Solidariteit wen Renate Barnard-regstelsaak in hoogste hof van appèl

Renate Barnard

Renate Barnard

Die hoogste hof van appèl in Bloemfontein het Donderdag ten gunste van Solidariteit en kapt. Renate Barnard in een van die land se mees omstrede regstellendeaksiesake beslis. Barnard was vir langer as agt jaar in ʼn regstryd met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gewikkel ten einde bevorder te word. Die SAPD moet die koste van die arbeidshof, arbeidsappèlhof en die hoogste hof van appèl betaal. Die SAPD moet ook vergoeding aan Barnard betaal.

“Die uitspraak is ʼn reuse-oorwinning vir Solidariteit en kapt. Barnard. Barnard moes vir agt jaar veg vir geregtigheid. Haar uithouvermoë het die verbeelding van mense aangegryp,” sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Die volle regbank van die hoogste hof van appèl het beslis dat die SAPD onbillik op grond van ras teen Barnard gediskrimineer het. “Volgens die uitspraak kan gelykheid nie deur die meganiese toepassing van formules en numeriese teikens bereik word nie. Die uitspraak lui verder dat ten einde billikheid te bepaal ʼn buigsame en situasie-sensitiewe benadering gevolg moet word.”

Hermann sê die uitspraak maak dit duidelik dat numeriese teikens nie as absolute kriteria vir aanstellings gebruik kan word nie. “Numeriese teikens lei tot kwotas, wat deur die Wet op Gelyke Indiensneming verbied word. Die uitspraak het ook die kwessie van dienslewering aangeraak. Volgens die uitspraak vereis die Suid-Afrikaanse Grondwet van die polisie om professioneel en effektief te wees en hulle hulpbronne doeltreffend te gebruik. Die regters het bevind dat die vul van die pos waarvoor Barnard aansoek gedoen het van kritieke belang was en dat die polisie se argument dat dit nié so was nie ʼn leuen was. Die regters het bevind dat Barnard se nie-aanstelling in die betrokke pos dienslewering nadelig beïnvloed het.”

Barnard se regstellendeaksiestryd het reeds in 2005 begin. Sy het twee keer vir dieselfde pos aansoek gedoen. Albei kere is sy as die beste kandidaat aangewys en het die paneel onderhoudvoerders haar aanstelling aanbeveel. Die pos is egter vakant gelaat. Die pos is ’n derde keer geadverteer, maar is geskrap nadat sy weer daarvoor aansoek gedoen het.

Lees ook:
Renate Barnard-regstelsaak aangehoor, uitspraak voorbehou
Renate Barnard-regstelsaak in hoogste hof van appèl aangehoor
Solidariteit wen regstelsaak teen DKD
Nuuskommentaar: Baanbrekerhofsaak teen regstellende aksie
Polisie besluit of hulle teen interdik gaan appelleer
Solidariteit stuit SAPD se regstelplan in hof
Hofuitspraak baan die weg teen regstellendeaksiesake
Regstellendeaksiesaak na hoogste hof van appèl
Barnard-saak beslis tussen FW en ANC
Solidariteit en SAPD se regstelsaak uitgestel
Polisie het 70 oop poste weens regstellende aksie
Vakbond doen beroep om polisievrou te ondersteun
Nuuskommentaar: Regstellende aksie nou na grondwethof
Vakbond gaan konstitusionele hof toe met Barnard-saak
Uitspraak in SAPD-regstelsaak
Uitspraak in SAPD-regstelaksiesaak Vrydag gelewer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

henk celliers ·

Wat n wonderlike oorwining vir geregtigheid,as n mens mismoedig raak oor die nuwe suid afrika,dan gee sulke aksies n mens weer hoop,mooi so

Demokraat ·

Die uitspraak van hierdie saak dui tog daarop dat mens nooit moed moet verloor nie – reg en geregtigheid sal altyd seëvier.

Verder is hierdie uitspraak ‘n deurbraak en kan vele ander sake nou ook beveg word. Solidarieit moet erkenning kry vir hulle hulp en deursettingsvermoë om te help veg teen onregverdigheid.

Willie ·

Verstaan nie mooi nie.As dit teenstryding met die grondwet is hoe kan die regeering `n wet van regstellende aksie goedkeer?

Nico ·

Ongelukkig is restellende aksie nie teen die wet nie. Die grondwet maak voorsiening daarvoor. (En ons blankes het dit goedgekeur.) Wat blykbaar teen die wet is, is die stel van kwotas. Maar ook dit word deur elke werkgewer gedoen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.