Die 24-jarige bestuurder van ʼn bakkie wat Maandagoggend 29 skoolkinders vervoer het toe dit in ‘n dam in KwaZulu-Natal se Midlands-gebied beland het, verskyn Woensdag in die Greytown-landdroshof.
Die man is aanvanklik van strafbare manslag aangekla, maar kol. Jay Naicker, ʼn polisiewoordvoerder, het Dinsdag bevestig dat die man teregstaan op aanklagte van moord, poging tot moord en roekelose en nalatige bestuur. “Ons kan in die stadium nie bekend maak waarom die man van moord aangekla word nie, dit sal in die hof duidelik word,” het Naicker aan Maroela Media gesê.
Maroela Media het Maandag berig vyf kinders is dood toe die bakkie omstreeks 07:00 die D532-pad verlaat het en in ʼn dam in die Rietvlei-omgewing beland het.
Daar is aanvanklik berig dat die bakkie 30 kinders vervoer het, maar die polisie het bevestig dat 29 kinders op die bakkie was. Die 24 kinders wat die ongeluk oorleef het, is in die Greytown-hospitaal geneem vir mediese behandeling.
Lees ook:
Vyfde liggaam gevind na bakkie in dam beland
Bestuurder vas wat 30 kinders vervoer
Skoolkinders dood, een vermis, ná bakkie in dam beland