Sanders-moord: Verhoor uitgestel

Corrie Sanders

Drie mans, wat daarvan verdink word dat hulle die voormalige swaargewigbokskampioen, Corrie Sanders, doodgeskiet het, het Maandag in die landdroshof in Brits verskyn.

“Die saak is tot 22 Oktober uitgestel,” het Medupe Simasiku, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, gesê. ‘n Legal Aid-prokureur moet vir een van die mans aangewys word. Die drie mans bly in aanhouding.

Paida Fish (19), Samuel Mabena (27) en Chris Moyo (25), staar elk ‘n aanklag van moord en drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede in die gesig. Twee van die mans is op 27 September in die Oukasie informele nedersetting in hegtenis geneem nadat die polisie ‘n wenk ontvang het. Die polisie het beslag gelê op ‘n selfoon, voertuigsleutels, ‘n beursie, ‘n handsak, en kontant wat glo tydens die rooftog op 22 September, waartydens Sanders doodgeskiet is, gesteel is.

“Die polisie is toe na ‘n tweede adres en ‘n derde verdagte is hier in hegtenis geneem.

Die drie mans is van Zimbabwe afkomstig.

Sanders was by die Thatch Haven Country Lodge in Bris toe gewapende rowers ingestorm het, en lukraak begin skiet het. Sanders is in sy hand en maag gewond en het die volgende dag by die Kalafong-hospitaal aan sy wonde beswyk.

Die drie mans het op 1 Oktober in die hof verskyn toe die saak tot verdere ondersoek uitgestel is.

Mabena het op dieselfde dag in die hof verskyn in verband met die moord op 5 September van Mauritz Oberholzer, ‘n boer in die Brits-omgewing.

Sanders het die Wêreld Boksorganisasie se swaargewigtitel in Maart 2003 verower nadat hy Vladimir Klitsckho in die tweede rondte uitgeklop het. Hy het vyf jaar later afgetree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.