Nuwe vrystelling: Die Grootste Afrikaanse Liedjie-CD

Grootste Afrikaanse Liedjie Maroela MediaNuwe “Kinders van die Wind” en talle ander ou en nuwe treffers nou op een CD-versameling

ʼn Splinternuwe verwerking van Koos du Plessis se immergroen treffer, “Kinders van die Wind”, is maar een van die liedjies wat Afrikaanse musiekliefhebbers te wagte kan wees op die dubbel-CD Die Grootste Afrikaanse Liedjie wat hierdie week vrygestel word.

Dié CD, wat deur Universal Music vervaardig word, bevat 27 van die liedjies wat deur die Afrikaanse publiek aangewys is as hul gunstelinge in Maroela Media se veldtog Die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye. Dié veldtog, waartydens meer as 60 000 stemme uitgebring is, het ten doel gehad om die een liedjie wat alle Afrikaanssprekendes se hartsnare roer, te vind.

Van die ander liedjies wat luisteraars se hartsnare sal roer, is “Heimwee” (Mimi Coertse), “Blouberg se strand” (Laurika Rauch), “Ou ryperd” (Chris Blignaut), “Trein na Pretoria” (Die Briels), “Sproetjies” (Sias Reynecke), “De la Rey” (Bok van Blerk), “Pampoen” (Steve Hofmeyr), “Die Lappop” (Doris Brasch), “Karoonag” (Coenie de Villiers), “Al lê die berge nog so blou” (Johannes Kerkorrel) en “Liefling” (Gé Korsten).

Ter ere van die wenliedjie “Kinders van die Wind”, wat met die titel as die grootste Afrikaanse liedjie van alle tye weggestap het, het Devereaux van der Hoven en Juan Oosthuizen in samewerking met Universal en Maroela Media ʼn splinternuwe verwerking daarvan die lig laat sien – ʼn verwerking wat niks van die oorspronklike lied se bekoring verlore laat raak nie, maar wat mense met nuwe ore daarna sal laat luister. Kunstenaars soos Jannie Moolman, Anna Davel, Mathys Roets, Liesl du Toit, Ses Snare en CH2 het aan dié opname deelgeneem. Laurika Rauch se oorspronklike weergawe van die lied kan ook op die CD gehoor word.

Een van die uitvloeisels van die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-veldtog was die stigting van ʼn Kinders van die Wind-studiebeurs, wat jaarliks toegeken word aan ʼn tersiêre student wat musiek of kunste studeer. ʼn Gedeelte van die opbrengs van die verkoop van die CD word deur Maroela Media aan dié beurs, wat reeds die afgelope twee jaar toegeken is, geskenk. Die beursfonds word deur die Helpende Hand-beursfonds geadministreer.

Die CD Die Grootste Afrikaanse Liedjie is ʼn unieke kombinasie van goue oues en nuwe, raserige Afrikaanse musiek. Om elke Afrikaanse liedjie ʼn gelyke kans te gee om as wenner aangewys te word, kon die Afrikaanssprekende publiek liedjies in vyf kategorieë nomineer: Goue oues, Tydlose treffers, Populêre musiek, Raserige musiek en Kinderliedjies. In elke kategorie is vyf finaliste deur die publiek se stemme gekies, waaruit vyf kategoriewenners en uiteindelik die finale wenner aangewys is. Die liedjies op die CD is dus ʼn unieke kombinasie van goue oues en nuwe, raserige Afrikaanse musiek: ʼn liedjie soos “Stuur groete aan Mannetjies Roux” (Laurika Rauch) word gevolg deur Johannes Kerkorrel se “Sit dit af”; terwyl Prophet se liedjie “Houtkruis” gevolg word deur Van Coke Kartel se raserige weergawe van die liedjie “Dis ʼn land”.

Die Grootste Afrikaanse Liedjie is ʼn CD-versameling wat jou geensins sal verveel nie. Jy kan nie dié album deurluister sonder om jou hart te voel swel van trots oor die poësie en ritme wat Afrikaans kenmerk nie. Dit sal jou laat verlang, laat saamsing en laat dans – alles in die lekkerste Afrikaans.

Die versameling liedjies is soos volg:

CD1

  • LAURIKA RAUCH – KINDERS VAN DIE WIND Du Plessis (Incline House)
  • LUCAS MAREE – MILJOEN Maree (Incline House)
  • JOHANNES KERKORREL – AL LÊ DIE BERGE NOG SO BLOU Trad (Public Domain)
  • SIAS REINECKE – SPROETJIES Whiple / Van Tonder (EMI)
  • COENIE DE VILLIERS – KAROONAG De Villiers (Songwrights)
  • GROEP 2 – OUKRAALLIEDJIE Brown / De Villiers / De Villiers (EMI)
  • DIE BRIELS – TREIN NA PRETORIA Briel / Briel (Melody)
  • CHRIS BLIGNAUT – OU RYPERD Kennedy / Carr / Blignaut (Gallo)
  • GÉ KORSTEN – LIEFLING Maffay / Kunze / Toerien (Gallo)
  • LANCE JAMES – DANKIE Trad (MacVilla)
  • MIMI COERTSE – HEIMWEE Le Roux Marais / Van Bruggen (Boosey & Hawkes)
  • DAWIE COUZYN & DORIS BRASCH – DIE DAPPER MUIS Misheiker (EMI)
  • CARIKE KEUZENKAMP – LIEWE HEKSIE Vels (EMI)
  • DORIS BRASCH – DIE LAPPOP Misheiker (EMI)

CD2

  • STEVE HOFMEYR – PAMPOEN Hofmeyr (EMI)
  • BOK VAN BLERK – DE LA REY Vorster / Els / Van Blerk (Mozi)
  • LAURIKA RAUCH – STUUR GROETE AAN MANNETJIES ROUX Torr (MacVilla)
  • JOHANNES KERKORREL – SIT DIT AF Kerkorrel (Shifty)
  • KAREN ZOID – AFRIKANERS IS PLESIERIG Zoid (Samro)
  • JOHANNES KERKORREL – HILLBROW Kerkorrel (Shifty)
  • SONJA HERHOLDT – EK VERLANG NA JOU De Wet / Hamman (EMI)
  • HERBIE & SPENCE – HEIDI Bruhn / Weinzierl / Wagner / Venter (MacVilla)
  • PROPHET – HOUTKRUIS Van Der Merwe (MAR Gospel)
  • VAN COKE KARTEL – DIS ’N LAND Siegel / Meinunger / Stemmet / Van Coke (Gresham)
  • FOKOFPOLISIEKAR – EK SKYN HEILIG Fokofpolisiekar (Rhythm)
  • LAURIKA RAUCH – BLOUBERG SE STRAND Jurgens / Christen / Torr (CC)
  • VERSKEIE KUNSTENAARS – KINDERS VAN DIE WIND Jannie Moolman, Ses Snare (Blackie Swart, MD Greyling, Pieter Smith, Thean Kotze, Peter Hoven, Leon Ecroignard), CH2 (Corneille Hutton-Burger, Leon Gropp), Anna Davel, Mathys Roets, Liesl du Toit, Incline House (musiekregisseur: Devereaux van der Hoven en Juan Oosthuizen)

Die Grootste Afrikaanse Liedjie is hierdie week op die winkelrakke beskikbaar.  Besoek gerus jou naaste Musica.

Die CD word uitgegee deur Universal Music Africa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Janette ·

Al stem ek saam dat “Kinders van die Wind” een van ons beste Afrikaanse liedjies is, sal ek niks koop waarop fokofpolisiekar optree nie. “Die Lappop” en “Heidi” is hoogs vervelig en “Heimwee” wragtig te ouderwets om vandag nog te waardeer. Dis my persoonlike mening. Hou verby.

Jorge Costa ·

Ek bly in Portugal. Kan Ek deur die Amazon die CD koop? Dankie

Ansie Geldenhuys ·

ek mis nie ‘n letter in Maroela nie, hoop hy leef nog lank voort, vir ons plesier!

Ansie Geldenhuys ·

ek mis nie ‘n letter in Maroela nie, hoop hy leef nog lank voort, vir ons plesier!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.