AgangSA-leier glo strafregtelik aangekla

Dr. Mamphela Ramphele Foto: Burger Meyer/Maroela Media

Dr. Mamphela Ramphele Foto: Burger Meyer/Maroela Media

Daar is teenstrydige bewerings deur lede van AgangSA oor berigte dat daar strafregtelike klagte teen Mamphela Ramphele, leier van die party, aanhangig gemaak is.

Mark Peach, woordvoerder van AgangSA, het gesê daar is nie aanklagte teen Ramphele aanhangig gemaak nie. Donald Tontsi, ook ‘n woordvoerder van die party, beweer egter dat daar aanklagte van bedrog teen Ramphele aanhangig gemaak is.

The New Age berig dat Mike Tshishonga, waarnemende voorsitter van AgangSA, Dinsdag ‘n saak van bedrog teen Ramphele by die Centurion-polisiestasie in Pretoria aanhangig gemaak het. “Ek het pas met Tshishinga gepraat en geen kriminele klagte is teen dr. Ramphele aanhangig gemaak nie, en verseker nie deur hom nie,” het Peach gesê.

Volgens die berig het Tshishonga vir Ramphele daarvan beskuldig dat sy direkte toegang het tot partyfondse en dat sy ‘n bankrekening geopen het om toegang te kry tot deposito’s van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sonder ‘n mandaat van die party. Peach ontken die bewering.

“Daar is verwarring oor die proses waar party-amptenare ‘n rekening geopen het om terugbetalings van die OVK te ontvang en daar moet in ag geneem word dat die ondertekenaar van die rekening Mike Tshishonga is,” het Peach gesê.

Tontsi het egter aan eNCA gesê: “Ons het ‘n saak van bedrog teen die president van die party geopen aangesien ons bewus is daarvan dat sy die geld wou vermors het.” Hy het aan eNCA gesê die party skuld sowat R13 miljoen aan diensverskaffers.

Ao. Hero Gumbu, woordvoerder van die polisie in Centurion, sê hy kan nie kommentaar lewer nie. “Dit is ‘n baie ernstige hoëprofiel-saak.”

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie in Gauteng, het gesê hy sal binnekort kommentaar lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kosie ·

Hoe kan die miljoene wat sy in die besigheidswêreld gemaak het klaar is, of is dit maar net geldgierigheid?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.