Die hip-hop sanger Molemo Maarohanye, oftewel Jub Jub, en sy mede-beskuldigde, Themba Tshabalala, is Dinsdag in die Protea-landdroshof skuldig bevind aan vier aanklagte van moord en twee van poging tot moord. Die twee het in Maart 2010 aan ʼn straatwedren in Soweto deelgeneem, terwyl hulle onder die invloed van dwelms was. Jub Jub en Tshabalala was in ʼn botsing betrokke en hul voertuie het in ʼn groep skoolkinders in geploeg.
Prince Mohube, Mlungisi Cwayi, Andile Mthombeni en Phomello Masemola is in die voorval dood. Frank Mlambo en Fumani Mushwana is ernstig beseer.
Jub Jub en Tshabalala sal in ʼn latere stadium gevonnis word.