Bakkie in slikdam: Bestuurder pleit skuldig

Argieffoto

Argieffoto

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy die dood van vyf kinders veroorsaak het nadat sy bakkie in ‘n slikdam in KwaZulu-Natal se Midlands-gebied beland het, het Woensdag in die Greytown-streekhof skuldig gepleit.

Volgens Natasha Ramkisson, ʼn woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het Phelelani James Mchunu (25) skuldig gepleit op vyf aanklagte van strafbare manslag.

Mchunu het aan die hof gesê dat hy op 12 Mei vanjaar 28 skoolkinders met sy oom se bakkie vervoer het. Hy beweer dat die bakkie se remme onklaar geraak het, waarna hy beheer oor die voertuig verloor het, en in ʼn slikdam in die Rietvlei-omgewing beland het.

Vyf kinders is in die ongeluk dood. Mchunu het tydens sy pleitverduideliking erken dat hy nalatig was en dat hy nagelaat het om te verseker dat die bakkie in ʼn goeie werkende toestand was.

Volgens Ramkisson beweer Mchunu se oom dat hy hom gewaarsku het oor die bakkie se remme.

“Die oom het aan Mchunu gesê om nie die bakkie te gebruik nie.”

Ramkisson sê die oom het Mchunu hierna gesien waar hy met die bakkie rondry en het hom gevra of die remme reggemaak is, waarop Mchunu ‘ja’ geantwoord het.

Die saak is tot 23 September uitgestel.

Lees ook:
Man in hof vir moord na bakkie in dam beland
Bakkie in dam: Bestuurder van moord aangekla
Vyfde liggaam gevind na bakkie in dam beland
Bestuurder vas wat 30 kinders vervoer
Skoolkinders dood, een vermis, ná bakkie in dam beland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.