Pa van Pretoria tydens terroriste-aanval dood

Jaco en Carina Janse van Rensburg. Foto: Facebook

Jaco en Carina Janse van Rensburg. Foto: Facebook

ʼn Pa van Pretoria is een van die mense wat Vrydag tydens die 20-uur lange beleëring in Mali dood is.

Jaco Janse van Rensburg (38) is dood toe vermeende terroriste weermag-barakke en hotelle in sentrale Sévaré, naby Mopti, bestorm het met vuurwapens en ploftoestelle. Cobus Smal, Janse van Rensburg se swaer, het uit Zambië aan Maroela Media bevestig dat sy swaer dood is.

“Ons het gister heeldag met Jaco kontak gehad en hy het vir ons gesê hulle word aangeval. Ons kon deur die dag op whatsapp met hom kommunikeer, maar so 20:10 het sy selfoon afgegaan en toe het ons nie weer van hom gehoor nie,” het hy gesê. “Die departement van internasionale betrekkinge het ons vandag [Saterdag] om 12:00 laat weet hy is dood.”

Volgens Smal is dit nie in hierdie stadium duidelik presies hoe Janse van Rensburg dood is nie. Janse van Rensburg was al sedert Desember verlede jaar in Mali waar hy as brandweerman vir die Verenigde Nasies (VN) gewerk het. Hy, sy vrou, Carina, en hul vier kinders woon in Booysens, Pretoria. Die egpaar het ʼn tweeling van 13 jaar oud, ʼn dogter van 14 en ʼn seun van 21.

“Ons weet nog baie min van wat gebeur het. Dit is baie sleg. Jaco se ouers was in Ellisras toe hulle die nuus gekry het, maar hulle is nou op pad terug Pretoria toe om sy vrou te ondersteun,” het Smal gesê.

Smal is ook op pad terug Suid-Afrika toe en het gesê sodra hy terug in die land is, sal hulle begin reëlings tref om Janse van Rensburg se liggaam terug te bring Suid-Afrika toe.

Die geweld in Mali het in 2012 begin toe Tuareg-separatiste ʼn rebellie teen die staat geloods het toe hulle onafhanklikheid geëis het. Hulle is deur Islamitiese groepe, insluitend Al-Kaïda, ondersteun. Die afgelope paar maande het sporadiese aanvalle al hoe meer in die suide en sentrale dele van die land plaasgevind waar Franse en VN-teenwoordigheid beperk is.

Die finale sterftesyfer ná Vrydag se aanval is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jackie ·

Ja, en so word ons mans in die buiteland afgemaai oor hulle nie in ons eie land kan werk nie. Velle mos wit.

Wilmarie ·

Hel,dit is verskriklik! Baie Sterkte aan sy vrou, kinders en sy familie.

Dave ·

Lees Jackie se kommentaar – as jy vir die DA stem dan het jy ‘n aandeel daarin want jy stem mos daarvoor dat bevoegde blankes in die buiteland moet gaan werk soek.

Sollie ·

Ja-nee Dave waaaar kom jy nou alweer aan jou twak? Sterkte vir heirdie familie.

Ane ·

My innige simpatie en diepste liefde aan sy familie.
Dit is hartverskeurend dat so mooi jong man in die buiteland moes gaan werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.