Rusie by Roodepoort-skool: Dept. ontken betrokkenheid

Roodepoort Primary School. Foto: Google/maps

Roodepoort Primary School. Foto: Google/maps

Die Gautengse departement van onderwys het ontken dat een van sy beamptes by ʼn onderonsie by Roodepoort Primary School in Johannesburg betrokke was waartydens twee ouers in hegtenis geneem is.

Maroela Media het Woensdag berig twee ouers is in hegtenis geneem nadat die ma na bewering geweier het om die besoekersregister te teken en toe ʼn vuurwapen op ʼn veiligheidswag gerig het. ʼn Ooggetuie het egter beweer die ouers het ʼn klaskamer besoek toe ʼn beampte van die onderwysdepartement opgedaag het en die pa gestamp het. Dit het glo die onderonsie laat ontstaan.

Phumla Sekhonyane, woordvoerder van die departement, het hierdie weergawe van die gebeure ontken. “Die egpaar het die skool besoek en aangedring om die skoolhoof te sien. Hulle het geweier om die besoekersregister te teken of deur die veiligheidswagte deursoek te word. Die veiligheidswag het hulle toe na die skoolhoof se kantoor vergesel, maar op pad na die kantoor het die egpaar besluit om eerder ʼn klaskamer te besoek. Dít is toe die onderonsie ontstaan het,” het Sekhonyane gesê.

“Tydens die struweling het die vrou ʼn vuurwapen uitgepluk en op die veiligheidswag gerig. Die polisie is ontbied en die egpaar is op die plek in hegtenis geneem.”

Sekhonyane het gesê die departement se distriksbeampte was wel op die skoolterrein gedurende die voorval, maar nie self daarby betrokke nie.

Sy het verduidelik dat die departement die veiligheidswagte op die terrein geplaas het na aanleiding van die gewelddadige gebeure die afgelope paar maande by die skool. In die mees onlangse voorval is die adjunkhoof se motor Maandag met ʼn petrolbom gegooi.

Sy het egter ontken dat die veiligheidswagte met gewere tussen die kinders rondloop en dat sommige kinders bang is om skool by te woon. “Die gewapende veiligheidswagte se vuurwapens is weggesteek. Dit is daarom nie waar dat hulle op die skoolterrein rondloop en hul wapens aan die leerders ontbloot nie,” het sy gesê.

Die ouer-egpaar wat in hegtenis geneem is, sou Woensdag in die Roodepoort-landdroshof verskyn op aanklagte van aanranding, die rig van ʼn vuurwapen en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Winston ·

Erken hierdie regering enigsins enigiets? Dit is kommerwekkend

KarenG ·

Dis wanneer ek sulke berigte lees dat ek opreg dankbaar is dat ek in die 80’s skoolgegaan het. Ek was nooit bang om skooltoe te gaan nie, onderwysers kon nog dissipline handhaaf en meeste van die kinders het respek en maniere gehad.

Joeyvn ·

Kyk hoe verander onderwys department die storie van die vorige berigte wat geplaas is! Verander dit sodat hulle nie na die skuldiges blyk nie !!!

Ghost ·

Ek het nou nie die vorige berig gelees nie, en se ook nie wie was verkeerd of reg nie. Maar as die ouers geweier het om in te teken en met n vuurwapen skool toe gegaan het, dan wonder mens net wat was hulle doel. Die intekenrigesters is daar gestel om kontrole te hou vir die veiligheid van almal op die skool terein. En in meeste skole maak mens n afspraak as jy die hoof wil sien.

Martin ·

Wat is hierdie ouers se probleem? Hulle is volgens my en wat ek in die artikel lees, heeltemal rêg hanteer. Wat dink hulle van hulle self?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.