Spoed dalk oorsaak van ongeluk waarin sanger sterf

Zak van Niekerk. Foto: Facebook

‘n Geskorste munisipale amptenaar het glo teen 146km/h in ‘n 80km/h-sone bestuur toe die ongeluk, waarin die sanger Zak van Niekerk dood is,  gebeur het.

Beeld berig dat Van Niekerk (33) en ‘n vriend, Johan Nortjé (50), omstreeks 16:00 Vrydagmiddag in ‘n Mercedes Benz Vito-bussie uit D.F. Malanweg in Sasolburg op die R59 na Vereeniging gedraai het toe die ongeluk gebeur het. Van Niekerk was die bestuurder en is weens die impak van die ongeluk uit die bussie geslinger. Hy is op die toneel dood. Nortjé het ernstige kop- en borsbeserings opgedoen en is na ‘n hospitaal geneem vir verdere behandeling. Basie Moutlong, ‘n geskorste voorraadbestuurder van die Metsimaholo-munisipaliteit in Sasolburg, se Audi het aan die oorkant van die pad tot stilstand gekom. Hy is lig beseer. Van Niekerk laat sy vrou Sonja (29), sy seun Jano (2) en sy twee en ‘n half maande oue babaseuntjie Zian agter. Lees meer hier.

Die sanger Steve Hofmeyr het intussen ook op sy Facebook-blad hulde gebring aan Van Niekerk: “Zak RIP broer. Vrydagmiddag gebeur dit weer. Ek kan nie meer tel hoeveel Suid-Afrikaanse sangers sterf op ons paaie nie. Want dis wat ons doen. Ons is verkoopsmense. Jy hoef nie rêrig na ons toe te kom nie. Ons ry na jou dorp toe. Soms vanaf Kaapstad na Secunda, na Rustenburg en môreaand weer in PE. Ons los ons families agter en ry vir inkomste wanneer dit die publiek behaag, oor naweke, as daar rugby is en as daar goeie flieks op TV is, dan hoop ons jy sal jouself eenkeer kan wegskeur en ons kom ondersteun. Dit is ook hoekom ek so dankbaar bly. Vir daardie simbiose. Maar as my makkers langs die pad ’n kruisie of ’n beeldjie kry, stop ek maar en salueer elke keer as ek verbyry. Dankie dat jy ons maak lag het toe ons dit die die meeste nodig gekry het, ou Zak. Maak hulle smile daar bo.”

Lees ook die huldeblyke wat ander bekendes oor Zak van Niekerk publiseer het.

Die foto is deur @_ArriveAlive op Twitter gelaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Saam met God se beproewing kom die krag en ondersteuning. Ek is jammer dat ons regering manne kan maak en breek soos hulle wil. Op aarde is hulle groot, in die hemel sidder hulle. Liefde sterkte.

Danie ·

Voel jammer vir Sonja en kinders.Mag GOD saam jou en jou kinders wees en ons wat sy musiek like sal voort gaan om aan hom en ook aan Sonja en kinders dink.Ek hoop net dat die WET die drywer van die Audi verantwoordelik sal hou en HOM laat verstaan om by die spoedlimit sal hou want as jy jou werk verloor of geskors word dink jy, jy kan die WETTE oorvat nie. Jammer maar daar moet iets gedoen raak aan mense wat die spoedlimit oorskry want hulle sit ander mense se lewens ingevaar.Mag GOD Sonja en kinders deur die tyd op SY hande dra.Gaan ZAK BAIE MIS R.I.P MY FRIEND.

Herma ·

Ons harte gaan uit aan Sonja en die seuns, mag julle troos in die Here vind. Ek hoop van harte hulle kla Moutlong aan van moord en poging tot moord aan. Roekelose bestuurders moet begin boet vir hulle aksies – ongelukkig is dit meestal die onskuldige partye wat met hul lewens boet. Rus in vrede Zak die Skepper roep sy bestes na Hom toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.