ANC betwis godslasterlike artikel

John Block Foto: TimesLive

John Block Foto: TimesLive

Die Noord-Kaapse ANC betwis ʼn berig oor pres. Jacob Zuma en God wat Donderdag deur die Diamond Fields Advertiser (DFA) en The Star gepubliseer is.

“Ons verwerp hierdie kwaadwillige en moedswillige verdraaiing deur die DFA [en Independent Newspapers],” het Zamani Saul, provinsiale sekretaris van die party, in ʼn verklaring gesê. “Die poging was om die ANC as ʼn godslasterlike organisasie voor te hou, wat nie respek het vir Christenskap en God nie.”

Die DFA is onder die vaandel van Independent Newspapers en dieselfde artikel is in albei koerante gepubliseer. Die koerante het John Block, voorsitter van die ANC in die Noord-Kaap, aangehaal waarin hy sê om saam met pres. Jacob Zuma te loop is soos om saam met God te loop.

“Zuma, jy is die enigste kandidaat wat ons vir die verkiesing het,” het Block gesê. “Ons praat reeds oor die toekoms [ná 7 Mei], aangesien ons nie hierdie pad alleen stap nie, sihamba nomfundisi [ons loop saam met ʼn priester]. Xa uhamba nomfundisi kufana nokuthi uhamba noThixo [wanneer mens saam met ʼn priester loop, is dit of jy saam met God loop].” Block het Woensdag dié uitlatings by die Jim Summersaal in Kimberley gemaak toe Zuma ʼn besoek daar afgelê het.

“Block het in sy inleiding verwys na pastore en priesters wat die geleentheid bygewoon het,” het Saul verduidelik. “Hy het gesê ons is bly om hulle, as godsdienstige leiers, daar te hê. Hy het gesê wanneer ons saam met hulle loop is dit soos om saam met God te loop, omdat hulle God se verteenwoordigers is.”

Saul sê daar was geen verwysing na Zuma nie.

“Ons eis ʼn regstelling van daardie artikel,” het Saul gesê. “Ons sal die nodige kanale volg om hierdie growwe wanvoorstelling reg te stel.” -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ria Maritz ·

Suné, baie dankie dat jy SHANNON se kommentaar wat deur soveel van ons verag word, verwyder het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.