Schumacher-ongeluk word ondersoek

Michael Schumacher Foto: www.dw.de

Michael Schumacher Foto: www.dw.de

Die F1-legende Michael Schumacher vier Vrydag sy 45ste verjaarsdag in ʼn hospitaal in Frankryk waar hy steeds ná ʼn ski-ongeluk met medikasie onder verdowing gehou word.

Dokters en familielede het nie Donderdag ʼn jongste verklaring oor sy toestand uitgereik nie, wat beteken dat daar geen verandering in sy toestand is nie.

Schumacher is Sondag in die hospitaal opgeneem nadat hy sy kop teen ʼn klip gestamp het terwyl hy in die Franse Alpe geski het.

Daar is teenstrydige verklarings oor die spoed waarteen die sewemalige wêreldkampioen by Meribel-oord geski het toe die ongeluk gebeur het. Schumacher besit eiendom by dié oord.

Die impak was so erg dat sy valhelm in twee stukke gebreek het.

ʼn Woordvoerder van die Ferrari F1-span het aangekondig hulle sal Vrydag stil voor die hospitaal in Grenoble bymekaarkom om Schumacher se verjaarsdag te vier. Schumacher se aanhangersklub in Kerpen, waar hy grootgeword het, het egter gesê om sy verjaarsdag te vier is “in swak smaak”.

Jean Todt, voormalige hoof van die Ferrari-span, het Schumacher Donderdag besoek. Schumacher se vrou Corinna, hul twee tienerkinders en sy pa en broer is ook by die hospitaal.

Schumacher het reeds twee operasies ondergaan om die bloeding en drukking op sy brein te verlig.

Sabine Kehm, sy mediaverteenwoordiger, het Woensdag gesê hy is in ʼn kritieke, maar stabiele toestand.

Kehm het vroeër in die week gesê mense probeer by sy hospitaalkamer insluip, een was selfs soos ʼn priester aangetrek.

Die drie mediese professore wat hom behandel wou nie spekuleer oor hoe Schumacher se toestand kan verander nie, maar het gesê dat sy ouderdom en fiksheid in sy guns tel.

Owerhede in Frankryk sal die ongeluk ondersoek, wat glo algemene praktyk vir soortgelyke voorvalle is. Hulle ondersoek die moontlikheid dat Schumacher baie vinnig geski het toe hy geval het. Dié antwoord kan nalatigheid of aanspreeklikheid bepaal.

Die staatsaanklaers ondersoek ook of die beperkinge van die ski-hellings, waar die ongeluk plaasgevind het, korrek aangedui en duidelik gemerk is.

Die ondersoek sal ook bepaal of die veiligheidsmeganisme op Schumacher se ski’s behoorlik gewerk het. Dié veiligheidsmeganisme veroorsaak dat jou voet maklik uit die ski kan glip. Die Duitse koerant, Bild, het berig dat Schumacher die ski’s gehuur het en dat een van die meganismes moontlik nie ten tyde van die ongeluk gewerk het nie.

Na verwagting sal die staatsaanklaers nie enige verklaring uitreik voor volgende week nie.

Kehm het vandeesweek aan verslaggewers gesê hy het nie vinnig geski toe hy geval het nie. “Dit wil voorkom of hy die klip getref het toe hy gedraai het,” het sy gesê. Sy het bygevoeg dat Schumacher ten tyde van die voorval saam met sy 14-jarige seun Mick, en ʼn klein groepie vriende was. “Hy het nie vinnig geski nie, want hy het glo net voor die ongeluk iemand anders gehelp wat geval het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Heidi ·

Dankie vir die puik joernalistieke werk oor die feesdae, Sune. Tussen jou en Herman was ons goed op hoogte gehou, baie dankie.

Ria Maritz ·

Ai tog, waarom is dit so moeilik om mense se privaatheid te respekteer – die man veg om sy lewe.

Ek bid steeds vir beterskap. Baie geluk Schumi met die herdenking van jou geboortedag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.