SA-Troepe na Kongo ontplooi

Brigadier generaal Xolani Mabanga

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) gaan soldate na die oostelike Demokratiese Republiek van die Kongo stuur as deel van ‘n spesiale ingrypingsmag van die Verenigde Nasies (VN).

Brigadier generaal Xolani Mabanga het dit Sondag bevestig. “Die VN se veiligheidsraad het verlede week ‘n resolusie aanvaar wat die ontplooiing van ‘n ingrypingsmag in die ooste van die DRK goedgekeur het. Die Suid-Afrikaanse regering het beloof om soldate tot die mag by te dra,” het hy gesê.

Volgens Mabanga is dit nog nie bekend wanneer en hoeveel soldate na die DRK gestuur gaan word nie.

Dit volg nadat die City Press Sondag berig het Suid-Afrikaanse troepe gaan in die DRK ontplooi word om teen die rebellegroep, M23, te gaan veg.

Intussen het die Demokratiese Alliansie (DA) ʼn beroep op president Jacob Zuma gedoen om meer inligting oor die ontplooiing in die parlement bekend te maak.

“Die president het ʼn verantwoordelikheid om die parlement so gou moontlik in te lig oor die al die toepaslike inligting,” het David Maynier van die DA in ʼn verklaring gesê.

Volgens Maynier word die ontplooiing nie gedoen om troepe op ‘n sending te stuur om vrede te bewaar nie, maar eerder om op ‘n “sending vir die handhawing van orde” te gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.