Bejaarde wat rower doodskiet, kan nog nie praat

Elsie Trichardt na die aanval. Foto: Verskaf

Elsie Trichardt na die aanval. Foto: Verskaf

Louis Trichardt, die 76-jarige man wat op 20 Julie ʼn vermeende rower in die oprit van sy huis doodgeskiet het, is steeds in ʼn ernstige toestand in die waakeenheid nadat hy tydens die rooftog in die maag geskiet is.

Trichardt word sedert die voorval in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg behandel en kan in dié stadium nog nie praat of eet nie. Elsie (75), Louis se vrou, het Vrydag aan Maroela Media gesê haar man haal sedert gister sonder ʼn ventilator asem, maar het steeds ʼn voedingspyp in sy neus. “Hy kan sy kop beweeg as ek vir hom vra of hy pyn het en my hand druk, maar hy kan nie met ons kommunikeer nie,” het sy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Elsie en Louis is omstreeks 12:00 buite hul huis in Horison, Roodepoort, deur twee gewapende rowers oorval. Louis het in ʼn struweling met die rowers betrokke geraak en is in die maag geskiet. Hy het ook een van die rowers in die oprit doodgeskiet, terwyl die ander rower op die vlug geslaan het. Elsie het erge kneusings opgedoen.

Louis Trichardt in die waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal. Foto: Verskaf

Louis Trichardt in die waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal. Foto: Verskaf

“Daar is nog nie eens sprake van Louis na ʼn algemene saal skuif nie. Sy toestand is nog baie ernstig,” het Elsie gesê. “Al wat ons nou kan doen, is om maar geduldig te wees en hom tyd te gee om te herstel.”

Sy het gesê sy is sedert die voorval nog nie weer deur die polisie genader oor die ondersoek nie. “Om die waarheid te sê, stel ek nie in die minste daarin belang nie. Ek wil amper nie weet nie. Ek wil net fokus op my man en sy gesondheid,” het sy gesê.

Elsie bly intussen by haar dogter en het sedert die voorval nog nie weer by die egpaar se huis geslaap nie. “My kinders wil nie hê ek moet alleen wees nie. Dit is maar ʼn moeilike tyd en dit is so sleg om jou geliefde so te sien ly. Ons hou aan bid.”

Lees alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

pop ·

En dis hoe daar gewerk word met ou mense in hierdie wettelose land. Ek huil so dat ek nie na hulle kan kyk nie.

Dave ·

Pop, waarom weet ek nie maar jou kommentaar, jou trane, jou huil het my met ‘n harder slag vertel in watter spookhuis, nagmerriehuis die ou mense in hierdie land woon. Jy het slegs twee sinne geskryf maar dit is woorde wat die werklikheid van wat in Suid Afrika aangaan, uitskree! Mag God Sy engele opdrag gee om die ou mense in Suid Afrika te beskerm.

PIXIE ·

Oom Louis, sterkte ek bid vir jou. Ek kry ‘n knop in my keel as ek na die foto kyk. Word gou beter.
Ai en dinge word elke dag net erger. Een van ons kan die volgende wees, wie weet waar die duiwel jou inwag. Soggens as ek my ganse kos gee wag ek tot dit lig is want ek is alleen op ‘n kleinhoewe en dit is net doringbome, groot rotse (moeviese klippe), grondpaaie en geen straatligte en die X#@ kruip mos agter alles weg en kyk jou doen en late uit. Groetnis vir die tannie en wees sterk want sy het jou nodig. Liefde.

CHRISTA ·

En hulle hoor niks van die polisie nie? Wat sê dit nie als van ons polisie mag nie!!!

Elfie ·

Oom Louis, jy is ‘n held, jy het die een laat groet met jou flinke optrede en dit terwyl hulle ‘n oormag was. Sterkte en beterskap vir jou!

johan herbst ·

Ai jammer om dit te hoor mense ons moet saam staan dit kanie meer so aan gaan nie die DOODSTRAF MOET trig kom dan sal ons in n beter land lewe weer eens jammer.

Alex Basson ·

Dit is skandelik om te sien en te beleef wat in ons land aan gaan. Desember 2014 n moord op ons plaas ook…… Hierdie dinge gaan nie sommer einde kry nie as dit gaan einde kry. Ons leef in n moderne barbaarse tyd perk. Mense……help mekaar waar jul kan….ken jou bure en help as jy kan. Mense se altyd dit is tyd om iets te doen maar niemand doen iets nie…….Maar ons in die WIEG VAN DIE MENSDOM staan saam en baklei terug….dit help as mense saam werk. Die regering en polisie gaan jou nie sommer help nie…….
dankie vir die SAPS lede wat regtig moeite doen om te help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.