guns in hierdie omstrede saak bevind. In die uitspraak is bevind dat dit nie in die hof se bevoegdheid is om te bepaal of die nasionale kommissaris ʼn pos moet vul en of besluite van die kommissaris dienslewering gaan benadeel nie. Dit het gevolg nadat die arbeidshof in Johannesburg in Februarie 2010 beslis het dat kapt. Barnard in die SAPD bevorder moet word en dat daar teen haar gediskrimineer is op grond van haar velkleur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.