Pta-vrou sterf in kruisvuur tussen polisie, rowers

Die vrou wat noodlottig gewond is in die kruisvuur. Foto: Verskaf

Die vrou wat noodlottig gewond is in die kruisvuur. Foto: Verskaf

ʼn Hawelose vrou, slegs bekend as Charlene, van Pretoria is Maandag langs haar man, Jaco, in Pretoria se Moot-gebied doodgeskiet toe ʼn oor-en-weer-skietery tussen die polisie en drie vermeende rowers uitgebreek het.

Konst. Tumisang Moloto, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die rowers het omstreeks 09:30 die eienaar van ʼn drankwinkel in Steve Bikoweg oorval terwyl hy nog in sy motor gesit het.

“Twee van die rowers het die eienaar in sy bolyf gewond en ʼn onbekende hoeveelheid kontant gesteel voordat hulle in hul wegkomvoertuig, ʼn silwer Honda Ballada, in ʼn westelike rigting weggejaag het,” het Moloto gesê.

Pierre Bezuidenhout, voorsitter van Wonderboompoort se sektor 2-gemeenskappolisiëringforum, het aan Maroela Media gesê twee polisiebeamptes van die Wonderboompoort-polisiestasie het roetine patrollie in die omgewing gedoen toe hulle opgemerk het dat ʼn silwer Honda oor ʼn stopstraat jaag sonder om stil te hou. “Hulle het besluit om die voertuig agterna te sit, nog voordat hulle glo geweet het die insittendes was pas by die rooftog betrokke,” het Bezuidenhout gesê.

“Die verdagtes het in Smooklaan agtergekom hulle word agtervolg. Hulle het ʼn effense voorsprong gehad en het by die kruising van Smooklaan en Fred Nicholsonstraat om ʼn blinde draai stilgehou, uit hul voertuig geklim en die polisiebeamptes ingewag.”

Die verdagtes het op die polisie losgebrand toe hulle by die kruising aangekom het. Die polisie het terug geskiet.

Die 40-jarige vrou en haar man het in daardie stadium langs die pad geloop. “Hulle was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd.” Die vrou is noodlottog in die kruisvuur gewond. Sy is op die toneel dood verklaar. Haar man is nie beseer nie. Die paartjie is glo haweloos en het saans êrens in die omgewing geslaap.

“Die verdagtes het daarna terug in hul motor gespring, in ʼn westelike rigting weggejaag en ontsnap,” het Bezuidenhout bygevoeg. “Die polisiebeamptes het nie verder agter hulle aangery nie, omdat hulle die gewonde vrou bygestaan het.”

Die motor wat die rowers gebruik het, is later verlate in die Hercules, in die weste van die stad, opgespoor. Daar was bloed in die voertuig.

“Die polisie het beslag gelê op hul motor en die forensiese eenheid fynkam dit vir leidrade,” het Moloto gesê.

Dit is nie tans bekend of die vrou deur die verdagtes of die polisie geskiet is nie. Dit sal deur verdere ondersoek bepaal word.

Die polisie wou nog nie die naam van die vrou bekendmaak nie, omdat hulle nie seker is of al haar naasbestaandes van haar dood in kennis gestel is nie. Bezuidenhout het gesê hulle het vir Jaco verblyf by ʼn huis vir haweloses aangebied, maar hy het nie van die aanbod gebruik gemaak nie.

Moloto het gesê die eienaar van die drankwinkel is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling en is glo in ʼn stabiele toestand.

Die Wonderboompoort-polisie ondersoek ʼn saak van moord, poging tot moord en gewapende roof.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Elmarie Linde, DA wyksraadslid van die gebied, het sake-eienaars in die omgewing gewaarsku om ter alle tye paraat te wees, veral as hulle met ʼn groot hoeveelheid geld op pad is na banke. Sy het haar medelye teenoor die vrou se familie en vriende uitgespreek en gesê sy hoop geregtigheid sal gou geskied.

Die gemeenskap, polisie en ander mense wat Maandag by die toneel betrokke was, het Dinsdag uit eerbied ʼn kruis vir die vrou opgerig op die plek waar sy geskiet is.

Lees die opvolgberig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

KarooKlong ·

Weereens ‘n bewys dat die polisie dringend skiet oefening nodig het.

Baie mooi gebaar deur die betrokkenes om die kruis op te rig.
Medelye aan Jaco met die groot verlies.

francois ·

Die polisie beamptes wat betrokke was is van die beste in ons omgewing en hulle gaan skiet gereeld so moenie net aannamings maak nie wat gan jy doen as daar op jou geskiet word gan jy hulle vra asb moenie skiet nie? Ek is ook jammer oor die lewe wat geneem is.

KarooKlong ·

francois, ek neem aan jy is die skakel beampte van die SAPD dat jy nou weet dat die polisie gereeld gaan skiet oefeninge doen of is dit jou “aannamings”.
Die Vryburger het gister berig: Polisie skiet onskuldige vrou.
Sover ek gelees het is die rowers ongedeerd in die heen en weer skietery. Hiervan (onder andere) my afleiding.
As daar op my geskiet word, skiet ek sonder vrae vra terug. Soos dit my reg is.

Jakes ·

Ja-nee Karoo Klong, ek stem ook nie met jou saam nie. Die rowers het volgens die berig die polisie ingewag om die draai, en op hulle losgebrand. Jy kan maar (sonder om vrae te vra) in daardie omstandighede probeer om kalm en beheersd terug te skiet.. Duidelik was jy nog nooit in so ‘n situasie nie! Dit is BAIE jammer wat met hierdie omstander(s) gebeur het. Om vingers te wys sonder dat jy eens al die feite het help niks.

Peet Schabort ·

‘n Lewe bly en is ‘n lewe wat nou weg is. Help my asb. reg met die vlgde:
Gelukkig is dit nie lede van die publiek wat die skietwerk sommer so op straat gedoen het. Agterna sou daar mos nou baie tyd in die hof gewees het met “Kon jy nie dalk so of so gemaak het”.
“Wees eerlik, kon jy nie dalk minder geweld gebruik het al is daar op jou geskiet”.
“Daar was seer sekerlik tyd om te kyk of daar nie dalk onskuldiges in die omgewing is/was”.
“Het jy ‘n waarskuwingskoot geskiet”.
Daar is gewoonlik agterna baie tyd om die gebeure ordentlik in oënskou te neem.
Of, is ek toetentaal verkeerd?

Asjas ·

Dis vreeslik hartseer. Sal die man darem sy vrou kan begrawe (met geen inkomste)? Waar begrawe jy ‘n hawelose persoon?? Die afsterwe van ‘n geliefde is altyd hartseer, maar wat maak jy as daar nie geld is vir ‘n behoorlike afskeid nie … ?

AJ ·

@Karooklong Raak eerder ingelig as om net aannames te maak en te kritiseer. Wonder of jy al in ‘n skietgeveg betrokke was.
@PeetSchabort, Polisie lede kom nie makliker weg om op verdagtes te skiet nie, inteendeel, hul optrede word strenger beoordeel wanneer hul skiet as wanneer dit ‘n lid van die publiek was.

KarooKlong ·

AJ, Ek twyfel of jy sodanig meer ingelig is as ek en verstaan nie hoekom jy my regmatige mening kritiseer nie. Ek was wel al in vele skietvoorvalle. Was in die mag toe dit nog ‘n eer was om ‘n Polisieman te wees.

lorayne ·

Dankie Francois en AJ! Ek stem 100% saam, die Blou span in die Moot area is die BESTE! Wonderboompoort SAPD loop nog altyd die ekstra myl vir die Publiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.