Kirsty Theologo, wat in ‘n beweerde sataniese ritueel aan die brand gesteek is, was glo die groot prostituut wat oor Johannesburg regeer, het die hooggeregshofsitting in die Palm Ridge-landdroshof Donderdag gehoor.
Lester Moody (19), getuig tans teen vier mense wat daarvan beskuldig word dat hulle die ritueel uitgevoer het. Hy het skuldig erken op die misdaad en het ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan in ‘n poging om ‘n korter vonnis te ontvang. “Het jy die idee om die prostituut aan die brand te steek en haar vlees te eet, en kaal uit te trek uit Openbaring 17 gekry?” het Enrico Guarneri, advokaat vir die verdediging, gevra. “Ja,” het Moody geantwoord.
“Het Kirsty die prostituut voorgestel wat oor die konings van die wêreld regeer?” het Guarneri gevra. “Ja.” “En oor watter stad het sy regeer?” wou Guarneri weet. “Johannesburg,” het Moody geantwoord.
‘n Gegiggel het in die hof uitgebreek toe Moody geantwoord het. Guarneri het die teks uit Openbaring 17:15-16 aan Moody voorgelees.
[Die teks uit Openbaring 17: En hy sê vir my: Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale. En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand. Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een bedoeling uit te voer, en hulle heerskappy aan die dier te gee totdat die woorde van God volbring is. En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde.]
Moody het vroeër aan die hof gesê die ritueel is gebaseer op daardie teksvers en die sataniese elemente is eers in ‘n latere stadium bygevoeg. Tydens ‘n vorige hofsitting het hy gesê hy het een middag nadat hy sokker gespeel het op die vers afgekom. ‘n Klein Nuwe Testament-bybel het op sy bedtafeltjie gelê en toe hy dit oopmaak, het hy daarop afgekom. Hy het aan die hof gesê hy het die vers ‘n paar keer gelees, en was verward daaroor. “Hoekom het jy nie jou pa gevra nie? Hy is ‘n ooglopende kenner, dan nie?” het regter Geraldine Moody Donderdag gevra. Die hof het gehoor dat Moody se pa ‘n Christelike pastoor is. Hy sê hy weet nie waarom hy nie sy pa gevra het om die teks te verduidelik nie.
Gaurneri het Moody ook gevra om die hof te wys waar dit in die teks aandui dat mens bloed moet drink. Moody het na die afskrif van die teks, wat deur die Staatsaanklaer van die internet uitgedruk is, geloer en gesê hy kan dit nie opspoor nie. “Dis nie daar nie,” het Moody gesê. “Nie daar nie? Sien, net noudiedag het jy die teks opgesê en het die drink van bloed ingesluit,” het Guarneri gesê. “Dis baie vreemd dat daar, in die Bybel, geen verwysing na die drink van bloed gemaak word nie.”
Regter Borchers het die ondervraging onderbreek en voorgestel dat Moody die teks moontlik in ‘n ander weergawe gelees het. Moody het gesê hy het sy weergawe uit die Nuwe Testament gelees, maar nie gesê watter weergawe nie.
Toe die hof nie Moody se weergawe kon identifiseer nie, het Guarneri gesê hy glo nie dat een weergawe van die Bybel ‘n spesifieke sin het wat die ander glad nie het nie. Hy het toe vir Moody gevra wanneer dit aan hom openbaar is wie die dier is, wat ook in die Bybel genoem word. “Die hele tyd, totdat jy Kirsty vermoor het, was dit aan jou openbaar of het jy uitgevind wie die dier is?” wou Guarneri weet. Moody het gesê dit is nooit openbaar nie.
“Jy wou mag aan die dier gee sonder om te weet wie dit is?” het hy gevra. “Jy moes baie dagga gerook het.”
Moody het vroeër gesê hy en [Robin] Harwood het die middag van die voorval die een “zol” na die ander gerook. Slegs sowat 30 minute sou verloop voordat hulle die volgende een aangesteek het. “Ons het nie geweet ons gaan later ‘n moord pleeg nie,” het Moody gesê. Hy het ook gesê hulle het met ander dwelmmiddels ook eksperimenteer, insluitend CAT (metamfetamien) en kokaïen. Regter Borchers het Moody gevra om die effek van die dagga te beskryf. “Dit hang af van wat mens rook. “Swazi” maak jou lui. “Skunk” maak jou hiperaktief,” het hy geantwoord. Hulle het daardie middag glo “skunk” gerook. Voordat hy uit die skool geskors is, het hulle glo vroeg in die oggend dagga gerook. Hy het erken hy was verslaaf aan dagga.
Moody getuig teen Lindon Wagner, Robin Harwood, Harvey Isha en Courtney Daniels. Hulle het onskuldig gepleit op aanklag van moord, poging tot moord, en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig.
Theologo was 18 toe sy op 21 Oktober 2011 op ‘n koppie agter die Linmeyer-swembad naby Juliusstraat in die suide van Johannesburg aan die brand gesteek is nadat petrol oor haar uitgegooi is. Sy het ‘n week later in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal aan haar beserings beswyk. Haar vriendin, wat in daardie stadium 14 jaar oud was, is ook gebrand, maar het die voorval oorleef.
Lees ook:
‘Sataniese ritueel’: Bloed op ‘n brandende Bybel gestort
Sataniese ritueel: Skokkende onthullings
Sataniese ritueel: Slagoffer wou letsels in hof wys
Sataniese ritueel: Kirsty wou glo geoffer word
‘Sataniese ritueel’: Ma’s, slagoffer se broer getuig
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer se ma getuig
‘Sataniese ritueel’: Moordsaak hervat
Borgaansoek vir twee verdagtes in sataniese ritueelsaak
Meisie (18) aan die brand gesteek tydens ‘sataniese ritueel’
Hoekom hulle nie na hulle Vader Satan toe stuur dat hulle ook kan gebrand word nie.Feit van die saak is daar is moord gepleeg en almal was betrokke.Hoekom kan ons howe nie n eenvoudige saak soos dit verhoor nie of sit ons nog steeds met meer en meer opgehoopte sake wat nooit tot end kom nie..
Hoekom moet sake 2 4 jaar neem voor vonnis of gaan dit om die sensasie vir almal betrokke by dit. .