Twee dood ná skietgeveg in Pretoriase Moot

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Twee gewapende rowers is doodgeskiet en ʼn derde gewond tydens ʼn skietgeveg met die polisie in die Pretoriase Moot.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het Sondag omstreeks 17:15 in Haarhoffstraat plaasgevind. Volgens Naidoo het die polisie inligting ontvang oor ’n beplande gewapende roof waarna lede van die nasionale intelligensie-en-ondersoekeenheid, die Valke, en die honde-eenheid daarop gereageer het.

Naidoo het gesê die span het in twee groepe verdeel en die gebied verken. Volgens Naidoo het een van die spanne ʼn verdagte BMW buite ʼn huis opgemerk en besef die rooftog is reeds aan die gang. Die span het gereageer en ʼn skietgeveg het tussen hulle en die verdagtes uitgebreek. Twee verdagtes is doodgeskiet en ʼn derde is gewond. Die polisie het op ʼn .38 Special-rewolwer en ʼn pistool beslag gelê.

Naidoo het gesê geen polisiebeamptes is tydens die skietgeveg beseer nie. Hy het gesê die vuurwapens sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit in die uitvoer van enige ander misdade gebruik is. Die BMW wat tydens die rooftog gebruik is, is vroeër vandeesmaand tydens ʼn gewapende rooftog in Boschkop gesteel.

Volgens Naidoo behoort die huis wat beroof is aan ʼn 43-jarige vrou. Sy het twee besoekers by die OR Tambo Lughawe opgelaai. Die verdagtes het hulle in die huis se oprit gekonfronteer en juweliersware en hul bagasie geëis. Die besoekers is van Angola.

Naidoo het gesê dié soort voorvalle waarin mense van die lughawe af gevolg word en by hul huise beroof word, is ʼn groot kopseer vir die polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Skaap ·

Ek dink ons moet ook dankie se vir die persoon wat die tip-off gegee het aan die polisie.

CF ·

Wel gedaan vir die polisie span. As hulle af van diens af is. Gee hulle n BELLS

Grassie ·

Dit is ‘n baie goeie groepering wat daardie polisieskut geskiet het. Om uit ‘n bewegende voertuig na ‘n ander bewegende voertuig te skiet is nie maklik nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.