ANC versoek kalmte in Bloemhof

Onluste in Bloemhof. Foto: SAUK / Twitter

Onluste in Bloemhof. Foto: SAUK / Twitter

Die ANC het Dinsdag ʼn beroep gedoen op die inwoners van Bloemhof in Noordwes nadat ses huise Maandag gedurende ʼn gewelddadige betoging in Boitumelong afgebrand is.

“Die ANC veroordeel dade van aanhitsing, intimidasie en openbare geweld deur betogers,” het Dakota Legoete, die party se provinsiale sekretaris in Noordwes, gesê. “Die publiek het die grondwetlike reg om te betoog, maar dié regte beteken nie hulle kan gewelddadig optree en private en openbare eiendom vernietig nie. Dit beteken ook nie hulle mag die polisie aanval en ander mense intimideer nie.”

Die inwoners het Maandag die strate in gevaar om oor dienslewering te betoog en geëis dat die burgemeester en raadslede bedank. Die huise wat aan die brand gesteek is behoort aan die burgemeester, die burgemeester se buurman, twee munisipale beamptes, en twee polisiebeamptes. Die gemeenskapsaal is ook afgebrand.

Betogers het ook ʼn Njala-pantservoertuig van die polisie met ʼn petrolbom bestook. Die betogers het verhoed dat skole na die skoolvakansie heropen en het gedeeltes van die N12-pad met brandende bande versper. Hulle het ook die polisie met klippe bestook, en twee beamptes is beseer.

Legoete het versoek dat die plaaslike regering dringend ingryp en met die gemeenskap vergader. ʼn Vergadering is vir Dinsdagmiddag om 16:00 geskeduleer.

Die Noordwes-polisie het gesê nagenoeg 100 betogers is in hegtenis geneem sedert hulle verlede Woensdag oproerig geraak het. Hulle word van openbare onrus en opsetlike saakbeskadiging aangekla. Altesaam 16 verdagtes het Maandag in die Bloemhof-landdroshof verskyn. Hul saak is tot Vrydag uitgestel wanneer hulle na verwagting gaan aansoek doen om borgtog.

Volgens die polisie is die toestand in die gebied nog gespanne.

Paul Sebegoe, Noordwes se waarnemende premier, het die inwoners gemaan om nie eiendom te beskadig as hulle betoog nie en om ook nie winkels te plunder nie.

“Geweld is nie die antwoord as inwoners ontevrede is oor dienslewering nie,” het Sebegoe gesê. “As gemeenskappe ontevrede is met hul plaaslike munisipaliteit, moet hulle die provinsiale regering nader in plaas daarvan om onwettige betogings te hou.” Hy het gesê die provinsiale regering is besig om verslae van beamptes te bestudeer wat reeds na die gebied gegaan het om met die gemeenskap en munisipaliteit te vergader. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.