Solidariteit stuit rassediskriminasie by SAL

Argieffoto.

Solidariteit het Dinsdagoggend in die arbeidshof in Johannesburg ʼn hofbevel bekom waarvolgens South African Airways Technical (SAAT), die tegniese afdeling van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), nie drie senior lugvaarttegnikusposte mag vul nie. Die vakbond het om ʼn dringende interdik aansoek gedoen, maar ʼn skikkingsooreenkoms is op Solidariteit se terme bereik en gevolglik ʼn bevel van die hof gemaak.

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, het gesê die vakbond is al amper ’n jaar lank oor hierdie kwessie in ’n regsgeding met die SAAT gewikkel en die hofbevel het tot gevolg dat die poste nie gevul mag word voordat regsekerheid verkry is nie. “Die hofbevel wys dat die SAAT se rassediskriminasie nie geduld sal word nie. Die SAAT het met stappe begin om vier vakante poste wat vroeër weens regstellende aksie vir swart kandidate gereserveer is, te vul. Drie wit mans, lede van Solidariteit, wat in van dié poste waargeneem het, is bloot weens hul velkleur oor die hoof gesien en nie vir permanente posisies oorweeg nie. Daarbenewens was daar geen geskikte swart kandidate wat die poste kon vul nie.”

Groenewald het gesê die SAAT se poging om die poste so gou as te moontlik te vul toon dat die maatskappy geen respek het vir die hofproses wat aan die gang is nie. “Die SAAT wil sy rasplan ten alle koste so vinnig as moontlik deurdruk en wag nie eens vir regsekerheid nie. Die ywer waarmee die SAAT kwotas op ʼn absolute wyse wil afdwing – vir opleiding (met verwysing na die SAL se kadetprogram) én indiensneming – maak ons net meer vasberade om met die hofsaak voort te gaan. Die SAL besef blykbaar nie dat wat hy doen, verkeerd is nie.”

Solidariteit het verlede jaar ’n saak van onbillike diskriminasie op grond van ras namens drie van sy lede na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys. Die KVBA het die saak na die arbeidshof verwys. Intussen het die SAAT vier poste wat vroeër vir swart kandidate gereserveer is, geadverteer. Solidariteit het in drie skrywes aan die SAAT geëis dat die poste, waarin die drie kandidate waargeneem het, nie gevul word nie, aangesien die vakbond en die SAAT in ʼn hofsaak oor die kwessie gewikkel is.

Die hofbevel teen die SAAT volg skaars ’n maand nadat die vakbond sy openbare veldtog teen die SAL hervat het, nadat die lugredery geen wit manlike kandidate in sy kadetprogram opgeneem het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.