Oscar Pistorius: Wat is korrektiewe toesig?

oscar-pistorius

Oscar Pistorius op 21 Oktober 2014 in die Pretoriase hooggeregshof tydens vonnisverrigtinge Foto: Themba Hadebe/AP/Pool

Oscar Pistorius word volgende week op korrektiewe toesig vrygelaat. Maar wat presies behels korrektiewe toesig?

Die departement van korrektiewe dienste het bevestig dat Pistorius Dinsdag uit die Kgosi Mampuru II-gevangenis vrygelaat sal word. Sy paroolvoorwaardes sal onder meer behels dat hy voortgaan met psigoterapie en dat hy nie ʼn vuurwapen mag besit nie.

Wat is korrektiewe toesig?

Prof. Annette van der Merwe van die Departement Prosesreg aan die Universiteit van Pretoria het aan Maroela Media gesê die doel van korrektiewe toesig is rehabilitasie. “Daar word van die oortreder verwag om selfondersoek te doen en as mens te groei.” Sy het gesê korrektiewe toesig is eers in die vroeë 90’s as straf in Suid-Afrika ingestel.

“Dit is ʼn baie moderne benadering en probeer wegbeweeg van die idee dat tronkstraf die enigste manier is om verkeerde gedrag te verander. Die appèlhof het al in ʼn uitspraak gesê dit is nie ʼn ligte straf nie,” het Van der Merwe gesê.

Daar is sekere algemene voorwaardes wat kan geld as iemand onder korrektiewe toesig is. “Dit hang af hoe dit gestruktureer is en kan minder of meer streng wees.” Volgens Van der Merwe is daar hoofsaaklik vier hoofkomponente van korrektiewe toesig, naamlik huisarres, gemeenskapsdiens, lewensvaardighedeprogramme en monitering.

Onder huisarres sal ʼn oortreder gewoonlik ʼn sekere aantal ure vir beweging toegelaat word. “Die oortreder kan gewoonlik gaan werk, basiese inkopies doen en kerk toe gaan. Dit beteken nie hy of sy kan vanaand saam met vriende uitgaan nie. Hulle moet sekere tye by die huis wees.”

Volgens Van der Merwe is daar al dikwels kritiek uitgespreek oor korrektiewe toesig weens onder meer ʼn gebrek aan personeel, maar volgens haar is dit nie ʼn ligte straf nie. Sy het gesê in Pistorius se geval sal ʼn korrektiewe toesigbeampte gereeld oor sy skouer loer. “Alle oë gaan op hom en die beamptes wees. In ander gevalle kan iemand moontlik deur die krake val, maar dit is ʼn hoëprofielsaak dié.”

As ’n persoon van die voorwaardes verbreek, kan hy of sy moontlik ʼn waarskuwing kry, beveel word om weer voor die paroolraad te verskyn of selfs weer in hegtenis geneem word.

Daar is sekere algemene voorwaardes wat kan geld as iemand onder korrektiewe toesig is. Dit sluit in:

  • huisarres;
  • gemeenskapsdiens;
  • die persoon mag werk soek of waar moontlik indiensneming hervat;
  • vergoeding betaal aan die slagoffers;
  • deelneem aan behandelings-, ontwikkelings- en ondersteuningsprogramme;
  • deelneem aan bemiddeling en versoening tussen die slagoffer en die oortreder;
  • kan beperk word tot ʼn sekere landdrosdistrik;
  • moet ʼn vaste woonadres hê;
  • mag nie alkohol of dwelms gebruik nie;
  • mag nie weer ʼn misdaad pleeg nie;
  • kan verbied word om spesifieke plekke te besoek; met spesifieke persone in verbinding te tree of hulle te dreig; en
  • is onderhewig aan monitering.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Oscar Pistorius op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Johnnie ·

Korrektiewe toesig is vir enige gevangene die beste ding wat kan gebeur, want dan is hy of sy uit daardie vrot vuil gevangenis waar tot die rotte siektes kan optel.

Manie ·

Ek weet nie of Oscar skuldig is of nie maar is bly geregtigheid het nou geskiet vir die man met sy parool.

karlien ·

Geskiet? Die enigste geskiet wat hier plaasgevind het was toe Oscar Reeva geskiet het..

Ghost ·

Hy kom met moord weg. Hy kan bly wees dit was niemy dogter nie want dan sou hy virseker heeltyd oor sy skouer moes loer.

NELIA MEYER ·

Ons almal wie oordele, op en aanmerkings maak is tog so verkeerd. Wat leer die Bybel ons….. en die grootste hiervan is Liefde…… pleks bid en dank ons ons Vader vir ons seeninge talente gawes en geleenthede en wees lief vir mekaar soos Jesus dit bedoel het maar nee ons skop liewer ons medemens terwyl hy le. Of hy skuldig of onskuldig is die straf wat hy kry en reeds gekry het om elke dag met homself saam te leef en alles wat hy gehad het reeds verloor het erger as wat ons kan dink.

Sterkte Oscar

ELAINE ·

As dit enige een was wat die daad gedoen het en hy of sy vra die Here om vergifnis sal die Here hom of haar vergewe ek het ook my kind verloor en ek het geleer die lewe gaan nie aan indien ek kan vergewe nie As ons Here kan vergewe kan ons ook die tyd sal wel ook aanbreek vir die mensdom om te vergewe en nie net te oordeel nie kon enige een gewees het sou dit dan so in die koerante gewees het?

Yvonne ·

As dit is wat huisarres beteken, is ek ook onder huisarres. Ek is ook net by die huis, werk of kerk en ‘n vinnige stop by die winkel. Ai ek was ‘n naught girl :'(

Francois ·

Omdat Oscar beroemd is, word al sy doen en late hier en oral gepost. Sy parool, wat en hoe dit gaan werk, ens. Almal maak ‘n bohaai oor hy nou op parool vrygelaat word.

Ek is bly hy kom uit op parool!! Hy verdien dit.

Maar dink bietjie aan al die honderde wat daagliks op parool vrygelaat word, vir soortgelyke en nog erger oortredings. Ons hoor NIKS van hulle nie..hoekom? Hulle is nie beroemd nie!

So moet nie net altyd Oscar afkraak en slegsê nie. Dink bietjie hoeveel ander vas vandag vrygelaat op parool en pleeg net more weer dieselfde daad.

Piet ·

Jip.
So gebeur dit wanneer iemand wat op ‘n keer beroemd was, nou berug is, omdat hy ‘n ander mens – pragtige jong vrou – dood geskiet het.

Casper Minnaar ·

Aan God se liefde is daar geen einde nie PSALM 136 so ook God se vergifnis aan ons nie .Ons het n liefhebende God wat ons alles vergewe

Marianne ·

8 Jaar vir moord weens vuil wors en 10 maande vir moord want jy is OSCAR!!!! Verduidelik asb aan my die logieka. Reeva is vir altyd ontneem en lewe in herinneringe wat vervaag. Oscar gaan huis toe… waar is die reg en geregtigheid nou heen? Nee hy mi

Maryna ·

Marianne, jy slaan die spyker so op sy kop! Ek stem 100% saam! Wat is dan die verskil tussen moord en moord?

sarie van heerden ·

Bly Oscar kom uit op parool na ‘n liefdevolle gesin wat tenspyte van hul welstand nog altyd ‘n lae profiel gehou het en Oscar het nooit lelike stories rondom sy naam gehad nie. Ook tenspyte van baie moeilike kinderjare.

BUSFARK VAN PLETSEN ·

Sarie dankie dat jy altyd die goeie raaksien daar is so baie kla kouse en wat altyd negatief is

erin ·

Ek kan net se ek is baie bly dit was nie my dogter wat doodgeskiet is nie. Ek sou wou sien dat as my dogter by haar minnaar is hy sal sorg dat hy haar ten alle tye beskerm. Hoekom kon hy nie eerste aan haar veiligheid dink en haar waarsku , wakker maak en help om te vlug nie? As is verbrande hout , Reeva sal nooit die voorreg he om n gesin te he nie en Oscar sal vir die res van sy lewe berou he oor hoe hy die situasie hanteer het as n jong man.

Ansie ·

Elkeen is seker geregtig op sy eie mening. Ek huil dan maar saam Erin want hy het moord gepleeg maar omdat hy OSCAR is sit die arme man net een jaartjie! (Nie ‘n Oscar fan nie)!

Ansie ·

Dink as dit julle dogter was so julle ‘n ander deuntjie gesing het. As dit my dogter was sou ek hom nooit ooit kon vergewe nie. Ek doen dit in elk geval nie. Hy het nie sy straf gekry wat hy moes nie. Mense wat dalk kos steel om vir hulle honger kinders te sorg kry langer tronkstraf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.