DBV hof toe om ‘Alldays-slagting’ te keer

Een van die houtplatforms wat glo vir die dryfjag opgerig is. Foto: Twitter

Een van die houtplatforms wat glo vir die dryfjag opgerig is. Foto: Twitter

Die nasionale Dierebeskermingsvereniging (DBV) het Maandag die hof genader in ʼn poging om ʼn reuse-dryfjag (“driven hunt”) by Alldays in Limpopo te probeer verhoed.

Die dryfjag, wat die DBV “die Alldays-slagting” noem, is glo beplan vir hierdie week op ʼn plaas genaamd Braam Plaas. Ainsley Hay, bestuurder van die DBV se wildbeskermingseenheid, het aan Maroela Media gesê ʼn strook van ongeveer twee kilometer op die plaas is ontbos en honderde houtplatforms is al langs die strook grond opgerig.

Jagters sit dan op hierdie platforms terwyl ʼn groot verskeidenheid wild in die strook af gejaag word sodat die jagters hulle kan skiet. Inwoners van die gemeenskap word betaal om in ʼn reguit ry met groot metaaldromme te stap en die diere so aan te jaag. Hay het gesê omdat die diere verskrik is en hardloop, is dit nie vir die jagters moontlik om versigtig te mik en seker te maak dat die diere op ʼn menslike wyse doodgeskiet word nie.

“’n Bron het vir ons vertel dat die diere sommer enige plek [op hul lywe] geskiet word en soms ʼn paar keer, dermate dat die vleis nie agterna gebruik kan word om te eet nie. Die jag is suiwer vir die vermaak van jagters,” het sy gesê. “Honderde diere sal geskiet word, beseer word en ly.”

Die ingang na die plaas waar die dryfjag glo sou plaasvind. Foto: Facebook

Die ingang na die plaas waar die dryfjag glo sou plaasvind. Foto: Facebook

Volgens Hay is dit die eerste keer dat die DBV van ʼn dryfjag bewus word, en sy weet dus nie of dit al voorheen in Suid-Afrika plaasgevind het nie. Sy het gesê dit is ʼn Europese gebruik wat oor die algemeen nie in Suid-Afrika gevolg word nie. Daarom word dit ook nie volgens wetgewing verbied nie.

Sy het gesê hierdie dryfjag sal glo deur Europese jagters gedoen word, maar professionele jagters van Suid-Afrika sal hulle vergesel. Die grond waarop die dryfjag gedoen word, is glo ʼn “gemeenskapsplaas” wat in 2009 deur ’n grondeis bekom is.

“Ons sal die landdroshof nader om ʼn hofbevel te kry om hierdie dryfjag te keer, maar dit is nie ʼn langtermyn-oplossing nie. Dryfjag is nie onwettig nie. Al hoe ons hierdie skokkende praktyk kan stop, is om dit onwettig in alle provinsies te maak – en dit lê in die hande van die regering.” Hay het gesê die DBV is ook tans in gesprek met die departement van toerisme en omgewingsake om vas te stel of hulle bewus is van hoe oneties dryfjagtogte is en die moontlikheid te ondersoek om dit onwettig te verklaar.

Burckels Napo, woordvoerder van Limpopo se departement van toerisme en omgewingsake, het aan Maroela Media gesê die departement is bewus van die beplande dryfjag in Alldays en ondersoek tans die saak. ʼn Verklaring oor die aangeleentheid sal later Maandag uitgereik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

CB ·

Ja nee wraggies! Baie van die diere word nie eers dood geskiet nie. Dis onmenslik om ‘n dier te kwes… sies man! Jy skiet om te eet, enige regte jagter weet dit… en jy skiet net wat jy kan eet. Nie meer as dit nie.

Winston ·

Daar is wette en proklamasies in plek. Soek dit en arresteer almal wat deelneem. Dieremishandeling is nie net van toepassing op mak of domestikeerde diere nie.

Roelien ·

Ek wil net iets weet. Wie is in beheer van die dryfjag? Is dit ‘n Jagtersvereniging, Sport&Jag of privaat?

E.K. ·

Roelien – die swart plaaseienaar is. En natuurlik bring hy toe weer die ras ding in van arme ekke…kyk gerus heruitseding van afgelope Sondagaand se Carte Blanche sodat jul die WERKLIKHEID sien van die honderde stellasies waar klomp Hollanders en Belgiers net gaan SIT, diere het geen kans en word afgemaai. BAIE erg!!

Leon Coetzee ·

Ons ouens by SA Sport – en Jagfederasie ondersteun ETIESE jag. Indien die jag nie volgens etiese norme is nie, stel ons nie belang nie

Nico ·

Ek is glad nie teen jag gekant nie, maar daar is darem perke. Ek kan nie sien watter plesier hulle uit so ‘n jagtog kan kry nie.

asjas ·

‘n Ware jagter sal nie by so iets betrokke raak of wees nie, sal dit beslis nie goed praat of ondersteun nie.
Lui, oorgewig buitelanders wat net wil gaan spog met hul troffee – kan die goed nie verdra nie!

Christo ·

Ek stem ook saam dat hierdie sinnelose doodskiet nie Jag genoem kan word nie. Dit wil vir my lyk asof die diere nou “afgehaal” gaan word omdat die grond in ‘n grondeis aan die gemeenskap oorgegee is.
Ek sou graag meer wou weet wat van 2009 tot nou toe daar gebeur het ten opsigte van verantwoordelike benutting van die diere, Die jaarlikse inkomste wat met behoorlike praktyk uit die diere verkry kon word, sou mos ‘n volhoubare bron kon wees.

Theresa ·

Hoe siek kan die mensdom net nie wees nie. Dis walglik!!!!!

Willie van der Sandt ·

Ek hoop hierdie ding word nou dadelik in die kiem gesmoor, dit is sekerlik die grootste beeld van dieremishandeling wat ek nog van gehoor het, die organiseerders moet ook sommer gestraf word saam met enige iemand wat aan so iets deel neem. Dit is absoluut barbaars.

Juan ·

Het die organiseerders ooit gedink aan die veiligheid van die jagters, want daardie hout platvorms is baie na aan mekaar? wat van die veiligheid van die aanjaers, hierdie is net n tragedie wat wag om te gebeur! En dan nog die diere wat gekwes in die veld gelos gaan word, daar is geen manier wat verseker kan word dat n gekweste dier gekry word nie, want as ek die storie so kyk, mag die jagter nie sy platvorm verlaat, voordat n teken of alarm die einde van die jag aankondig nie

Sollie ·

Organiseerder: swart plaaseienaar. Kyk asb heruitsending van Carte Blanche op Mnet (afgelope Sondag s’n) en sien die kilometers en KILOMETERS stellasies. Afgryslik verby!

Roelien ·

Dankie tog geen regte jagter is betrokke nie. Dit is ‘n skande vir die mensdom, maar nou ja, seker kultureel en niemand gaan ‘n haan daarna kraai nie. Ons mag nie met kulture inmeng nie.

Ek was self ook daar ·

Maroela – wt ek genoem het is presies wat gebeur het – hoe dit nou weer nie aan jul standaarde voldoen weet ek nie. Dit IS klomp Hollanders en Balgiers wat kom jag. Dit IS ‘n swart plaaseienaar en hy HET gekerm dat raskaart ingebring word teen hom toe Carte Blanche hom ondervra het.

Anna ·

Ek weet van ‘n klompie wat ons so met stokke en dromme kan verby jaag! En hulle is dit nie eers werd om diere genome te word nie. Dit is nou tipies as iets vir die klomp gegee word.

Moeder ·

Het gisteraand Carte Blanche gekyk … die swart eienaar het natuurlik weer baie te sê gehad omdat Carte Blanche hom nader hieroor … “omdat hy swart” is. Speel weer die politieke storie… Dit gaan ‘n afgryslike jagtery wees hierdie, dis al wat ek weet!!! Daai arme diere…

Natasjha ·

Dis vieslik! Alles wat so mooi geskape is wat onnodig afgemaai word :(

Theodeen ·

Wat van ons jaag julle aan…skiet op julle sodat ons kan toe kyk hoe julle besseer word en ly?! Wat van n regdenkende mens met gevoel doen so iets? Dit walg my om te sien waartoe die mensdom deesdae in staat is. Ek skaam my kop in skaamte.

Susan ·

DIT IS ‘N SKANDE!!!!!!!!!!!!!!!!!!! KAN HIERDIE JUPPIE’S NIE IN STROOK AF GEJAAG WORD NIE. En met sambokke gejaag word nie. Of nog beter, ‘n paar blou wilde beeste!!!!!!Die arme diere kan nie eers weg hardloop nie. Nee wat. Tenminste kan hulle agter die wild aanloop!!!!!!!

Kaspaas ·

Hierdie was gisteraand op Carte Blanche. Die plaas spesifiek. Dit is n swart bemagtigings plaas en hulle wil dit doen vir geld. Toe die joernalis met die eienaar praat toe se hy dit is sy saak en dit is die rasistiese wittes wat n probleem het en swartes niks gun nie, en hy sal maak soos hy wil.

Ludwig ·

Ons eet ook graag wildsvleis, maar wat hierdie manne wil doen, is nie jag nuie,. Dis doodgewoon mors en uitmoor. Mense wat hieraan meedoen, voer nie die taak uit wat die Skepper die mens gegee het om Sy skepping te bestuur en te benut nie. Dis ‘n skreiende skande, en almal wat daaraan deelneem, behoort soos die renosterstropers gejag te word.

André ·

Die is NIE hoe sportmanne en vroue hulle gedra nie! Dit is NIE sport nie! Sies, man! Julle jagters en die wat jagters wil wees is beter as dit…is julle nie?

Sollie ·

Dis Hollanders en Belgiers in die geval. Kom mors in ons land…

Eduard ·

Biutelandse jagters sal dit nie in hulle uie land regkry nie dis hoekom dit hier gehou word Kom ons vind uit wie se idee was dit en nale hulle en van water lande kom die jagters

winston ·

Ek sit en lees nou julle kommentaar en kan net my kop skud. Weet julle hoe moeilik dit is om wild getalle te beheer? Ek haal my hoed af vir die eienaar om dit te doen en klaar te kry. Julle spoel julle monde uit oor goed wat julle niks van weet nie. Dis niks anders as Karoo jag of aanjaag koedoe jag in die Oos Kaap nie.

Katriena ·

Gee details van daai aangejaagde koedoes oor aan DBV seker hulle sal detail wil he. Hoe dit soos Karoo jag is is redelik onduidelik so miskien wil jy duidelikheid gee

Inge ·

Winston, jy is gevoelloos! Hoe sal jy daarvan hou as ons jou dalk ‘n bietjie daar afjaag en dat jy geskiet word en jouself half dood bloei. Dit is nie reg nie. Dit is die manier waarop hulle dit doen wat verkeerd is. Die eienaar wil net geld he, punt.

Takkie Takuuza ·

Nee wat ou Winston, daai skoen pas jou eerder. Wanneer laas was jy op ‘n wildsveiling? Weet jy wat die huidige pryse is? Wat doen ‘n firma soos Raakvat? Geen wildboer wat ek ken sal hierdie nonsens toelaat nie. Dit gaan geensins hier oor wild-getalle nie, dit gaan net oor Euro-getalle. Ek hoop regtig nie jy glo die twak wat jy hier praat nie.

E.K. ·

Nie so moeilik om wild getalle te beheer nie. Daar is ‘n ordentlike manier om ‘n wildsplaas te “run”. Mens moet natuurlik weet wat jy doen as jy so tipe plaas “kry”. Hierdie is nie uitdun, dis wrede barbaarsheid. En natuurlik om Euros te kry…

ek ·

Ek stem saam met jou winston..die mense het geen benul wat hier aangan nie ..die mense kan geen komentaar lewer wat ini dorp bly en heeldag met hulle honde speel nie …daar is reels en regulasies hoe die jagte werk ..in alle ander lande is daar dryfjag behalwe ons land ..die diere word geskied soos in n jag indien hulle gewond word is daar n groep wat kan spoorsny en die diere opspoor net soos enige ander jag ..julle dorpsmense moet julle hou by julle take ini dorp …jag is jag as jy n diet skiet skiet jy hom mense …of hy slaap sit staan watookal skiet is skiet .so kry julle feite reg voor julle enige diere beskerm .en gee eder om oor julle mense ..want in die land isndit eers diere en dan kom mense .Pasop dat ek nie dai artapel se keel af sny voor jy hom moet eet nie ….ek stem saam ju winston

nig ·

Ja “ek” – dalk moet JY jou by spelling en spelreels bepaal. Hierdie is nie JAG waar diere ‘n kans het hulle word eenvouding in ‘n pad afgejaag en afgemaai.

Henry ·

Koedoes word reeds vir dekades lank in die Oos Kaap mbv ‘Dryfjag’ geskiet.
“ek” en Winston is in die kol.
Dryfjag dwarsoor Europa en die VSA word deur die eeue heen as jag metode gebruik.
In Brittanje en Skotland in besonder, word die metode gebruik om voëls soos Grouse te skiet dat die biesies aan’t tril gaan.

Katriena ·

Strooi storie man dis nie jag nie.
Noem dit nou maar wat dit is ‘n moerse duur slagpaal. Sies ek hoop die DBV en kie is suksesvol om dit te stop. Dis barbaars. Moet asb nie dat die issue verkleur word met ‘n gehappery oor ras nie want dan vergeet mense waaroor dit gaan en hap na mekaar die hele tyd oor die rasse ding.

ek ·

Dit is nie soo eenvoudig om n dier by n pad af te jaag nie …maar soos jy nie sal weet nie lewer jy komentaar oor goed waarvan jy nie weet nie …julle maak dit erger en maak hierdie jagters kwaad..hulle sal dus aanhou om te moor en asook erger .al die diere wat geskied word ..word verkoop en weg gegee nie net gelos nie .asb kry julle feite reg …daar is 1000 beeste n dag wat geskied word 100 hoenders wat geslag word om jou aan die lewe te hou ..hou op kla oor alles in die lewe en kry n Lewe.die diere is nie bedreig nie soo hulle sal geskied word

Jan Stapskoen ·

Solank die skietwerk eties gebeur (die wild gaan nie heeltyd hardloop nie, dink bietjie daaroor…) kan ek nie sien hoe dit juis anders is as bakkie jag nie. Of dit nou ‘n lui Pretorianer is wat na die wild toe ry of ‘n lui Hollander is wat die wild laat aanjag, dis maar om’t ewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.