Seun op Oujaarsaand glo vir selfoon geskiet

Luday van der Merwe (15)

Lees die opvolg hier: Brits-tiener moontlik verlam ná skietery

Luday van der Merwe (15) is op Oujaarsaand in Elandsrand naby Brits geskiet nadat drie rowers hom en sy vriende glo van ʼn selfoon wou beroof.

Kaptein Aafje Bothma, ʼn polisiewoordvoerder van Noordwes, het aan Maroela Media gesê Van der Merwe het by vriende in Elandsrand gaan kuier. “Die vriende,  ʼn broer en suster van die Strydom-gesin, het vermoedelik ʼn huis in die omgewing opgepas. Die drie het gaan kyk of alles reg is by die huis en het omstreeks 23:50 na hul ouerhuis teruggekeer toe drie onbekende mans hulle in die straat genader het en hul selfone geëis het. Een van die verdagtes het ‘n vuurwapen gehad,” het Bothma gesê.

Die vermeende rower het glo ʼn skoot in die lug in geskiet en daarna die geweer op die drie kinders gerig. Van der Merwe het vermoedelik agter die twee vriende gestaan en wou sy vriende uit die pad stoot. Die rower het begin skiet en Van der Merwe is in sy bolyf getref. Die koeël het Luday se skouer binnegedring, deur sy long gegaan en in sy rugstring vasgesteek. Die drie verdagtes het ʼn selfoon gegryp en van die toneel gevlug.

Sy vriende het by die naaste huis om hulp aangeklop en Van der Merwe is na die Brits-hospitaal geneem vir behandeling. Hy is later na die GaRankuwa-hospitaal oorgeplaas. Volgens ‘n familielid is Luday stabiel, maar gaan hy moontlik verlam wees.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek ʼn saak van gewapende roof en poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.