11 sterf in Wes-Kaapse busongeluk

Foto: AlgoaFM/Twitter

Foto: AlgoaFM/Twitter

Altesaam 11 mense is Donderdag in die vroeë oggendure tussen George en Oudtshoorn in die Wes-Kaap in ʼn busongeluk oorlede.

“Tien mense is op die toneel dood verklaar en nog ʼn persoon is in die hospitaal dood,” het Kenny Africa, die provinsie se verkeershoof, gesê. “Altesaam 18 mense, waaronder vier kinders, is beseer. Nege van die persone het ernstige beserings opgedoen.”

Die ongeluk het omstreeks 01:50 op die N12 plaasgevind.

Volgens Werner Vermaak, ʼn woordvoerder van ER24, was die bus sowat 15km buite Oudtshoorn toe ʼn voertuig voor die bus skielik in ʼn draai vir iets uitgeswaai het. Die busbestuurder het vermoedelik ook uitgeswaai en beheer oor die bus verloor, waarna dit omgeslaan het.

Beseerdes was in die wrak vasgekeer en Vermaak sê paramedici en polisiebeamptes moes in die bus klim om hulle te behandel. “ʼn Vyfjarige seun is beseer en is by sy ma se liggaam aangetref,” het Vermaak gesê. “Hy was by sy bewussyn, maar het ernstige frakture opgedoen. Hy is na ʼn hospitaal in George geneem vir verdere behandeling.”

Nagenoeg 50 mense het in die bus van Kaapstad gereis. Die pad tussen George en Oudshoorn is vir verkeer gesluit. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.