“Barnard-uitspraak dodelik vir nasionale akkoord”

Dave Steward. Foto: Reint Dykema

Dave Steward. Foto: Reint Dykema

Dave Steward, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting, het Dinsdag gesê die konstitusionele hof se uitspraak in die Renate Barnard-saak is dodelik vir die nasionale akkoord.

Steward het dié uitlating gemaak tydens Solidariteit se seminaar oor die implikasies van die hof se onlangse uitspraak in die vakbond se saak namens Barnard teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Die konstitusionele hof het bevind dat die nasionale polisiekommissaris binne sy reg opgetree het toe hy Barnard oor die hoof gesien het vir bevordering, al was sy die beste kandidaat. Die hof het bevind dat daar nie teen Barnard gediskrimineer is nie.

Steward het gesê die ANC-regering se “beleid” om wit mense as tweedeklas burgers te behandel, moet nie geduld word nie. “Ons moet die ANC se weergawe van die geskiedenis uitdaag, hul beleide in die howe aanvat en ons regte uitoefen om sodoende ons stem dik te maak teen diskriminasie.”

Steward het gesê onbillike regstellende aksie is nie die manier om die grootste gedeelte van die bevolking te bemagtig nie. “Behoorlike onderwys, behoorlike werksgeleenthede en behoorlike dienste is die antwoord. Tans sit daar onbevoegde mense in sleutelposisies weens ras en kaderontplooiing.

Dr Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Dr Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê die staat is steeds behep met die toepassing van die nasionale rassedemografie in alle gebiede en op alle posvlakke. “Die regering se regstellendeaksiebeleid het in ’n wiskundige benadering ontwikkel wat mense met syfers vervang. Dit het niks met regstelling te make nie, maar alles met ras. Poste word vakant gelaat en daar word verby vaardighede gekyk. Dit is verkeerd en ons moet dit stop.”

Adv. Greta Engelbrecht, wat saam met adv. Martin Brassey SC die saak namens Solidariteit en Barnard gevoer het, het gesê hoewel Barnard geïdentifiseer is as die kandidaat met die nodige passie, vaardighede en kundigheid, sy weens haar velkleur nie aangestel nie.

Volgens Engelbrecht is die groot kwessie steeds oor die toets wat toegepas moet word in regstellendeaksiesake in terme van die balans tussen kwotas en teikens. Die arbeidsappèlhof en die konstitusionele hof, wat ten gunste van die SAPD beslis het, het volgens Engelbrecht slegs gefokus op rasseverteenwoordiging terwyl die arbeidshof en hoogste hof van appel ook die regte van die individu in ag geneem het.

Adv. Martin Brassey SC. Foto: Reint Dykema

Adv. Martin Brassey SC. Foto: Reint Dykema

Brassey het gesê die regering streef veelrassigheid na en dat dit die gevolg van sosiale manipulasie is. “Jy deel die samelewing op sodat die rassedemografie orals en op alle vlakke weerspieël word. Dit het niks met regstellende aksie te doen nie. Die grondwethof het die veelrassigheid-benadering onderskryf in die Barnard-uitspraak. Regstellende aksie moet toegepas word met verwysing tot diskriminasie in die verlede.”

Brassey het gesê die nasionale polisiekommissaris moes alle omstandighede in ag geneem het toe hy die besluit moes neem oor of Barnard bevorder moes word. “Wat hy gedoen het was nie regstellende aksie nie. Die wiele van die gereg maal dalk stadig maar dit maal kleiner.”

Adv. Dirk Groenewald. Foto: Reint Dykema

Adv. Dirk Groenewald. Foto: Reint Dykema

Adv. Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê die sentrum voer tans diskriminasiehofsake namens 87 van die vakbond se lede. “Daar is verskeie punte wat in die grondwethof se uitspraak geopper is wat Solidariteit verder sal ondersoek en in die hof sal toets. Die grondwethof het beslis dat hy regstellende aksie-maatreëls en die implementering daarvan onder die loep kan neem. Dit is positief, aangesien ons dus die maatreëls en die manier waarop dit toegepas word kan aanvat. Die grondwethof het ook bevind dat regstellende aksie-maatreëls vervat moet word in ʼn regstellendeaksieplan en dat dié plan opgestel en goedgekeur moet word,” het Groenewald gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

david ras ·

Wat presies is die “nasionale akkoord “? Gee asseblief vir ons die De Klerk weergawe daarvan sodat ons moontlik kan verstaan wat hom en sy Party beweeg het om daartoe in te stem en Regstellende Aksie. SELF dit op die wetboek te plaas—Wet 200 van 1993 — goedgekeur deur die NP beheerde parlement en onderteken deur Staats President F.W.de Klerk.Was 103 NP en 43 DP LV’s dan so kortsigtig dat hulle eenparig VIR die wet gestem het ?

Manna Pieters ·

Hoe meer ek met ouer mense praat wat nodige kennis en vaardigheid het wat land so nodig het,hoe meer besef ek die meerderheid is uit gewerk om plek te maak vir kaders. Daar is geen geregtigheid. Die regering en sy volgelinge wil nie deel, hulle wil als vir hulself hê.Die apartheids regering het tenmiste infrastruktuur instand gehou.Die regering plunder net ten koste van armes

william ·

De Klerk het met die referendum aan die kiesers gese daar sal wit woonbuurtes en skole wees. Piet Retief was ook goedgelowig en ons weet wat gebeur het. Die sogenaamde nasionale akkoord was vir die ANC net nog n manier om die land op valse voorwendsels oor te neem.

BoelieBrandBesteInDieLand ·

Mense moet ophou om vir de Klerk te haat. As iemand wat “Nee” gestem het in die referendum is ek van die opinie dat hy tussen ‘n rots en ‘n harde plek was, iemand wat die beste gedoen het wat hy kon onder die omstandighede. En ja, hy was krimineel naïef gewees om te dink die ANC sal by die “akkoord” hou.

Roelf Meyer is die eintlike verraaier.

Lido Pellencin ·

Hoekom is dit nodig om Dave Steward na ‘n seminaar te nooi sodat hy iets kan se? Kan hy en sy baas nie asb iets spontaan doen nie? Of het hulle nie meer nodig om iets te doen nie.

André ·

Ek raak nou behoorlik keelvol vol vir julle ouens wat swartgallig sanik oor wie wat moes en nie moes onderhandel het nie en wie die skuld moes kry. Kry dit asseblief: ‘n Slegs wit bestel sou en sal nooit volhoubaar wees nie. Ons moes ongelukkig met ANC/SAKP idiote iets saam uitwerk en hulle het dit skeefgetrek met oormagspel. Nou byt dit hulle self in die gai. Ons moet hierdie nonsens van verwyte nou los en werk aan oplossings deur saam te staan en vorentoe te beweeg. Die konferensie was ‘n uitstekende idee om gesprekke op ‘n konstruktiewe manier aan die gang te sit tussen verskillende rolspelers. Welgedaan Solidariteit!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.