AfriForum soek CV’s van gekwalifiseerde wateringenieurs en -kundiges

Argieffoto.

Argieffoto.

Altesaam 20 aansoeke is binne 24 uur ontvang nadat AfriForum ’n beroep gedoen het op gekwalifiseerde wateringenieurs en -kundiges om hulle CV’s aan die burgerregte-organisasie te stuur.

Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, het Donderdag om 09:00 alle Suid-Afrikaanse wateringenieurs en -kundiges, wat tans werkloos is of die land verlaat het vir beter geleenthede, versoek om hulle CV’s en ’n oorsig van hulle werksondervinding na [email protected] te stuur.

AfriForum het aanvanklik gehoop hy sou teen einde Februarie 35 CV’s van professionele, ervare Suid-Afrikaners te ontvang het.

“Ons gaan die verwagting oorskry,” het Kleynhans Vrydag aan Maroela Media gesê. “Uit die CV’s wat teen Vrydagoggend om 09:00 ontvang is, blyk die meeste deelnemers na bekwame mense.”

Die aansoeke sal die organisasie help om ’n verslag saam te stel wat die beskikbaarheid van waterkundiges as hulpbron, en tot watter mate hierdie hulpbron benut word, demonstreer.

Kleynhans het gesê die beroep is gedoen omdat AfriForum baie bekommerd is oor die optrede van die minister van water en sanitasie, Nomvula Mokonyane, wat tans van die dienste van 35 buitelandse ingenieurs gebruik maak om waterverwante kwessies in Suid-Afrika te hanteer.

“Die departement van waterwese kan miljoene rande spaar deur bevoegde Suid-Afrikaners in diens te neem. Water is so ’n belangrike hulpbron en moet beskerm en behoorlik bestuur word. Indien die regte, bevoegde werknemers binne die watersektor aangestel word, kan ons verantwoordelike en doeltreffende bestuur van bedrywighede, die behoorlike instandhouding van die infrastruktuur, doeltreffende regulering, asook die beskerming van hierdie belangrike hulpbron deur behoorlike gehaltebeheer, verseker. Dit sal dan weer die departement in staat stel om wateringenieurs salarisse te betaal wat vergelykbaar is met dié in die privaatsektor,” het Kleynhans gesê.

AfriForum beklemtoon dat koste bespaar kan word deur onnodige sub-kontrakteurs uit te skakel, proaktiewe bestuur, tydige uitbreiding en beplanning, die instandhouding van die huidige infrastruktuur, finansiële bestuur en deur die nodige klem te plaas op die gesondheid van mense en die ekostelsel.

Hy het bygevoeg die land het Suid-Afrikaanse kundiges nodig om, op die lang termyn, belangrike poste in waterbestuur te beklee.

“Ons watergeriewe gaan agteruit as gevolg van die onbevoegdheid van huidige waterbestuur, ’n ondoeltreffende aankoopbeleid en swak regulering. Ons moet gebruik maak van ons eie kundiges wat ons stelsels ken. Hulle moet mentors en leiers wees vir jong plaaslike ingenieurs. Water is ’n baie belangrike hulpbron, en ons moet dit verantwoordelik bestuur deur natuurlike kapitaal in ag te neem,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anti Fool ·

Proverbs 30:22

“a servant who becomes king, a godless fool who gets plenty to eat,” just Nomvula Mokonyane, another fool…a spiteful fool.

Bruno Stef ·

Dit kan deurgetrek word na elektriese infrastruktuur wat met sovele hoogs opgeleide tegniese mense sit wat beskikbaar is en nou op die kantlyn maar net hulle koppe kan skud in ongeloof.

Faan Ries ·

Dit spreek vanself; Daar is inherente vrees dat die blanke wat die ondervinding het die huidige benarde situasie gaan red en omdraai. As dit gebeursal daar stemme opgaan om hulle permanent aan te stel en dit mag nie gebeur in die korrupte en onbevoegde huidige bestel nie. Eerder vergaan as om te erken regtellende aksie het die land sy G—-laat sien

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.