‘Sataniese ritueel’: Slagoffer se ma getuig

Kirsty Theologo

Drie mans en ʼn meisie wat van die moord op ʼn tiener in 2011 aangekla word, het Woensdag in die hooggeregshofsitting in die Palm Ridge-landdroshof onskuldig gepleit.

Harvey Isha, Robin Harwood, Lindon Wagner en Courtney Daniels, wat ten tye van die voorval minderjarig was, het onskuldig gepleit op aanklag van moord, poging tot moord en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig.

Petrol is glo oor Kirsty Theologo (18) uitgegooi en sy is op ʼn heuwel agter die Linmeyer-swembad in die suide van Johannesburg aan die brand gesteek. Sy het later in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal aan haar beserings beswyk. ʼn Ander meisie het die aanval oorleef.

In ʼn verklaring wat aan die hof voorgehou is, het Isha blameer hy was teenwoordig toe Theologo en haar vriendin, tydens die skynbare sataniese ritueel aan die brand gesteek is. Hy is aangesê om “stil te bly”, aangesien hy “te veel weet”.

ʼn Prokureur wat Daniels verteenwoordig, het gesê sy sal haar reg om stil te bly uitoefen.

Die hof het gehoor dat Wagner patologiese onaanspreeklikheid kan pleit, aangesien hy, ten tye van die voorval, glo in ʼn slegte emosionele toestand was en nie sy eie besluite kon neem nie. Die prokureur het verduidelik hy het dus onwillekeurig aan die aanval deelgeneem.

Theologo se ma, Sylvia, was die eerste getuie wat geroep is. Sy sê sy het haar dogter die eerste keer na die aanval gesien toe sy in die kombuis gestaan het. “Sy het met haar rug teen my by die wasbak gestaan. Dit het gelyk of sy sonbrand opgedoen, en begin vervel het. Sy het omgedraai en haar gesig was heeltemal verbrand,” het Theologo gesê.

Haar dogter se neus is beskadig, haar lippe was geswel en daar was ʼn sny aan haar kop.

Kirsty het glo na haar gekyk en gesê, ‘Mamma, hulle het petrol oor my uitgegooi. Hulle het my aan die brand gesteek.” Theologo het in trane uitgebars en die hof het verdaag om haar die geleentheid te bied om haarself weer onder beheer te bring. Terwyl sy uit die hof uitgestap het, het sy haar gesinslede versoek om saam met haar te gaan. “Kom, kom familie,” het sy gesê.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.