Werker op kleinhoewe buite Pta doodgeskiet

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Saak van moord word ondersoek nadat ʼn 46-jarige man Dinsdagoggend op ʼn kleinhoewe in Wallmannsthal, noord van Pretoria, doodgeskiet is.

Ao. Isaac Mangena, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die man was ʼn werker op die plaas. Sy naam is nie in hierdie stadium bekend nie.

Mangena het gesê twee werkers was omstreeks 07:30 besig om diere buite op die erf te voer toe hulle honde in die huis hoor blaf het. Aangesien die eienaars van die huis gery het om hul kinders skool toe te neem, het die werkers gaan ondersoek instel.

In die huis is hulle deur ʼn verdagte oorval wat ʼn vuurwapen op hulle gerig het. ʼn Struweling het ontstaan en een van die werkers, glo 26 jaar oud, kon daarin slaag om uit die huis te hardloop en hulp te gaan soek. Oomblikke later was hy saam met die bure terug by die huis, waar hulle die ander werker se liggaam in ʼn plas bloed op die vloer aangetref het. Hy is geskiet.

Mangena kon nie dadelik bevestig waar die werker geskiet is nie en het gesê paramedici was steeds op die toneel besig.

Die rower het skynbaar met net een selfoon gevlug, het hy gesê. ʼn Saak van moord word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Winston ·

Die opskrif skep onmiddelik die indruk dat n werker deur n werkgewer geskiet is. Wat van: “werker op kleinhoewe deur rowers doodgeskiet.”? Of “Rowers skiet werker op kleinhoewe.” ? Klink vir my beslis beter. Dankie

EK ·

Winston. Was jy daar? NEE duidelik nie!! Jou arme drommel. Het jy n idee wat kon gebeur het? NEE – ek was daar. Ek het die hartseer en die trauma gesien. Jy weet nie hoe geheg ‘n boere gemeenskap aan mekaar raak nie. Jy WEET NIE wat hierdie werker vir sy werkgewers alles beteken het nie. So : Hou op om die nuus te lees en kommentaar te lewer van iets wat jy NIKS van weet nie. Wees eerder dankbaar dit het nie met jou gebeur nie.

HFC ·

EK – Jy verstaan nie mooi wat Winston probeer sê het nie, dis nie nodig om Winston
so te beledig nie.

Winston ·

Ek het meer moorde ondersoek as wat jy gelees het en het binne n baie kort ondersoek reeds vasgestel wat gebeur het en hoe dit in n hof bewys moet word. Ek het ook werknemers en ek sal baie kennis bydra tydens n ondersoek indien een vermoor sou word, ten einde die moordenaar agter tralies en skuldig te kry. Jy het geen begrip van hoe n berig se opskrif vertolk kan word nie. Ek is nou n boer en weet hoe ons almal as een familie op n plaas bestaan. My werkers is ook opgelei om elke dag te kyk en inligting uit te ruil en ook beveiliging van hulle self. Dankie HFC . Lyk my jy is n ingeligte mens.
Hierdie was weereens n onnodige moord vir n selfoon. Jammer dat ons nooit hoor of die skuldiges, arresteer, aangekla, verhoor en gevonnis is nie.

lee ·

Ek sien nie iets fout met die opskrif nie. Arme man. Mag hy in vrede rus!

Pikkie ·

Was dit nou die werkgewer ipv die werker, was dit weer ‘n rooftog wat “skeef” geloop het!

elize ·

Ons in polokwane en ja ons werkers ook n teiken van hoewe en plaas aanvalle daar we’ll nog goeie plaaswerkers wat opstaan vir hul werkgewer en hulle baie skaars Winston haal my hoed af vir jou jy sien gruweldade wat mens laat ril

Jaco Strauss ·

Wat bedoel julle die “rower” het gevlug. Dit was duidelik ‘n moordenaar wat gevlug het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.