Rower in mislukte Pta-huisroof doodgeskiet, egpaar gewond

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

ʼn Inwoner van Lyttelton in Centurion het Maandagaand sy gesin teen vier aanvallers tydens ʼn gepoogde huisroof beskerm, maar is kritiek gewond in die voorval.

Ao. Dave Miller, polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê vier verdagtes het omstreeks 21:00 op die huis toegeslaan. Die huiseienaar, in sy 40’s, was tuis saam met sy vrou en twee laerskoolkinders.

“Hulle het toegang tot die huis bekom en is in die huis deur die gewapende eienaar verras. ʼn Verdagte is in die huis noodlottig gewond, maar die man is in sy bors getref. Sy vrou is ook in die skouer gewond. Die ander drie verdagtes het gevlug. Twee van hulle is kort daarna deur die gemeenskap en plaaslike veiligheidsdienste aangekeer en in hegtenis geneem,” het Miller gesê.

Volgens Loot van Dyk, voorsitter van Lyttelton Crime Stop-buurtwag wie se patrolleerders binne ʼn minuut op die toneel was nadat alarm gemaak is, is die man in ʼn kritieke toestand in die huis aangetref. Die vrou se toestand was stabiel.

“Ons beraders het dadelik die egpaar se kinders uit die huis begelei en buite in ʼn voertuig veilig gehou totdat hul familielede opgedaag het om na hulle om te sien,” het Van Dyk gesê.

Paramedici en die polisie is ontbied. Die man en vrou is na die Unitas-hospitaal gehaas vir behandeling.

Van Dyk het Dinsdagoggend van die slagoffer se pa verneem dat hy onder verdowing in die trauma-eenheid van die hospitaal is. Sy toestand is steeds kritiek. Die vrou is ook steeds in die hospitaal. Haar toestand is bevredigend.

Hy het gesê die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is, is binne minute ná die voorval ʼn blok vanaf die toneel aangekeer.

Volgens Miller kon die vierde verdagte daarin slaag om te ontsnap en is steeds soek. Die polisie het ook tydens die voorval op ʼn ongelisensieerde vuurwapen beslag gelê.

Die twee verdagtes moet binnekort in die hof verskyn waar hulle teregstaan op aanklagte van poging tot huisroof, poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Van Dyk het veral Lyttelton se sektor 2 GPF-patrolleerders, bestaande uit Lyttelton Crime Stop, Lytcom en KROC, asook Orange Fox Security, Monitor Net, Inyathi Protection Service, Orange Fox Medical Response, Emer-G-Med, ER24, Netcare 911 en die polisie bedank vir hul spoedige optrede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Tascha ·

Hoop die eienaar oorleef die aanval hy was beslis ‘n held! Méér van die skurke moet so op hul ken begin kyk ons is moeg om in vrees te lewe veral met die regering wat niks daadwerklik aan die misdaad in hierdie land wil doen nie!

Johan ·

Dis hoekom mens ‘n vuurwapen moet he en weet hoe om dit te gebruik. Goed gedaan! Jammer dat hy ook gewond is….Sterkte vir die familie.

Riana ·

Nee waar sal ons regering iets doen. Hulle is meer gekonsentreer op ander lande se behoeftes en pyn en elende as sy eie mense. Mens raak regtig moeg hiervoor wonder of hy weet hoeveel moorde vind op n dag.
Iets moet gedoen word dink net aan die kinders wat so iets moet aanskou en deurgaan.

Knersus D ·

My gebede is met die huiseienaar en sy vrou. Sterkte vir die kinders en die familie.
Goed gedoen meneer, en God help diegene wat hulle self help.

Griki ·

Ek bid vir die egpaar se spoedige, volkome herstel. Sterkte!

Johannes ·

En nou vra mense nog waarom ons wapens nodig het? Goeie voorbeeld. Ons bid vir die man dat hy ten volle sal herstel. welgedaan man!

scalla ·

Knap gedaan, dink mos hul kan maak soos hulle wil, sterkte aan jul huisgesin, n wapen in n kluis is nikswerd nie, net jammer die ander twee het ook nie n hou gekry nie.

Annieka ·

Ons GPF en plaaslike sekurteit is werklik goud werd vir ons gemeenskap. Dankie LCS

Gawie Le Roux ·

Die mense wat geskiet is, is my bure. Dis sleg. Baie sleg.

Trots Afrikaans ·

Ek wil net vra, is daar enige Afrikaanse buurtwagte want die name klink vir my so bietjie Anglo-Yank. Amper asof dit in New York of South Hampton gebeur het.

But in any case, well done chaps….

Annieka ·

Daar is Engelse lede ook in die gemeenskap so die naam is Lyttelton Crime Stop. Lyttelton is die dorp se naam in Centurion. KROC – Kloofsig Radio On Call is die die buurtwag in Kloofsig in Centurion en die res is plaaslike sekuriteits maatskapye in Centurion. Die Buurtwag is nie Engels of Afrikaans nie. Dit is ‘n gemeenskap wat saam staan om krimenele te bestry en ons almal se blyplek veilig te hou.

VickusCronje ·

Die taal wat ons praat moet nou die minste van jou bekommernis wees. Bewapen jou self sodat jy jou gesin kan beskerm, in afrikaans of engels

RSA ·

Wa sou gebeur het as hierdie man nie n wapen gehad het nie?
Hierdie verdomde regering doen niks om ons te beskerm nie

Cyntelle ·

Hy’s n vriend van my man en ons bid vir hom en sy vrou vir n volle herstel. Dis baie hartseer.

Flip ·

Jammer om te hoor ons bid julle alle sterke toe.

Ons is ook in Lytellton wat is die adres wil net weet as daar hulp nodig is
van enige aard.

BUSFARK VAN PLETSEN ·

Dis erg daar s nou huis aanvalle of huisrooftogte niemand is meer veilig nie Sterkte aan die gesin wat aangefal is ons dink aan julle

Franje van Spanje ·

Well done! Ek bid vir volkome herstel. Sommer gou my wapen ook uit die kluis gehaal…. My pa het my mooi geleer.

Johann Marx ·

Daar is soveel mense wat wonder wat ‘n mens kan doen aan hierdie situasie. Hier is ‘n voorstel: Die burgerregte organisasie Afriforum moet die Menseregte Kommissie vra of hierdie slagoffers se menseregte geskend is. Indien JA, gaan lees die konstitusie. Seksie 184.2(b) sê die Menseregte Kommissie het alles wat nodig is, en is verplig om mense wie se regte geskend is by te staan om restitusie en kompensasie te bekom. Aangesien hulle nie ‘n “vermoorde” kan terug bring nie, behoort restitusie en kompensasie in hierdie geval die volgende te wees: Nie een van die naasbestaandes van ‘n vermoorde persoon behoort ooit weer enige sent belasting aan die regering (wie hulle gefaal het om die basiese reg tot veiligheid en sekuriteit te verskaf) te betaal nie. As die regering ons belasting en boedelbelasting wil hê, behoort hulle ons aan die lewe te hou totdat ons aan natuurlike oorsake aan die einde van ons lewens kom. Indien ons vermoor word, het hulle ook geen reg op ons boedelbelasting nie. Op die oomblik genereer misdaad, die vrees daarvoor, en die herstelkoste daarna, miljarde Rande vir die regering.

Ludwig ·

Knap geskiet! Ons bid vir die huiseienaar en sy vrou se herstel, asook ir hul kinders wat die trauma moet verwerk. Selfs hier op ons ou piepklein dorpie het ons nou ‘n Buurtwag gestig, en binne ‘n week was hier al ‘n verbetering op die veiligheidstoneel. Dankie vir Afriforum dat hy in hierdie verband die leidinggee.

Dee ·

Die polisieman het gesê dat 4 verdagtes op die huis toegeslaan het. Dit word egter nie gesê waarvan hulle verdink word nie en of hulle reeds onder verdenking was toe hulle op die huis toegeslaan het nie.

Hannie ·

baie dankie aan Johan Marx vir jou sinvolle skrywe, dit beteken baie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.