In diepte: Moord op Monsieur steeds onder ANC se korrupsiemat

Argieffoto

Argieffoto

Ses jaar gelede, in Junie 2009, is die Belgies gebore Suid-Afrikaanse internasionale wapenhandelaar, Ivan Monsieur, deur twee sluipmoordenaars in polisie-uniforms in Midrand vermoor. Volgens goedgeplaaste bronne moes hy stilgemaak word want hy was ʼn fluitjieblaser wat geweier het om stil te bly oor die ongerymdhede in Suid-Afrika se internasionale wapenhandel. Ná die jarelange voetgesleep is ʼn verdagte verlede jaar in hegtenis geneem, maar net toe sy gewese vrou, Maggie Monsieur, se hoop opvlam dat reg en geregtigheid uiteindelik gaan geskied, is die man verlede maand uit die bloute vrygelaat en die saak teen hom teruggetrek.

Twee jaar gelede met haar dogter se mondigwording het sy vir De Wet Potgieter vertel hoe die gesin smag na afsluiting. Toe haar dogter verlede maand haar graad ontvang het, moes hulle hoor die verdagte het losgekom.

Hoewel daar reeds kort ná Monsieur se dood oorweldigende bewys was wie daarvoor verantwoordelik was, het invloedryke elemente hoog op in regeringskringe gesorg dat die ondersoek gekortwiek word. Afgesien daarvan dat die 56-jarige man geweier het om stil te bly oor die wapenskandaal was hy ook tydens sy dood as polisie-reservis besig met ondersoeke na motorkapings- en roofsindikate waarby ANC-kaders na bewering betrokke was.

Dit was in die tyd toe wyle Jackie Selebi nog kommissaris van polisie was. Een van die sleutelpersone wie se naam in Monsieur se ondersoeke opgeduik het was Selebi se omstrede provinsiale kommissaris van Mpumalanga, Africa Khumalo, wat ook intussen dood is (aan natuurlike oorsake).

Monsieur is langs ʼn stil pad in Midrand op ’n tipiese rampokkermanier tereggestel omdat hy geweier het om stil te bly. Hy was die besturende direkteur van New Generation Ammunition (NGA) wat sy wapenhandel-onderneming vanuit Centurion bedryf het. Op die dag van sy dood het twee mans in polisie-uniforms langs die pad gestaan en vir hom gewys het om af te trek. “Ivan was baie paraat en moes onmiddellik besef het dat alles nie pluis is nie,” het ʼn vriend van Monsieur aan Maroela Media gesê.

Hierdie verslaggewer is reeds vir etlike jare besig met ʼn ondersoek na Monsieur se vreemde dood as deel van ʼn wyer ondersoek na die bedrywighede van internasionale rampokkersindikate in Suid-Afrika. Dié ondersoek word tans voortgesit. As deel van die ondersoek is onderhoude met familielede van Monsieur, sy sakevennote, polisiebeamptes en sy voormalige reservis-kollegas gevoer. Weens die aard van die ondersoek het dié mense verkies om anoniem te bly uit vrees vir hul en hul naasbestaandes se lewens.

Toe die twee mans aanstap na sy donkerrooi Land Cruiser het Monsieur besef sy lewe is in gevaar. Hy het sy voertuig laat luier en sy Girsan-pistool uit die skede aan sy sy gehaal. Hy het daarin geslaag om 14 skote af te vuur en het een van sy aanvallers deur die lewer geskiet voordat hulle hom die doodskoot kon gee. Die gewonde man het by die linkeragterwiel van hulle voertuig neergeval terwyl hy sy magasyn leeg geskiet het. In die wilde skietgeveg wat losgebars het, het Monsieur daarin geslaag om die Corolla se agterruit flenters te skiet.

Monsieur se sluipmoordenaars het met ʼn ongemerkte wit Toyota Corolla met ʼn blou lig en ingeboude sirene gery. Die eerste skoot het hom op sy knieë gedwing, die tweede een was, soos met ʼn teregstelling in die rampokkerwêreld, die doodskoot deur die kop.

Hoewel sy aanvallers agterna in opvolgondersoeke deur ʼn private speurder en van Monsieur se polisievriende geïdentifiseer is, het die polisie tot onlangs niks gedoen om dit op te volg nie. Van die voor die hand liggende leidrade wat kort ná die moord opgevolg kon word, is:

  • ʼn Gewonde man is opgespoor waar hy by ʼn mediese sentrum behandel is, maar niemand het hom gaan ondervra nie.
  • Die gewonde man het baie bloed op die toneel verloor en dit was steeds vir weke daarna baie goed sigbaar langs die pad, maar niemand het monsters vir ʼn moontlike DNS-identifikasie van die gewonde man in die hospitaal gaan vergelyk nie. Die gewonde is deur die private ondersoekers as ʼn polisiebeampte geïdentifiseer.
  • Monsieur se Turks-vervaardigde Girsan 9 mm Parabellum-pistool is uniek omdat daar net 14 hiervan ingevoer is en die meeste daarvan aan die Lesotho-regering verkoop is. Toe iemand ses maande ná sy dood vir misdade in hegtenis geneem is met ʼn Girsan waarvan die reeksnommer afgevyl was, het die polisie niks gedoen om die vuurwapen ballisties te toets met die patroondoppies wat op Monsieur se moordtoneel in Midrand gekry was nie.
  • Niemand van die polisie het die moeite gedoen om uit te vind waarom daardie Toyota Corolla deur informante gesien is waar dit in ʼn private herstelwinkel in Tembisa herstel is en nie in die amptelike polisiegarage nie.

Monsieur, wat grade verwerf het in elektroniese sowel as nywerheidsingenieurswese, het in 2004 ʼn groot beroering veroorsaak toe hy reuse-onreëlmatighede in die toekenning van oortollige ammunisiekontrakte onthul het. Hy het toe ʼn brief aan die destydse hoof van aankope by Krygkor, Bruce Ramfolo, geskryf en gewaarsku dat die VSA se handelsmarkte die voorafgaande agt jaar toegegooi is met oortollige ammunisie wat uit die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se arsenale gekom het.

Martin Welz, redakteur van Noseweek, het reeds in 2005 die bestaan van dié verdoemende brief in sy tydskrif onthul.

Monsieur het in sy ondersoek op ʼn proses afgekom waar ʼn Duitse kontrakteur met noue bande met Krygkor op ʼn onwettige wyse en klaarblyklik met die hulp van korrupte senior amptenare van die wapenkorporasie ongewysigde ammunisie op die wêreldmark, en veral aan die VSA, gesmous het.

“Die meeste ammunisie is in die oorspronklike verpakking en nog geseël,” het Monsieur in sy brief aan Ramfolo geskryf. “Daar is vier kalibers: 5.56 mm (R4- en R5-ammunisie), 7.62 mm (R1-ammunisie), .303 (Lee Enfield) en 7.62 mm (AK-47-ammunisie).”

In sy brief het hy daarop gewys dat die voorwaardes vir die verkoop van militêre surplus bepaal dat alle ammunisie eers “gedemilitariseer” word deur die koper en dat dit nie herverkoop mag word in die oorspronklike formaat of verpakking nie. Volgens Monsieur se brief het Pretoria Metal Pressings (PMP), die ammunisie-vervaardigingsbeen van Denel, ʼn produksievermoë van ʼn miljoen patrone per dag. Hy het verder geskryf dat PMP tussen 5 miljoen tot 10 miljoen surpluspatrone in die “oorspronklike formaat (gemeng om dit te verdoesel as nuwe produksies)”, na ʼn groot wapenhandelaar in die VSA verskeep het. Hy noem die naam in sy brief.

January “Ché” Masilela, die voormalige sekretaris van verdediging, het ná Monsieur se brief die forensiese ondersoekers, First Consult, aangestel om, onder meer, dié beweerde ongerymdhede te ondersoek. Tien maande voor die moord op Monsieur het Masilela onder verdagte omstandighede grusaam doodgebrand toe sy motor op die hoofweg naby Bronkhorstspruit van die pad geloop en uitgebrand het. Hy het daarin geslaag om uit die motor te kruip, maar het langs die pad aan sy brandwonde beswyk.

Met First Consult se ondersoek, waarvan Maroela Media afskrifte het, is daar ontdek dat dit nie net surplusammunisie uit die SANW-arsenale was nie, maar dat daar ook Portugese, Israelse en Oostenrykse produkte was wat uit Suid-Afrika verskeep is. Daar was geen permitaansoeke ingedien vir die uitvoer en heruitvoer van buitelandse ammunisie nie, het First Consult in sy finale verslag hieroor bevind.

In sy brief aan Krygkor het Monsieur geskryf dat ʼn Amerikaanse invoerder sy maatskappy in 1997 genader het om surplus AK-47-patrone aan te koop. In daardie stadium was die vermoede dat daar 16 miljoen rondes ammunisie in die weermag se arsenale in Suid-Afrika geberg was.

“Toe skielik duik die bestaan van die Duitse aankoper uit die niet op met sy toegang tot al die wapentuigdepots, besig om groot hoeveelhede van die AK-47-patrone op te koop.”

Die Duitser is later geïdentifiseer en sy maatskappy wat in Switserland geregistreer is word in Monsieur se brief genoem. “En sommer oornag begin hy om miljoene patrone te koop en spotgoedkoop na die buiteland uit te voer.”

Volgens Monsieur was die meeste hiervan Chinees-vervaardigde patrone en het dié ou ammunisie uit  pantserkoeëls bestaan wat onwettig in Amerika is.

“█████ het aansienlike hoeveelhede van dié ammunisie in sy oorspronklike verpakking na die VSA verskeep, in weerwil met die Amerikaanse verbod op staalpunt-ammunisie,” het Monsieur geskryf.

First Consult het in sy bevindinge Monsieur se bedenkinge bevestig oor die ernstige ongerymdhede en aanbeveel dat ʼn amptelike ondersoek en die vervolging van top-Krygkor-amptenare ingestel word. Daar is destyds op hoë politieke vlak ingegryp, First Consult se dienste is beëindig, niks verder is aan die saak gedoen nie en die hele kwessie is stilweg onder die ANC se mat van korrupsie ingevee.

Die enigste ongevalle van hierdie multi-miljoen rand skandaal was Monsieur, die fluitjieblaser wat aan die hand van sy huurmoordenaars in ʼn verlate straat in Midrand langs groentelanderye gesterf het.

  • Die verdagte wie se DNS positief met monsters op die moordtoneel vergelyk het, het aangevoer dat hy gewond is in ʼn voorval wat na sy mening ʼn kapingspoging was. Hy het sy bewussyn verloor en eers in die hospitaal bygekom. Die staat het gevoel daar is nie voldoende bewyse dat die verdagte Monsieur geskiet het nie en die aanklaer het ná beraadslaging met die regter in sy kamers besluit om die saak terug te trek.

“Ek kan nie vir jou beskryf hoe gefrustreerd ek daar in die hof was nie,” het Maggie Monsieur aan Maroela Media gesê. Die polisie het nie op skriftelike navrae oor die aangeleentheid gereageer nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cathy Kotze ·

Dis goed dat die ANC se geheime al hoe meer na vore kom. Daar is lankal vrae oor waarvan Suid-Afrika nou eintlik deur die ANC “bevry” is.

Nog iets wat my al vir dekades pla, is die vlaag transito rooftogte kort nadat die ANC ontban is. Almal is met militêre presiesheid uitgevoer en die sekuriteitswagte wat die gepantserde geldwaens vergesel het, is gewoonlik summier tereggestel.

Niemand is ooit in hegtenis geneem nie en die geld is nooit gevind nie.

Dan is daar die kontroversie oor oud pres Mandela se minister van verdediging. As daar nou een man was vir wie ek bang was…..

Ferdi ·

Die is een saak wat soos n riller in n mafia fliek lyk , onder die anc bewind is daar nog baie wat ons nie eers van weet nie , die is net n baie klien puntjie van die ysberg . Daar gebeur nog elke dag dieselfde onmenslike goed in SA , dis net nou al so algemeen niemand sug meer as jy dit hoor of raak lees in die koerante nie .

Pieter ·

Ferdie, daar is honderde onopgeloste korrupsie sake waar ANC kaders betrokke by was, wat net onder die mat ingevee word en nooit weer van gehoor word nie.

DAAN LIKEWAAN ·

WAT VAN QWATRO KAMP IN EK DINK IN TANZANIE WAT NOG NOOIT VOLLEDIG ONDERSOEK IS NIE

John ·

Wat is nuut. Indien die SA gemeenskap die waarheid weet, sal daar nie ń enkele siel ń oog kan toemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.