Vermiste meisie: Ouers stort hul hart uit

'n Skermskoot uit die video van Neline se ouers, Rudolf en Petra van Zyl. 'n Skakel na die video volg in die berig.

‘n Skermskoot uit die video van Neline se ouers, Rudolf en Petra van Zyl. ‘n Skakel na die video volg in die berig.

Die ouers van Neline van Zyl, die laerskoolmeisie van Middelburg in Mpumalanga wat sedert Donderdag vermis word, het Maandag hul hart uitgestort in ʼn onderhoud met die plaaslike gemeenskapskoerant.

“As jy my kan hoor, sussa, bel my net en sê net vir my jy is oukei. As iemand anders my kind gevat het, bring haar asseblief terug. Ons kan nie baie langer uithou nie,” het ʼn duidelik emosionele Petra van Zyl, Neline se ma, aan die Middelburg Observer gesê.

Neline van Zyl.

Neline van Zyl.

Neline (13) is Donderdag omstreeks 14:00 die laaste keer in die omgewing van die Hoër Tegniese Skool (HTS) Middelburg gesien. Sy is ʼn leerder aan die Laerskool C.R. Swart. Sy sou ná skool krieket by die HTS Middelburg gaan kyk en daarna vir haar dansklasse gegaan het. Haar ouers het onraad gemerk toe hulle by een van haar vriende vasgestel het dat sy nooit by die krieket opgedaag het en ook nie by die dansskool was nie.

Petra en haar man, Rudolf, pleit in die onderhoud vir hul dogter om huis toe te kom as sy moontlik weggeloop het. “Ons is nie kwaad nie. Kom net huis toe waar jy hoort. Die onsekerheid maak ons dood. Ons bly wonder: Leef sy? Haal sy asem? Kan sy praat? Ons wil haar net weer in ons arms vashou,” het albei in trane gesê. Klik hier om die video te kyk.

Kapt. Khanyisile Zwane, woordvoerder van die Middelburg-polisie, het Dinsdag aan Maroela Media bevestig die polisie ondersoek ʼn vermistepersone-saak. “Ons ondersoek het ons Saterdag tot by ʼn plek in Groblersdal gelei, maar dit het ongelukkig niks opgelewer nie,” het Zwane gesê. “Ons volg egter nog alle leidrade op en die ondersoek duur voort.”

Sy het gesê die polisie ondersoek nie in dié stadium ʼn saak van ontvoering nie, aangesien niemand nog ʼn losprys geëis het nie.

Neline is skraal gebou, het donkerbruin oë en lang ligte bruin hare. Sy weeg 52 kg en is 1,59 m lank.

Ena Calitz Piloda, ʼn inwoner wat nou betrokke is by die soektog na Neline, het Maandag op Facebook gesê ʼn anonieme persoon het ʼn beloning van R12 000 uitgeloof aan enigiemand met positiewe inligting wat kan help om haar op te spoor. Mense kan lt.kol. Van Schalkwyk by 083 230 8054 bel.

Dessie Rechner, verbonde aan Pink Ladies, het ʼn beroep op mense gedoen om pamflette met inligting oor Neline se verdwyning op sosiale media te versprei, in die hoop dat iemand haar sal herken.

neline van Zyl vermis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Landie ·

Hoe verdwyn ‘n kind net so van die aardbol af??? Dit is verstommend!! Ek hoop die jonge dame kom veilig by die huis aan!! Asb mense, iemand moet weet wat van haar geword het!!

Hannelie ·

Is dit eers ontvoering wanneer ‘n losprys geëis word?

Piet Pompies ·

Dit is afpersing, jy ontvoer in ruil vir geld. Ontvoering vir slawerny, mensehandel ens

CHRISTA ·

As ons polisie eers ‘n saak as ontvoering ondersoek wanneer ‘n losprys geëis word, kan ek verstaan hoekom ons land so deur misdadigers oorgeneem word. Die persoon wie haar ontvoer het kon dit doen net vir selfbevrediging!!!

Louis ·

Ek het na die video gekyk en geluister. Dit moet `n verskriklike tyd wees waardeur die familie gaan ! Ek wens hulle alle sterkte toe, dit moet vreeslik wees !!

Ek sal net graag wil weet hoekom die vriend so lank gevat het voor hy navraag gedoen het oor haar, terwyl hulle `n afspraak gehad het om na skool saam te gaan krieket kyk ? En verskoon my, maar daar het iets gebeur waaroor die ouers nie wil praat nie ! As ek verkeerd is, vra ek om verskoning !! Maar ek glo nie ek is verkeerd nie !

Hanlie ·

Ek hoop regtig sy word gou opgespoor. Ek kan my nie indink waardeur die ouers moet gaan nie. My seun (toe 9 jaar) het weggeraak. Die nasorg het gebel om te se hy is nie by hulle nie en hulle kry hom nie by die skool nie. In die 20 minute wat my man moes ry na die nasorg om te gaan “help soek” was ek absoluut buite myself….ek het nie geweet wat om met myself aan te vang nie. Ek was benoud, kon nie asem haal nie, moes aanmekaar my asmapompie gebruik, kon nie sit of staan nie. EK kon ook nie huil nie. Die aakligste 20minute. TOe my man bel en sy hy is by die nasorg. (Deur sameloop van omstandighede het hulle nie geweet hy is by die nasorg nie). AL wat ek daardie aand gedoen het was om hom vas te hou terwyl die trane vanself net uit my oe geloop het.
Sterkte vir haar ouers. EK bid sy kom gou terug.

Aurelia Beukes ·

Ons bid en bid en bid dat sy veilig is. Ons God is groot. AMEN!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.