Breinvliesontsteking eis Puk-student: ‘Sy is by haar pa in die hemel’

Leana Labuschagne. Foto: Facebook

Leana Labuschagne. Foto: Facebook

Leana Labuschagne (19), ʼn eerstejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, het laat Sondagaand begin sleg voel en is die volgende dag aan breinvliesontsteking dood.

Carli Huyser, Leana se kamermaat in Oosterhof-koshuis, het aan Maroela Media gesê Leana het omstreeks 23:00 Sondagaand gesê haar keel is seer. “Ek het vir haar water gegee, maar sy het gesukkel om dit te drink.” Volgens Carli het Leana die volgende oggend gesê sy voel siek. “Sy was die hele nag wakker en het heeltyd badkamer toe gehardloop. Sy het haar ma gebel en gesê sy voel siek.”

Leana se ma, Lemaria Lasbuschagne en haar jonger sussie, Marli, het die afgelope naweek vir haar in Potchefstroom kom kuier. Lemaria het haar Maandag van Pretoria na Potchefstroom gehaas om by haar dogter te wees. Volgens Carli het hulle vir Leana ʼn doktersafspraak gemaak vir Maandag 11:45 by Cachetpark, ’n inkopiesentrum naby die universiteit se kampus. Carli het gesê hulle het Leana na die motor gehelp aangesien sy baie swak was en omtrent nie kon regop staan nie.

Die dokter het Leana ondersoek, maar kon glo nie vasstel wat fout was nie waarna hy haar vir bloedtoetse gestuur het. “Die dokter het haar ʼn kort rukkie later na ongevalle by die Mediclinic Potchefstroom geneem. Ek het haar nie weer gesien nie.” Volgens Carli is hulle omstreeks 16:30 Maandagmiddag meegedeel dat Leana oorlede is nadat haar hart glo gaan staan het. Leana is dood voor haar ma in Potchefstroom kon aankom.

Carli het gesê Leana se afsterwe is baie tragies aangesien haar pa drie jaar gelede oorlede is. “Haar oom is ook drie weke terug oorlede. Sy kon nie huil nie, ek dink sy het al te veel in haar lewe gehuil. Sy was verskriklik slim en het ʼn lus vir die lewe gehad. Sy wou altyd nuwe mense ontmoet en het groot drome gehad. Ek is doodseker sy is by haar pa in die hemel.”

Volgens Carli sou Leana Vrydag haar laaste toets voor die vakansie skryf. Leana het gestudeer om ʼn geoktrooieerde rekenmeester te word. “Dit was haar droom om vir ʼn maatskappy oorsee te gaan werk. Sy het so hard gewerk. Ek is bly sy kon reis en die wêreld sien. Sy het alles gehad en voluit gelewe. Dit herinner mens net weer dat jy vir die mense in jou lewe moet sê jy is lief vir hulle.”

Die universiteit het intussen gesê daar is tot op hede nog geen ander bevestigde gevalle van breinvliesontsteking aangemeld nie. “As voorkomende maatreël het alle inwoners van Oosterhof ook ’n enkeldosis voorkomende medikasie, 500 mg Ciprofloxacin, ontvang. Hulle is ook ingelig oor hoe die siekte versprei en hoe om voorkomend op te tree.”

Prof Herman van Schalkwyk, kampusrektor, en prof Dan Kgwadi, visekanselier, het hul medelye teenoor Leana se familie en vriende uitgespreek.

Die simptome van breinvliesontsteking is op die Potchefstroomkampus se webblad beskikbaar en indien enige van dié simptome ervaar word, word persone aangeraai om dadelik hul huisdokter te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nic de Bruyn ·

Dit is werklik hartseer. Hoe skielik kan alles tot ‘n einde kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.