Ellisras-brand: ‘Hoe verduidelik ek waar hulle sussie is?’

Katelint da Costa. Foto: Facebook

Katelint da Costa. Foto: Facebook

“Ek dink sy het hard baklei, maar die pyn was te veel. Sy kon nie meer uithou nie. En toe het haar hartjie gaan staan.”

Só het Sibreena da Costa, die ma van die agtjarige Katelint, aan Maroela Media gesê nadat haar enigste dogter Dinsdag aan haar ernstige brandwonde beswyk het. Katelint en haar eenjarige boetie, Jayden, het erge brandwonde opgedoen toe hul ouerhuis in Ellisras deur vlamme verwoes is.

Albei die kinders is in die waakeenheid van die Makweng-hospitaal in Polokwane behandel, waar Katelint Dinsdag dood is. Jayden is steeds in die waakeenheid. Hulle driejarige boetie, Douw, is nie in die brand beseer nie.

Sibreena het Donderdag gesê daar is geen woorde om te beskryf hoe sy voel nie. “Ek voel heeltemal leeg. Ek mis haar so baie. Ek wil haar net vashou, haar soen en vir haar stories vertel. Ek wil vir haar musiek aansit en lag vir haar stories en skerp sêgoed. Hoe gaan ek aangaan sonder haar? Hoe gaan ek aan haar boeties verduidelik waar hulle sussie is?”

Sy vertel dat dit nou nog moeiliker is om vir Jayden in die waakeenheid te gaan kuier omdat dit elke keer ʼn herlewing van Katelint se dood is. “Al die masjiene en goed is presies soos dit was soos toe sy dood is. Dit is moeilik om daar te wees,” het sy gesê. “Ek sal ook nooit weer teruggaan na daardie huis [in Ellisras] toe nie. Ek kan nie. Daar is te veel slegte herinneringe nou daar.”

Sy het gesê ʼn ligpunt in dié stadium is dat Jayden geringe verbetering toon en dat dokters meen hy is buite gevaar. Jayden word steeds onder verdowing gehou, maar die swelling in sy gesig het grootliks gesak. Volgens Sibreena is dit hoogs waarskynlik dat hy in die toekoms veloorplantings sal nodig hê.

Sibreena het gesê sy sal Donderdag Katelint se liggaam gaan uitken, waarna die begrafnisondernemer haar sal kom haal en terugneem Middelburg toe. “Ek wil haar nie begrawe in dieselfde dorp waar sy seergekry het nie, daarom wil ek haar terugneem Middelburg toe waar sy grootgeword het en gelukkig was. Daar sal sy kan rus,” het ʼn emosionele Sibreena gesê.

“Ons gaan haar begrawe en nie veras nie, want ek wil nie hê sy moet ʼn tweede keer brand nie. Ek weet sy staan nou langs haar boetie en moedig hom aan om sterk te wees. Sy was nog altyd ʼn baie eerlike, reguit kind en sy sê nou reguit vir Jayden dat hy moet deurdruk, want ons almal hier het hom nodig. Ek weet sy is nou oukei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

GLORIA ·

Innige simpaie met die familie. Wil net weet hoe het die brand ontstaan , dits net so verskriklik om te weet dat 2 kinders baie erg gebrand het , en die ander een glad nie . Die mamma het ook niks oor gekom nie , duidelik was God se hande oor hulle . Maar sou dit nie wonderlik gewees het as hy albei kinders de hartseer kon gespaar het nie.

Anel ·

RIV ons Engeltjie…..sterkte aan almal wat agter bly. Die brand het ontstaan deur n kortsluiting in die dakwaaier en die kamer het aan die brand geslaan. Die mamma kon eerste die een kind uit die kamer kry en die oupa het toe die ander boetie gaan uit die kamer haal en vir mamma gegee en terug in die vlamme vir Kaitlint gaan haal. Die oupa, ma en stiefpa het ook gebrand. Die oupa en pa is in dieselfde hospitaal.

GLORIA ·

Dankie Anel . So hartseer dat een familie in rou gedompel is . Hoop die oupa en pa sterk vinnig aan.

tina ·

Liewe dierbare da Costa-familie. Ek en ek weet lesers van Maroela Media treur saam met julle. Ons gebed is dat die Here julle in hierdie smartlike tyd troos, toevou en deurdra, om hierdie verskriklike verlies te verwerk. Hy ken jul smarte, want Jesus self was bekend as ‘n Man van smarte. Ons bid sterkte vir julle en Jayden.

SNEL ·

Ek stem saam met Tina en baie sterkte vir julle, ons bid vir julle.

Odiegirl ·

Ai ai ek dink so baie aan julle sterkte voorentoe en weet Jesus sal julle dra deur die hartseer tyd.Julle is in my gebede.

Francois le Cochon ·

Ek wil graag kommentaar lewer, maar weet nie wat on te se^ nie. Die dogtertjie, Katelint, se foto bly in my gedagtes, en elke keer wat ek die fototjie in my gedagtes lees, traan my oe”.

faith ·

om n kind te verloor is ni maklik ni. n mens vergeet nooit jy moet net leer hoe om aan te gaan vir die ander en om saam met dit te leef. sterkte vir julle ons bid v jayden

Inge ·

Hoe verwerk ‘n mens ‘n kind se dood. Dit is verskriklik. Ek is regtig jammer dat julle deur hierdie pyn moet gaan, sterkte!

laurika ·

Ek wil net aan die Ouers se ek dink aan julle in my hart elke daggie,

Johann Hattingh ·

N mens is sprakeloos sy was soos ñ engel in die huis as ek daar gaan kuier het het sy my altyd om die been gegryp en gesè ek is baie lief vir oom. Sal jou nooit vergeet nie en sal ñ spesialis plekkie in my hart hè.
My tjom jys sterk Josè ons bid vir julle glo en vertrou dat julle vinnig sal herstel.

Jaques ·

Ai sit ek, n grootte man van naby die 40, nou met trane in my oe.
Sterkte aan die familie, God het n plan met alles, ongelukkig is dit vir ons as mense duister.
Rus in Vrede Meisiekind, en mag die ander volkome herstel in die flees en gees.

Magda Zelie ·

Ek glo ni enige woorde kan beskryf di seer wat jul gesin het ni.. Glo en vertrou op Ons God Hy is groot.. Hou jul in ons gebede elke dag sterkte met boetie dis n lang pad na herstel. Vader hou hierdie familie veilig in U hand. Amen.

ANRES ·

Dit is ongelooflik hartseer , dit ruk my elkekeer as ek die berigte sien ! Baie sterkte aan die familie. Pietersburgers bid ook vir julle .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.