Opsomming van pres. Jacob Zuma se 2015-staatsrede

Pres. Jacob Zuma tydens sy staatsrede. Foto: DoC

Pres. Jacob Zuma tydens sy staatsrede. Foto: DoC

Pres. Jacob Zuma se staatsrede vir 2015 het hoofsaaklik op die land se energiekrisis, grondhervorming en ekonomiese groei gefokus.

Zuma het heelwat later as beplan met sy staatsrede begin nadat EFF-LP’s eers uit die Nasionale Vergadering verwyder is en die DA se LP’s kort hierna opgestaan en uitgestap het.

Zuma het in sy staatsrede gesê 2015 is die jaar van die Vryheidsmanifes en “eenheid in aksie” om ekonomiese vryheid te bevorder. “Van vanjaar af moet skole ook die Afrika-unie se volkslied oefen, in voorbereiding vir die viering van Afrika-maand in Mei.”

Ekonomie

Zuma het eerstens op die ekonomie gefokus en gesê daar heers ʼn moeilike ekonomiese klimaat. “Die Internasionale Monetêre Fonds het hierdie week die BBP-groei vooruitskattings vir wêreldwye ekonomiese groei in 2015 afwaarts aangepas na 3,5%.

“Ons ambisie om ‘n groeiteiken van 5% teen 2019 te behaal is op die spel, as gevolg van die stadige groei wêreldwyd, sowel as binnelandse beperkings rakende onder andere energie, vaardighede, vervoer en logistiek.”

Zuma het gesê daar is sedert verlede jaar se staatsrede meer as 850 000 werksgeleenthede geskep. Zuma het tydens verlede jaar se staatsrede aangekondig dat die regering binne vyf jaar ses miljoen werksgeleenthede wil skep.

Zuma het ook ʼn negepunt-plan bekend gestel om ekonomiese groei te bevorder en werksgeleenthede te skep. Dit behels:

  • Die oplos van die energie-uitdaging;
  • Om nuwe lewe in landbou en die landbouverwerking se waardeketting te blaas;
  • Om die verdeling van minerale rykdom te bevorder of waarde daartoe by te voeg;
  • Die meer effektiewe implementering van ʼn industriële beleidsaksieplan wat ʼn groter impak het;
  • Die aanmoediging van beleggings in die private sektor;
  • Om konflik in die werkplek te modereer;
  • Om die potensiaal van klein- en medium sakeondernemings, koöperasies, townships en landelike ondernemings te ontsluit;
  • Staathervorming en die bevordering van staatsbeheerde maatskappye se rol, IKT-infrastruktuur of die uitrol van breëband, water, sanitasie en vervoerinfrastruktuur;
  • Operasie Phakisa wat gemik is op groei in die land se oseaan-ekonomie sowel as ander sektore.

Energie

Zuma het gesê dit is prioriteit om Eskom se finansies te stabiliseer en dat die kragvoorsiener R23 miljard gegee sal word om dit te doen. “[Dit] is ʼn struikelblok vir ekonomiese groei, en is ʼn groot ongerief vir almal in die land.” Volgens Zuma is dit een van die regering se hoofprioriteite om dié probleem te oorkom.

Grond

Zuma het gesê buitelanders sal nie toegelaat word om grond in Suid-Afrika te besit nie. Hy het gesê buitelanders sal wel in aanmerking kom vir langtermynlenings. “Die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit sal in die verband vanjaar by die parlement ingedien word. Grond het ʼn kritieke faktor geword om die onregte van die verlede reg te stel.”

Volgens die voorgestelde wetsontwerp sal daar ʼn plafon wees vir grond-eienaarskap, naamlik ʼn maksimum van 12 000 hektaar.

Mynbedryf

Zuma het verwys na sy staatsrede in 2014 waartydens hy die behoefte uitgespreek het om die mynbedryf te stabiliseer. Volgens Zuma het die implementering van ʼn aantal programme as deel van die raamwerk-ooreenkoms vir ’n volhoubare mynboubedryf, relatiewe stabiliteit en optimisme in die mynbedryf meegebring.

Water

Zuma het gesê die nasionale infrastruktuur-ontwikkelingsplan is steeds een van die sleuteldrywers vir werk en ʼn katalisator vir ekonomiese groei. “Water is ‘n kritieke hulpbron vir ekonomiese groei en ‘n beter lewe. Verskeie projekte wat gemik is op die verskaffing van water vir industriële en huishoudelike gebruik is regoor die land in die implementering- of beplanningsfases.”

Misdaad

Volgens Zuma moet daar harder gewerk word om misdaad te bestry en sodoende veiliger gemeenskappe te skep. “Ons maak vordering in die stryd teen misdade teen vroue en kinders. Die SAPD se eenheid vir gesinsgeweld-, kinderbeskerming en seksuele misdrywe het verseker dat 659 oortreders van misdade teen vroue en kinders lewenslank tronk toe gestuur is.”

Korrupsie

Zuma het gesê die stryd teen korrupsie duur voort en dat die teenkorrupsie inter-ministeriële komitee vordering maak. “Die regering het sewe teenkorrupsie-instellings in plek en sewentien stukke wetgewing wat bedoel is om korrupsie te bestry. Dit toon ‘n gesamentlike poging deur die regering om hierdie plaag in die land te breek.”

Renosterstropery

Volgens Zuma het die kabinet “kragtige en geïntegreerde ingrypings” aangeneem om renosterstropery in die land te bekamp. “Die ingrypings sluit in deurlopende gesamentlike operasies met buurlande, verbeterde intelligensie-insameling sowel as die verbetering van veiligheid in parke en provinsiale reservate waar renosters gehou word.”

Slim ID-kaarte

Zuma het aangekondig dat mense van vanjaar af in staat sal wees om by hul plaaslike bank aansoek te doen vir die nuwe slim ID-kaarte danksy ʼn vennootskap tussen die departement van binnelandse sake en sommige van die land se banke.

Afsluiting

Zuma het ter afsluiting gesê daar is die afgelope jaar baie bereik. “Ons glo dat ons negepunt-plan vir die ekonomie dié prestasies sal verstrek, en broodnodige groei tot gevolg sal hê. Gedurende die jaar van die Vryheidsmanifes en eenheid in aksie om ekonomiese vryheid te bevorder, wy ons onsself tot eenheid en harde werk om deurlopende sukses in ons pragtige land te verseker. Saam beweeg Suid-Afrika vorentoe! Ek dank u.”

Klik hier vir alle vorige berigte oor die staatsrede op Maroela Media.

Klik hier om pres. Zuma se volledige Engelse staatstrede te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Stomgeslaan ·

Ongelooflik! Ek het nie ‘n woord gehoor van wat julle hier geskryf het nie…;-)

Manie ·

Al wat verander het is dir Grondbeleid van buitrlanders en di ID kaarte wat by sekere bamke verkry kan word (ons weet nog nie wie nie) So wat is nuus!!

THEA SWART ·

gelukkig het hy darm nie gese hoe lank dit gaan neem om hierdie planne alles te laat realiseer nie, gelukkig kan hy aan ‘n ander plan dink voor volgende jaar se staatsrede hoekom dit wat hy hier belowe het nie nagekom is nie –

charles ·

Daar is soveel werk geskep maar is nie n patch teen almal wat retrench is nie Mnr Zuma en dan is dit nie net blank nie Nee alle kleur sit sonder werk, water en krag en kos dan word die wat probeer nog by die roborts en langs die pad toegesluit en raai wat ons moet vir die tronk betaal want waar kry hulle nou geld vir boete, ek wonder hoe gaan ons klein kinders all race gaan oorleef in so land

Malinda ·

So waar as vet glo hy wragtig homself. Ek glo nie eers hy weet wat hy gese het nie.

Barbara ·

En buiten dat hy nie weet wat hy gesê het nie, het hy ook nie gesê hoe gaan hy prakties hierdie airy fairy idees van hom in plek sit om dit actually deur te voer nie ????

Chris Erasmus ·

Die Stand van die Nasie is ‘n herhaling van elke jaar se toespraak wat die normale retoriek bevat maar op ‘n ander manier aangebied word. Dit is die geykte populistiese aanhalings en woordspelings wat geuiter word en as Stand van die Nasie toespraak aangebied word.

Barbara ·

Hy sê net hoeveel werks geleenthede is geskep maar niks word gesê oor hoeveel het hul werk verloor in 2014 nie?????????????????????? Ek is seker as ‘n mens na beide kyk dan lyk die prentjie nie so rooskleurig as wat hy wil voor gee nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.