Solidariteit verwelkom arbeidsminister se ingryping maar vra groter kopskuif

Die vakbond Solidariteit het vandag Mildred Oliphant, die minister van arbeid, se onderneming om met vakbonde te vergader ten einde ʼn oplossing vir die ewigdurende arbeidsonrus en onstabiliteit in veral die mynbedryf te vind, verwelkom.

Solidariteit sê die minister se ingryping geskied ongelukkig ter elfder ure, aangesien onbeskermde stakings, geweld, onrus en intimidasie reeds die norm geword het wat tot die huidige probleme aanleiding gegee het. Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê splintergroepe en gesiglose individue is besig om geweld en onbeskermde stakings aan te hits, wat dit moeilik maak om die skuldiges aan die pen te laat ry. “Die minister se laat toetrede word nietemin verwelkom omdat kopskuiwe en sterk leierskap benodig word. Indien die ingryping nie slaag nie, sal die gevolge katastrofies wees. Die intreevlak- en ongeskoolde werknemers wat reeds kwesbaar is, sal die swaarste daaronder ly. Dít terwyl die amptelike werkloosheidskoers reeds hoër as 25% is. Solidariteit voel dat dit beter is om ʼn werk te hê en probleme met wedersydse respek op te los as om jouself uit ʼn werk te staak.”

Du Plessis sê dat die reg om te staak ononderhandelbaar is. Werkers moet die reg hê om hul arbeid te weerhou, anders grens die werksverhouding aan slawerny. “Die reg om arbeid te weerhou, beteken egter nie dat daar onwettig gestaak mag word of dat geweld, intimidasie en saakbeskadiging tydens ʼn staking geoorloof is nie. Sulke boewery tydens stakings vereis streng optrede deur wetstoepassers. Vakbonde moet egter ook hulle kant bring deur werklik in die langtermynbelang van werknemers op te tree, eerder as om bloot getalle en ledegeld na te jaag. Samewerking deur alle belanghebbendes sal ʼn groot bydrae lewer om internasionale en plaaslike beleggers se vertroue in die mynbedryf te herstel.”

Volgens Du Plessis is die ondemokratiese ‘wenner-vat-alles’-stelsel, wat werknemers van hulle grondwetlike reg tot vryheid van assosiasie ontneem deur hulle nie toe te laat om aan ʼn vakbond van hul keuse te behoort nie, een van die onderliggende redes vir die krisis in die mynbedryf. “Veelvuldige vakbondverteenwoordiging en ʼn nuwe kollektiewe bedingingsmodel wat gefokus is op sake van gemeenskaplike belang in stede van die huidige posisionele bedinging sal die weg baan vir gesonde arbeidsverhoudinge en ʼn groeiende arbeidsmark.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Is minister Oliphant se poging nie maar net daarop gemik om die posisie van Cosatu, die ANC se regerings-vennoot, weer te versterk te midde van ander rolspelers in die vakbondbedryf soos AMCU nie. Volgende jaar is verkiesing-jaar en die ANC, met sy alliansievennote Cosatu en die Kommuniste Party, is reeds besig om te organiseer.

‘n Ander rede vir minister Oliphant se toetrede tot gesprek is waarskynlik om die onrus en onstabiliteit wat tans in die arbeidsmark heer, te temper ten einde onrustige buitelandse beleggers te paai en vertroue in Suid-Afrika se ekonomie te herstel. Hoop van harte dis hierdie saak wat Oliphant op die oog het want dit is uiters noodsaaklik dat vertroue in Suid-Afrika se beleggingsbestemming nie geskaad word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.