“Sy moes geoffer word om ons wense te vervul,” het Lester Moody aan die hof gesê. “Die vier wense was vir krag, wysheid, roem en rykdom.”
Moody (19), wat aan die moord op Kirsty Theologo skuldig bevind en daarvoor gevonnis is, het Dinsdag begin getuig teen die vier beskuldigdes wat op dié moord tereg staan.
Moody is tot 17 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan vyf opgeskort is, nadat hy erken het dat hy deel was van die vermeende sataniese ritueel in 2011.
Theologo is op 21 Oktober 2011 op ‘n koppie agter die Linmeyer-swembad, naby Juliusstraat, Johannesburg, aan die brand gesteek nadat petrol oor haar uitgegooi is. Sy het ‘n week later in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal aan haar beserings beswyk. Haar vriendin, wat in daardie stadium 14 jaar oud was, het ook gebrand, maar sy het die voorval oorleef.
Moody en ‘n ander beskuldigde, Jeremy King, het ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan in ‘n poging om ‘n korter vonnis te ontvang.
Vier ander beskuldigdes, Lindon Wagner, Robin Harwood, Harvey Isha en Courtney Daniels, het onskuldig gepleit op aanklagte van moord, poging tot moord, en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig.
Moody sê ‘n speletjie met toiletpapier en vuurhoutjies het glo aangedui wie in die beweerde sataniese ritueel geoffer moet word. “Ons het die speletjie gevra of Kirsty [Theologo] die prostituut moet wees, en die speletjie het ja gesê,” het Moody gesê.
Moody sê die vuurhoutjies is in toiletpapier toegedraai. ‘n Vraag sal dan gestel word, en die wyse waarop die vuurhoutjies uit die toiletpapier val, sou bepaal of die antwoord ‘n ‘ja’ of ‘n ‘nee’ was. Hy sê hy, King en Wagner het die dag voor die ritueel die speletjie gespeel.
Theologo het by die kombuis ingestap terwyl hulle gespeel het en gesê sy sal geoffer word. “Sy het gesê ons sal haar bloed drink, haar vlees eet en haar met vuur brand,” het Moody getuig. Sy het dit glo al drie keer vantevore gesê; twee keer toe sy onder die invloed van alkohol was, en een keer toe sy nugter was. “Na my mening was sy ernstig daaroor.”
Moody is gevra of dit moontlik is dat Theologo en die mense, saam met wie sy in die sitkamer gekuier het, dalk kon gehoor het hoe hulle die offer bespreek. “Al sou ons hard gepraat het, dink ek nie hulle sou kon hoor nie, want daar het musiek gespeel,” het Moody geantwoord. Hy sê hulle het die speletjie gevra of Theologo die prostituut moet wees nadat hulle ‘n Bybelvers uit die Boek van Openbaring daaroor gelees het.
Toe Moody oor die teksvers uitgevra is, het dit aanvanklik gelyk of hy dit vergeet het, maar hy het dit toe aan die hof opgesê. “Ken jy dit uit jou kop uit,” het regter Geraldine Borchers gevra. “Dit het uiteindelik in my kop gebly,” het hy gesê. Hy sê hy het aanvanklik ná hy sokker in die park gespeel het, in sy kamer op die vers afgekom. Daar was ‘n Bybel in sy slaapkamer en toe hy dit opgetel het, het dit by Openbaring 17:16 oopgemaak. “Ek het dit oor en oor gelees, omdat die vers my deurmekaar gemaak het.” Terwyl hy getuig het, het Wagner sy kop geskud.
Moody sê hulle het nie die teksvers met Theologo bespreek nie, maar sy het by die kombuis ingekom en toe gesê sy wil geoffer word.
Hulle plan was om die vers uit te voer.
Moody sê die groep het beplan om kerse op die punte van ‘n sataniese ster te brand. “Toe was daar hierdie papiere waarop Lindon [Wagner] ‘n paar woorde geskryf het wat ons by die toneel moes opsê.” Hulle sou dan hul wense maak en Theologo offer sodat hul wense bewaarheid kon word.
Toe Wagner daardie Vrydag van die werk af teruggekeer het, het hy gesê hulle gaan Theologo daardie aand offer.
Volgens Moody het die groep Donderdag by Daniels se huis bymekaargekom en ingestem dat die offer binne drie weke sou plaasvind. Dit is dieselfde dag wat hulle die toiletpapier- en vuurhoutjiespeletjie gespeel het.
Hy sê, dat alhoewel Kirsty gesê hy sy was die prostituut wat geoffer moes word, het hulle nie vir haar gesê hulle wil haar doodmaak nie.
Moody het gesê Wagner het hulle gesê watter gedeelte van die offer elkeen sou uitvoer, maar niks is gesê hoe Theologo aan die brand gesteek sou word nie. Hulle het ingestem dat Moody haar bloed sou drink, en King haar vlees sou eet.
Volgens die plan sou Theologo met remvloeistof bedwelm word om haar duiselig te maak, en al die dade sal uitgevoer word wanneer sy nog leef.
Die hof het gehoor dat die beskuldigdes kerse, ‘n mes, ‘n bottel met alkohol en remvloeistof gehad het. Moody sê Wagner het, oppad na die koppie toe, Isha gestuur om brandstof te gaan koop. Theologo, die vriendin, en die res van die beskuldigdes het oorkant die straat vir Isha staan en wag. Hy sê Theologo was onder die indruk dat Isha lekkergoed gaan koop het.
Moody sê die groep het vir Theologo vertel hulle is oppad na ‘n partytjie toe. Oppad na die partytjie toe, het hulle besluit om eerder na die koppie toe te gaan.
Die saak duur voort.
Lees ook:
Sataniese ritueel: Slagoffer wou letsels in hof wys
Sataniese ritueel: Kirsty wou glo geoffer word
‘Sataniese ritueel’: Ma’s, slagoffer se broer getuig
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer se ma getuig
‘Sataniese ritueel’: Moordsaak hervat
Borgaansoek vir twee verdagtes in sataniese ritueelsaak
Meisie (18) aan die brand gesteek tydens ‘sataniese ritueel’
My God bewaar ons asseblief van die bose.Hou ons onder U beskerming.