Bakker op Limpopo-kleinhoewe geskiet

Dirk Knoetze se bakkie wat die aanvallers wou steel. Foto: Verskaf

Dirk Knoetze se bakkie wat die aanvallers wou steel. Foto: Verskaf

ʼn Bakker van Limpopo is Maandagaand op sy kleinhoewe in die Susanvale-omgewing buite Modimolle (Nylstroom) tydens ʼn rooftog geskiet.

Sakkie Louwrens, direkteur van die Heritage Protection Group (HPG) wat op die toneel was, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die bakker, Dirk Knoetze (62), is omstreeks 21:30 op sy kleinhoewe deur ses gewapende verdagtes ingewag.

“Die aanvallers het vroeër daar opgedaag en Knoetze se werkers vasgebind. Hy is tydens die voorval met ʼn 9 mm-pistool in sy bolyf geskiet en van kontant, ʼn selfoon en jaggeweer beroof,” het Louwrens gesê.

Louwrens het gesê die verdagtes wou Knoetze se bakkie steel, maar kon nie daarin slaag nie. Die verdagtes het in ʼn Mercedes in die rigting van Bela-Bela (Warmbad) gevlug.

Die HPG-ondersoekspan, die Spoorsnyers en die polisie is na die toneel ontbied om dit vir leidrade te fynkam.

Juanita Knoetze, Knoetze se dogter, het Dinsdag aan Maroela Media gesê haar pa is tans in ʼn stabiele toestand in die waakeenheid van die Mediclinic Meulmed in Pretoria. “My pa se dokter is tevrede  met sy toestand en sal ons binnekort laat weet wanneer en of hy geopereer gaan word. Soos wat ek verstaan het die koeël sy hart skrams gemis,” het sy gesê. Sy het al die rolspelers bedank wat vinnig gereageer het. “Dit maak die verskil tussen lewe en dood. Baie dankie. Ons harte is seer maar ons is baie dankbaar.”

Volgens Juanita bly haar pa alleen op die 30 ha kleinhoewe en bedryf hy sy bakkery daar. Hy het personeel wat deur die dag en in die aande daar bak. Knoetze verskaf gebakte produkte aan instansies in Nylstroom en Bela-Bela. Hy het glo twee van die ses verdagtes herken as mense wat voorheen daar gewerk het. Juanita het gesê sy het verneem die werkers wat Maandagaand nagskof gewerk het, is in ʼn broodwa toegesluit voordat haar pa beroof en geskiet is.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

“Die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord en gewapende roof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie,” het Otto gesê.

ʼn Boodskap word in die gemeenskap versprei om op die uitkyk te wees vir ʼn goudkleurige Mercedes Benz met die nommerplaat LJK 489 GP, wat moontlik as die verdagtes se wegkomvoertuig gebruik is. Mense wat die voertuig opmerk word versoek om hul naaste polisiekantoor in kennis te stel of Crime Stop by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.