Seun skiet verdagte dood tydens hoewe-aanval

Sean Henry Bates (19) kort ná die aanval. Foto: Verskaf

Sean Henry Bates (19) kort ná die aanval. Foto: Verskaf

ʼn 19-jarige man het Donderdagoggend verbete geveg om hom en sy weduwee-ma teen twee aanvallers op hul kleinhoewe buite Polokwane (Pietersburg) in Limpopo te beskerm.

Sean Henry Bates, ʼn tegnikus, en sy ma, Sandra, was die oggend alleen op hul kleinhoewe in die Tweefontein-omgewing waar hulle al 11 jaar woon, toe twee mans hulle omstreeks 03:00 oorval het terwyl hulle geslaap het. Bates se pa is vier jaar gelede oorlede weens ʼn hartaneurisme.

“Ons vermoed hulle het ons waghond uit die erf gelok en hom buite die hek toegemaak,” het Bates Vrydag aan Maroela Media gesê.

“Die mans het toegang tot die huis verkry deur die diefwering by ons sitkamer oop te sny. Van daar is hulle na ons kombuis waar een hom met ʼn mes bewapen het. Die ander man was met ʼn hamer bewapen.”

Bates het gesê die verdagtes is eerste na sy kamer waar hulle sy kamerdeur met die hamer oopgeslaan het. Bates en sy ma het van die lawaai wakker geword en besef daar is moeilikheid.

“Dit het alles so vinnig gebeur. Ek het begin wakker word, toe oorval die mans my op my bed. Ek het op my rug gelê en hulle probeer afweer deur hulle te skop. Hulle het my oorweldig en ek het ophou terugbaklei.”

Een van die mans het Bates aangehou terwyl die ander sy kamer geplunder het. Sandra het haar intussen in haar slaapkamer toegesluit en begin skreeu, waarna die mans op haar afgestorm het. Dit het Bates genoeg tyd gegun om sy vuurwapen uit sy kluis te kry.

“Ek was in die gang op pad na my ma se kamer toe een van die mans op my afstorm. Ek het ʼn waarskuwingskoot afgevuur, maar hy het steeds na my toe gekom. Ek het hom toe een keer in die bors geskiet. Dit het hom ook nie gestuit nie, waarna ek nog ʼn skoot afgevuur het,” het Bates verduidelik.

Albei mans het hom oorweldig en op sy bed vasgepen. Die verdagte met die mes het Bates op sy bed aangeval en begin steek. Bates het snywonde aan die agterkant van sy kop en op sy linkerelmboog opgedoen.

“My ma het in daai stadium op die een of ander wyse die mes uit die man se hande gekry. Hulle gryp toe my DVD-speler onder my televisie uit en slaan my oor die kop daarmee. Ek het nog ʼn skoot afgevuur waarna hulle weggehardloop het.”

Die verdagtes is by dieselfde venster uit as waardeur hulle toegang tot die huis verkry het.

“Een van hulle het buite die huis inmekaargesak. Sy medepligtige het hom nog probeer help en so ’n paar meter ver gesleep, maar daarna agtergelaat en weggehardloop toe hy besef die man is dood.”

Dié verdagte het met Bates se skootrekenaar, beursie en tabletrekenaar weggekom.

Die Tweefontein Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is ontbied. Die GPF, polisie en paramedici was kort daarna op die toneel.

Bates is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem waar hy sowat 22 steke aan sy kopwond en sewe steke aan sy elmboog moes kry. Hy is reeds ontslaan en sterk by die huis aan. Sandra het skraapwonde en blou kolle opgedoen, “maar darem niks wat eens ʼn pleister benodig nie”.

“Ek wil net baie dankie sê aan die Tweefontein-GPF en die polisie wat so vinnig gereageer het. Hulle was baie behulpsaam,” het Bates bygevoeg.

ʼn Saak van moord is teen Bates aanhangig gemaak, maar dit is standaardprosedure en die senior staatsaanklaer sal beslis of hy binne sy regte uit selfverdediging opgetree het.

Kapt. Ntobeng Phala, woordvoerder van die Polokwane-polisie, het die voorval bevestig. Hy het gesê die verdagte wat gesterf het, is 30 jaar oud. “Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof en moord. Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort,” het Phala gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

51 Kommentare

jacques ·

Binne sy regte opgetree het?Geluk vir julle hoor bly julle is darm nog met ons.

anet ·

Julle was baie dapper tydens die aanval. Ek is bly dat julle oorleef het. Sterkte aan Sean en sy ma. Sean is ‘n jongman om op trots te wees, net jammer dat hy nie die ander knaap ook geskiet het nie, want die gaan maar net weer roof, moor en plunder.

Anneke ·

So jammer dat hierdie arme vrou en kind aan hierdie geweld blootgestel moes word maar welgedaan my kind een krimineel minder.Jy is menigte mense se held. Net jammer julle kon nie die ander twee die ewigheid in stuur nie

Wanda van der Merwe ·

Jy word aangeval en beroof Mar jy moet n waarskuwing skoot skiet sodat jy n moordenaar/verkragter wat in jou huis is nie onnodig seermaak. Jammer SA JULLE REGSTELSEL IS LAGWAKKEND. DIE BESTE IS DIE MOORDKLAGTE TEEN DIE PERSOON WAT HOMSELF EN SY MA BESKERM HET TEEN BARBARE. Ek wil vuur sport as die SAP SE DIT IS ROETIENE OM HOM AAN TE KLA. KAN Jul asb julle werk doen en ophou om als op prosedure te blameer.

Niel ·

Daar word ‘n dossier oopgemaak, maar hy is beslis nie aangekla nie. Dit word altyd gedoen sodat kamma huisrowe nie met moord wegkom nie

Morné ·

Daar is geen wet wat sê jy moet eers ‘n waarskuwings skoot vuur nie. Dit is ‘n algemene wanpersepsie

Neptunus ·

Ja, daar is nie so wet nie, mens noem dit die “gemene reg” (common law). Daar is ook nie ‘n wet in ons land wat sê jy mag nie steel, moor of verkrag nie, dit word ingevolge die gemene reg hanteer.

HVR ·

Die joernalis ( is soos gewoonlik) deur die blare. Daar word ‘n ondersoek na die onatuurlik dood, wat standaard prosedure is. Sal geld daarop sit dat Bates nie van moord aangekla is nie.

Neptunus ·

Miskien, maar die verslaggewer spel darem beter as jy. “Onatuurlik”, regtig?

Dave ·

Jy’s reg Neptunus, en sy (HVR) se sinsbou kan ook geskaaf word.

Sanja ·

Terwyl ek die berig lees (nog voor ek by die gedeelte kom van : “‘n saak van moord is teen Bates aanhandig gemaak” ) het ek noggals gedink – die ou het oorleef – sy aanvaller seker nie EN Bates gaan van moord aangekla word!!!!AMF!!!!en daar lees ek toe my gedagtes raak!
Mnr Bates – ons is soooo dankbaar julle is ok – Afriforum – stuur vir die ou julle beste prokureur…..Sean welgedaan – jammer die ander maker het weggekom!

Hannelie ·

Standaard prosedure…….jammer die ander een is nie getref nie.

Kaaiman ·

Reg so. Hoe gouer mense pro-aktief en gereed is om aanvalle af te weer, hoe gouer sal teenstand die aanvalle laat afneem. Jou teenstand moet net effektief wees en die aanvaller stuit (lees: dood), dan sal dinge regkom. Die polisie en die politici kan/wil nie help nie. Jy sal jouself moet beskerm, maar dit help nie as jy dit nie suksesvol kan doen nie – wees dus gereed!

Bruno Stef ·

Moegaap doen n staatsbesoek met n bakhand houding terwyl sy verhongerde gepeupel tien teen een roof en plunder om te bestaan. Goen gedoen jongman dit is net jammer jy kon die ander lae uitwerpsel nie ook bykom nie. Ek wens jou n spoedige herstel toe.

Johannes ·

Trots op jou jongman en ja “moordklag” hoe lagwekkend.Sterkte met julle herstel

Louise ·

Welgedaan ma en seun!! Julle is 2 van die bittermin wat deesdae hierdie barbaarse gedrag oorleef!! Ons bid dat als goed sal gaan en dat die staatsaanklaer darm genoeg tussen die ore het om te kan sien dat dit uit selfverdediging was! Jy MAG maar breebors loop om jou verhaal te kan vertel en hopenlik nog aan jou kleinkinders ook eendag!

Jakes ·

Welgedaan Sean trots op jou dapperheid volgende keer skiet maar die waarskuwingskoot laaste.Ek haal my wapen uit in die aand of as ek by die huis is in die dag steek dit op n vinnig kry plek weg dan is jy hulle dalk een voor.En woef slaap in die huis hulle sal blaf as iemand peuter om in te kom en hulle is veiliger.

Deon Fourie ·

Selfde gedink van die hond(e). Beter as hul in die huis is. Ons Jack Russel, Roxy het die dief sommer voor by die deur gestuit. Sean, wel gedaan en bid vir jou en jou ma.

pop ·

As ek en julle se vriend langs hom doodgaan dan los ons alles en hol weg, nie DIE vuilgoed nie. Nee !!!hy gee ewe min vir hom om as sy prooi want hys nie in staat daartoe nie. Al wat hulle verstaan is. brand af, vernietig alles om jou, moor en plunder. Jammer Sean, jy was seker nie so braaf as wat jy bang was nie. My hart bloei vir die trauma waardeur jy nog sal gaan. Sterkte

frikkie botes ·

Daar moet net n saak van huisroof ondersoek word, die saak van moord moet n open en shut case wees .

Kevin ·

Polisie het vergeet van die “POGING TOT MOORD” van die gespuis.

Albert ·

Net so Frikkie, dit was nie net roof nie maar die ander een wat nog leef moet vir poging tot moord aangekla word – seker maar soos jy sê hulle het “vergeet”.

Eish! ·

Ja in my omgewing is ook soortgelyke geval gewees. Hier was net een man teen 2 aanvallers. Een aanvaller is doodgeskiet, maar hul het die man ook sleg gewond. Hy was ook vir moord aangekla. Ennnnn op die end het die sogenaamde moordenaar gesterf. Die een maker loop nog los rond, maar niemand het hom aangekla van moord nie. Wie weet wie dai koeel afgevuur het? Die een makker wat dood is of die ander makker wat rondloop. Dit wys hoe ons reg werk. Selfverdediging is moord en aanval is maar reg.

Tania ·

Ek dink nie ‘n mens kan ooit “trots” wees op jouself as jy ‘n lewe geneem het nie. In enige situasie.

Christanam ·

Veroordeel jy hom nou omdat hy sy ma en sy lewe verdediging het? ONS is trots op hom. Hulle het nie net daar gekom om te steel nie, née hulle het daar gekom om te verkrag en te moor. Skaam jou Tania

Gert ·

Tina gelukkig was jy nie die slagoffer nie. Dan sou jy ander deuntjie dalg gesing het

Asjas ·

Ek dink nie enige iemand is “trots” nie maar ons word DAAGLIKS voor ‘n keuse gestel. Dis oorlewing. Wie gaan jy kies??

Babs ·

Tania, waar val jy uit die bus? Dit was Sean of die inbreker se lewe. Wie sou jy verkies moes gaan? Welgedaan Sean. Sterkte aan jou en jou moeder. Hoop dit gebeur nie weer by julle.

RLN van New Zealand ·

Wat sou jy gemaak het? stil gestaan het dat hulle jou ma verkrag, en jou maar doodmaak?

Neptunus ·

Toemaar Tania, dié van ons wat wel kan lees begryp wat jy eenvoudig genoeg gestel het. Ek dink die jongman is nie noodwendig trots nie, maar dankbaar en weet hy het korrek opgetree. Hy het niks om te vrees m.b.t. vervolging as die berig akkuraat is nie. Verskoon maar die trop pseudo-regslui op hierdie blad, meeste van hulle is maar in hulle wentelbaan en niks sal hulle daaruit kry nie. Ek bewonder die knaap vir sy goeie skietwerk onder baie traumatiese omstandighede en wens meer moordadige boosaards kan so gestuit word. Laastens, daar is nie ‘n misdryf soos “huisroof” nie, dis sommer ‘n informele term, die regte beskrywing is roof met verswarende omstandighede.

Gerald van der merwe ·

Dame> hierdie is n trostse oorwinning teen Lucifer. God stuur nie aanvallers na jou huis om jou dood te maak nie.

Paul ·

Ek sien Maroela Media het ‘n probleem met kommentaar wat te naby aan die waarheid kom. Ek sal dit anders stel en kyk of dit hiertoe keer die admin polisie kan tevrede stel.

Die ou wat eerste skiet en doodskiet is die ou wat gewoonlik oorleef en ‘n mens kan net baie trots wees op so ‘n mens want daarmee doen jy jou deeltje om ‘n groot probleem uit te roei.

Paul ·

Ek sien Maroela Media het ‘n probleem met kommentaar wat te naby aan die waarheid kom. Ek sal dit anders stel en kyk of dit hierdie keer die admin polisie kan tevrede stel.

Die ou wat eerste skiet en doodskiet is die ou wat gewoonlik oorleef en ‘n mens kan net baie trots wees op so ‘n mens want daarmee doen jy jou deeltje om ‘n groot probleem uit te roei.

Marisa Vosloo ·

As jy moes kies – jy dood, of hy dood, wat sou jy kies?

Aliem ·

Trots op jou en jou ma wat verbete om julle lewe geveg het. Hoop jy herstel gou.

CHRISTA ·

Sean sterkte vir jou en jou ma. Ek is bly jy het kopgehou. Mag die liewe HERE julle elke dag veilig in SY HAND HOU!!!

At ·

Dis duidelik dat die meeste van julle wat kommentaar lewer nie die wet ken nie. Dit is standard procedure dat ‘n moord dossier geopen word wanneer iemand gedood word, as die omstandighede soos in hierdie geval duidelik wys dat dit selfverdediging was word die dossier weer gesluit sonder dat die person aangekla word. Julle lees dan self dat niemand nog aangekla is nie. Net so terloops, ek het nog nooit iemand ontmoet wat grootpraat oor hoe hy iemand gedood het nie, maak nie saak wie die oorlewende is nie. Dit is nie lekker om iemand se dood op jou gewete te he nie, al is dit ‘n krimineel.

Esther Coetzee ·

Baie geluk jong man. Jy is ‘n held. Hoop jy en jou ma herstel gou van hierdie nagmerrie

JB ·

Tania, moes hy nou gese het: “Moet my nie doodmaak nie, kom ons praat eers daar oor”! Word wakker!!!!!!

Theuns ·

Knap gedaan my kind, jou ma moet trots wees op so n dapper jong man. Ons gebede is met julle!!

carel ·

“Verdagte”
wat verstaan ek nie – as die ou ingebreek het die outjie en sy ma aangeval en probeer moor het – is hy nie n skelm of rower of voornemende moordenaar nie?

Marica ·

Mooi so! Ek is so bly jy en jou ma het dit oorleef. Wil graag ‘n vraag vra. Met al die moderne tegnologie, kan hulle presies bepaal watter skoot eerste geskiet is? Want ek sal eers raakskiet en dan ‘n waarskuwingskoot skiet!

jacques ·

Ek dink nie met die soort kriminele wat ons het moet mens nog waag om waarskuwing skoot te skiet nie maak net seker hy staan nie weer op nie dan sal niemand weet of jy eers waarskuwing skoot geskiet het nie.Hulle is regtig van die duiwel self afkomstig.

Griki ·

Ek dink nie julle verstaan Tania se kommentaar reg nie. Let asb daarop dat sy “trots” in aanhalingstekens geskryf het n.a.v. die outjie se kommentaar dat hy jammer is dat hy ‘n lewe geneem het maar nie anders kon nie. Hy is dus dankbaar dat hy hulle lewens gered het maar nie trots daarop dat hy ‘n lewe geneem het nie.

JoeV ·

Is dit nie eerder ‘n “indringer” as ‘n :verdagte” nie? Help bietjie met die Afrikaans hier.

CJAN ·

Skitterend!!!! Ek dink die hele land is trots op die gesin en dat so ‘n jong man en ma kop gehou het. Sou jy hom nie dood gemaak het nie dan sou dit julle albei gewees het. Daai antie wat se mens kan nie trots wees as jy iemand doodskiet nie moet miskien gaan vir ‘n scan.

Jan ·

Ons kan net se dankie Here jul het oor leef -mens wees paraat. Altyd. Stekte aan jul

Marlene ·

So bly julle is Okey….. maar daar is nog ‘n baie lang pad na herstel. Moenie te dapper of te trots wees om hulp te kry nie. So iets gaan nie oornag verdwyn nie. Ek is so jammer vir julle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.