Slegte nuus vir 523 Denel-vliegtuigspesialiste

Rooivalk

Die vakbond Solidariteit het vandag bevestig dat hy mondelings in kennis gestel is dat al 523 vliegtuigspesialiste by Denel Aviation/AMG afgelê gaan word omdat die Suid-Afrikaanse lugmag (SALM) sy kontrak vir vliegtuiginstandhouding met die maatskappy gekanselleer het. Die vakbond sal na verwagting môre ’n skriftelike kennisgewing met nadere inligting oor die beplande afleggings ontvang en die eerste afleggingskonsultasie sal op 14 Januarie 2013 plaasvind.

Volgens Jack Loggenberg, woordvoerder van Solidariteit, is dié aankondiging baie slegte nuus vir die 523 Denel-werknemers wat deur die beplande afleggings geraak gaan word. “Daar kan kwalik ’n slegter tyd van die jaar wees om sulke nuus oor te dra. Hierdie werknemers is landwyd by verskillende eskaders gestasioneer. Hulle gaan waarskynlik binne maande nie net hulle werk nie, maar ook hulle lugmagbehuising kwyt wees,” sê Loggenberg. “Daar hang nou ’n donker wolk oor 523 gesinne se Kerstyd wat tradisioneel ’n tyd vir ontspanning en uitspan saam met vriende en familie is.”

Intussen het die SALM steeds nie ’n woord gerep oor die moontlikheid om van Denel se tegnici se dienskontrakte oor te neem nie. Volgens Loggenberg moet daar in so ’n geval ook ’n artikel 197-kennisgewing uitgereik word vir die oordrag van dienskontrakte. Ingevolge artikel 197 van die Wet op Arbeidsverhoudinge moet werknemers se diensvoorwaardes en vergoeding op dieselfde vlak gehou word wanneer hulle dienskontrakte oorgedra word. “Ons is bekommerd dat die lugmag, om geld te bespaar, gaan wag totdat al die werknemers afgelê is sodat hy waarskynlik sommige van hulle teen ’n laer salaris kan aanstel om dieselfde werk te verrig.”

Loggenberg hoop dat die formele afleggingskennisgewing meer inligting sal verstrek oor die geskil tussen Denel Aviation/AMG en die lugmag oor wie verantwoordelik sal wees vir die betaling van die personeel se skeidingspakkette van miljoene rande indien afleggings onvoorkombaar is. “Ingevolge die kontrak sal die lugmag verantwoordelik wees vir die betaling van skeidingspakkette indien afleggings uit sy kontrak met Denel Aviation/AMG sou spruit. Of die lugmag verantwoordelik sal wees vir die uitbetaling van skeidingspakkette nadat die kontrak verstryk het, word egter bevraagteken. Denel Aviation/AMG meen dat die lugmag steeds verantwoordelik sal wees om die skeidingspakkette te betaal. Ons is bekommerd dat indien Denel Aviation/AMG die skeidingspakkette betaal, verdere afleggings by die maatskappy kan volg. Denel is pas deur ’n herstrukturering.”

Die departement van verdediging het op 20 Junie 2011 kennis gegee dat hy sy kontrak vir vliegtuiginstandhouding met Denel Lugvaart/AMG gaan kanselleer. Onderhandelinge het plaasgevind om die kontrak te wysig en moontlik te hersien, maar verlede maand het die lugmag onverwags in ’n brief te kenne gegee dat hy sy besluit hersien het en nie met die nuwe kontrak met Denel Aviation/AMG ná 31 Maart 2013 sal voortgaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

A. Minnaar ·

Mense, maak oop julle oe. Julle verloor van die beste opgeleide mense wat daar is. Ons land kan dit net nie bekostig nie. Daar is ander maniere om geld te bespaar. Minder duur kursusse, waar meeste in elke geval sit en slaap, asook die onnodigheid dat mense baie kilometers moet afle na hospitale ens. Daar nog baie voorbeelde. Dit lyk of die werklike probleem nie raakgesien wil word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.