Sasolburg-geweld eis vier

Betogers hardloop weg vir die polisie in Zamdela, Sasolburg. Foto: Deon van Zyl

Vier mense het hul lewens verloor in die onlangse betogings in Zamdela naby Sasolburg.

Kol. Motantsi Makhele het Woensdagmiddag gesê twee mense is geskiet na ʼn groep betogers die Zamdela-polisiestasie aangeval het. n Winkeleienaar het glo ook ‘n man doodgeskiet het toe hy vermoedelik die winkel wou plunder. “ʼn Motoris het glo ‘n vierde man doodgeskiet toe ʼn groep betogers hom, terwyl hy bestuur het, aangeval het,” het Makhele gesê.

Minstens 238 mense is reeds in hegtenis geneem nadat die geweld Sondag uitgebreek het. Inwoners het glo betoog oor planne om Sasolburg met die Ngwathe plaaslike munisipaliteit te laat saamsmelt. Richard Baloyi, minister van samewerkende regering, het Woensdag aangekondig dat die plan vir eers uitgestel is. Hy het die betogers gevra om die geweld te eindig sodat leerlinge kan teruggaan skool toe en ondernemings weer kan sake doen. ʼn Taakspan is aangestel om inwoners se besware te ondersoek.

Teen Donderdagoggend was die gebied rustig en het sake na normaal begin terugkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.