Limpopo-selfmoord: Meisie was glo depressielyer

Mihandri Laboff. Foto: Facebook

Mihandri Laboff. Foto: Facebook

Die matriekmeisie van Mookgopong in Limpopo wat Maandagaand haarself in haar koshuiskamer gehang het, was glo ʼn depressielyer wat mediese en sielkundige behandeling ontvang het.

Mihandri Laboff (17), ʼn leerder aan die Hoërskool Hans Strijdom, se liggaam is omstreeks 18:45 deur haar kamermaat in hul koshuiskamer gevind. Sy het glo nie ʼn brief gelos nie.

George Klopper, die skoolhoof, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê die skool was bewus van haar depressie en het gesorg dat sy weekliks ʼn sielkundige sien. “In hierdie stadium is die redes [vir haar dood] onbekend en kan die skool hom nie daaroor uitlaat nie. Ná die voorval is sielkundige en pastorale hulp aan die leerders en ander betrokkenes verleen. Hierdie hulpverlening gaan voort en berading is steeds beskikbaar aan alle leerders en onderwysers,” het Kloppers gesê.

Intussen het kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, gesê ʼn geregtelike doodsondersoek sal gedoen word.

Magda Laboff, Mihandri se ma, het vroeg Dinsdagoggend haar hartseer in ʼn inskrywing op sosiale media uitgespreek: “My pragkind, ek gaan jou mis. Rus in vrede, liefie.”

Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag), is selfmoord onder tieners ʼn groot probleem. Meer as 20% van die land se tieners het al selfmoord oorweeg. Tieners tussen die ouderdomme van 15 en 19 is die grootste risikogroep.

Waarskuwingstekens sluit in verandering in gedrag, onttrekking van ander, verandering in eetgewoontes, ʼn abnormale obsessie met die dood of doodgaan, weggee van persoonlike besittings aan ander, buierigheid, ʼn gevoel van hopeloosheid, verandering in slaappatrone en tekens van depressie.

Indien jy of iemand wat jy ken selfmoordgedagtes het of depressief voel, kan SADAG se tolvryenommer 0800 567 567 geskakel word of jy kan ʼn SMS stuur na 31393. Die hulplyn is 365 dae van die jaar van 08:00 tot 20:00 beskikbaar. Besoek ook www.sadag.org vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eileen ·

Aai meisie jy was pragtig gewees! Ek hoop jy het rustigheid vir jou siel, dit was regtig so onnodig gewees. Sterkte aan almal wat sy agtergelaat het, mag julle ook rustigheid vind.

Eliza-beth ·

Baie, baie sterkte aan die ouers. Staan mekaar by, daar lê moeilike tye voor, maar nou moet julle mekaar onderskraag en bystaan.

Peet Schabort ·

Meisie, liewe meisie, waarom ? Sal ons ooit weet ?
Soos Eileen sê “so onnodig”. Waar kan ons help om ons jeug te beskerm ?
ASSEBLIEF as jy hier lees en dit oorweeg MOENIE MOENIE MOENIE MOENIE !!!!!!!!!!!!!
Daar is positiewe hulp. SELFMOORD is NIE die oplossing !!!!!!!!!!!
Pak jou probleme uit teenoor iemand wat net bereid is om te LUISTER.
Onthou dat jy uniek is in God se skepping. Voor jou en na jou is daar NIEMAND soos JY.
Is daar ‘n manier hoe mens kan help om te dra aan die juk van vandag se jeug ?
Ek glo so.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.