AfriForum vra SAUK vir duidelikheid oor Afrikaanse TV-uitsendings

saukDie burgerregte-organisasie AfriForum het ‘n dringende skrywe aan die SAUK gestuur en duidelikheid versoek oor die toekoms van Afrikaanse programme op die openbare uitsaaier se televisiekanale.

Dit kom na aanleiding van groot ontevredenheid oor die gebrek aan Afrikaanse TV-nuusuitsendings op SABC2 tydens die Sokkerwêreldbeker en gerugte oor die toekoms van Afrikaanse TV-programme.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê die organisasie het die SAUK ook daarop gewys dat beter kommunikasie met die Afrikaanse gemeenskap nodig is. Bailey sê AfriForum se lede is geweldig ontsteld oor die verskuiwing en kansellasie van Afrikaanse nuusbulletins weens die uitsending van sokkerwedstryde.

“Mense het nie ʼn probleem daarmee dat die wedstryde uitgesaai word nie, maar dan wil hulle betyds weet of die nuus op ander tye of op ʼn ander kanaal uitgesaai gaan word. Tans laat die SABC se kommunikasie met kykers veel te wense oor,” het sy gesê.

“Gerugte oor die staking van die vervaardiging en uitsending van Afrikaanse programme is destabiliserend vir die bedryf, maar ook vir die SAUK self. Adverteerders verloor hulle vertroue in die SAUK. Die Afrikaanssprekendes maak tans meer as 30% van die mark uit – om hulle te vervreem is nie net teen die wetlike verpligtinge van die openbare uitsaaier nie, maar is ook ʼn kortsigtige besigheidsbesluit.”

Bailey het verder genoem dat bewerings dat Afrikaanse programme van SABC2 na SABC3 gaan verskuif, ewe kommerwekkend is. “SABC3 kan nie oral in die land opgevang word nie. Tensy die SAUK beplan om eers die opvangsprobleem uit te sorteer, sal so ʼn verskuiwing vele Afrikaanse kykers ontneem van toegang tot programme in hulle eie taal.”

AfriForum sê hy sal aan die hand van die terugvoer van die SAUK, oor verdere stappe besin om te verseker dat die Afrikaanse publiek steeds toegang tot Afrikaanse TV-programme deur die openbare uitsaaier sal kan hê, soos die wet inderdaad vereis.

Lees ook:
SAUK ontken dat hy Afrikaans skrap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B A Potgieter ·

Ek weier beslis om enige fondse of te wel, Lisensie gelde aan die ANC se mondstuk, die “SABC” te betaal.
Vir die wat nie weet nie, jy het nie n lisensie nodig vir n Dekodeerder en n TV Monitor nie, as u so n opset het, is daar geen lisensie gelde nodig nie.
Lisensie betaling word alleenlik benodig om n volwaardige TV Ontvanger toestel te besit.
En nog n verdere punt, die “SABC” beweern pensioenaris is die ouderdom van 70 jr. maar die Regering se pensioenaris ouderdom is 60 jr.
Die SABC is nie gemagtig om die ouderdom op te druk na 70 jaar nie. Hulle is besig met bedrog.
pensionaris TV gelde beloop R70.00 per jaar.
Mense, word wakker en staan op teen die SABC” Hulle is n siviele organisasie en nie n wet makende liggaam nie. En jy kan hulle ten alle tye weier om u persele te betree.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.