“Stakings is normaal” sê Zuma

President Jacob Zuma tydens vandag se perskonverensie. Foto: Kopano Tlape / GCIS

Wettige stakings en betogings deur vakbonde kan in ʼn demokratiese land verwag word en moet nie as problematies gesien word nie, het president Jacob Zuma Donderdag gesê.

Zuma het tydens ʼn perskonferensie by die Uniegebou in Pretoria gesê dat die regering nie gaan kant kies tussen mededingende vakbonde NUM en Amcu in die mynbedryf nie.

Wedywering tussen NUM, wat by Cosatu geaffilieer is, en Amcu het die afgelope tyd lank spanning in die mynbedryf veroorsaak en tot konflik tussen lede gelei. Zuma het opdrag gegee dat adjunkpresident Kgalema Motlanthe en ander ministers in gesprekke met albei vakbonde en die mynmaatskappy betrokke raak om ʼn uitweg vir die konflik te vind.

Hy het die groeiende tendens van werkers wat aan onwettige stakings in die mynbousektor deelneem, streng veroordeel.

“Stakings is normaal in ʼn demokratiese land. Dit is net in ondemokratiese lande waar daar geen stakings is nie,” het Zuma gesê. “Ek dink nie ons moet stakings as ʼn probleem sien nie, want werkers in ʼn demokratiese land is geregtig daarop om wettig te staak.”

Volgens Zuma beteken die feit dat die ANC in ʼn alliansie met Cosatu is, nie dat die regering moet misluk om sake “behoorlik en regverdig sonder die keuses van politieke vriende of kamerade” te hanteer nie.

“Ons is veral in samesprekings met Amcu betrokke, want ons glo dat daar ‘n gevestigde arbeidsraamwerk in die land is wat vakbonde in staat stel om met bestuur in aanraking te kom.”

“ʼn Mens kan nie toelaat dat vakbonde ‘n voorbeeld skep van onbeskermde stakings nie. Ons verstaan dat Amcu ‘n nuwe vakbond is wat met hierdie kwessies moet worstel. Dit is hoekom ons besig is om samesprekings met hulle te voer,” het hy gesê.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.