Sesde polisie-skietdood vir jaar ná vrou se wrede moord

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 15-jarige seun is na bewering die naweek tydens betogings in Limpopo deur die polisie doodgeskiet. Dit is die sesde betoger wat reeds vanjaar dood is weens polisie-optrede by betogings.

Brig. Hangwani Mulaudzi, ʼn polisiewoordvoerder, het Maandag gesê Saterdag se skietery het in die Bolobedu- informele nedersetting plaasgevind. “Die erg verminkte liggaam van ʼn vrou van die gemeenskap is Vrydag gevind. Die vrou se hande is afgekap en haar maag is oopgesny. Haar moordenaars het haar selfoon en sleutels in haar oopgesnyde maag gesit,” het Mulaudzi gesê.

Twee mans is Saterdag deur die polisie ingeneem vir ondervraging. “Terwyl die polisie besig was om die mans te ondervra, het die gemeenskap in opstand gekom en die twee mans se huise aan die brand gesteek. Hulle het ook die huis van die vrou se kêrel aan die brand gesteek,” het Mulaudzi gesê.

“Die polisie het ingetree en die ontstoke inwoners probeer keer om die huise aan die brand te steek, waarna die gemeenskap begin betoog het. Polisiebeamptes het op die betogende skare losgebrand, en die 15-jarige seun is noodlottig getref.”

Die gemeenskap het ná die seun se dood Sondag gedreig om ʼn satelliet-polisiestasie in die gebied aan die brand te steek, maar die polisie is op hoë gereedheid geplaas om dit te verhoed.

Limpopo se provinsiale polisie het al die beamptes wat tydens die skietery op die toneel was, se vuurwapen vir ballistiese toetse gestuur om te bepaal watter beampte die kind geskiet het. “Ons wag nog vir die uitslae van die toetse. Geen beamptes is tot dusver in hegtenis geneem nie.”

Mulaudzi sê geen inwoners is vir publieke geweld in hegtenis geneem nie, maar die polisie ondersoek ʼn saak van brandstigting.

Die twee mans wat weens die vrou se moord ondervra is, is intussen vrygelaat, aangesien hulle nie met haar dood verbind kan word nie. Die polisie is op soek na die vrou se kêrel. Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek ook die saak.

Op 13 Januarie is Osiah Rahube en ʼn fotograaf, Michael Tshele, glo deur polisiebeamptes doodgeskiet tydens ʼn betoging oor water in Brits. ʼn Derde man, Lerato Seema, is ʼn dag daarna in die gebied dood nadat hy glo vanuit ʼn bewegende polisie-njala gespring het. ʼn Vierde persoon is op 19 Januarie in die hospitaal dood nadat hy beswyk het aan die besering wat hy opgedoen het toe hy tydens die Brits-betoging in die kop gewond is.

Op 23 Januarie is Tshepo Babuseng (28) in Durban Deep, Roodepoort, glo deur ʼn polisiebeampte doodgeskiet tydens ʼn betoging oor behuising. Die polisiebeampte en drie kollegas is in hegtenis geneem en gaan na verwagting Maandag in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.