Begrotingsrede: Só word jou sak geraak

Minister van finansies, Nhlanhla Nene Foto: Departement van kommunikasie

Minister van finansies, Nhlanhla Nene Foto: Departement van kommunikasie

Nhlanhla Nene, minister van finansies, het Woensdag tydens sy begrotingsrede ʼn verhoging in die koerse van persoonlike inkomstebelasting aangekondig.

Nene het gesê daar word verwag dat wêreldwye ekonomiese groei traag sal bly oor die tydperk vorentoe en van 3,3% in 2014 tot 3,5% vanjaar sal styg. Suid-Afrika se verwagte groei vir 2015 is slegs 2%. In Oktober verlede jaar is ekonomiese groei van 2,5% voorspel.

Volgens Nene sal belastinginkomste na verwagting R979 miljard in 2014/15 beloop, R14,7 miljard minder as die begrotingsraming ‘n jaar gelede. Die koerse wat op persoonlike inkomstebelasting gehef word sal met een persentasiepunt verhoog word vir alle belastingbetalers wat meer as R181 900 per jaar verdien. Dit beteken ʼn belastingbetaler onder die ouderdom van 65 jaar met ‘n jaarlikse inkomste van R200 000 sal R21 per maand meer aan belasting betaal.

Nene het gesê diegene wat R500 000 per jaar verdien sal R271 meer per maand aan belasting betaal, terwyl diegene wat meer as R1,5 miljoen per jaar verdien R1 105 per maand meer aan belasting sal betaal.

Die brandstofheffing sal intussen vanaf April met 30,5c per liter styg. Die Padongelukkefondsheffing sal met 50c per liter styg. Nene het ook ʼn tydelike verhoging in die elektrisiteitsheffing voorgestel om energie-doeltreffendheid te bevorder. Die voorstel sal met Eskom en ander belanghebbendes opgeneem word. Nene se voorstel behels dat die elektrisiteitsheffing van 3,5c per kWh na 5,5c per kWh verhoog word. Die bykomende 2c per kWh sal net geldig wees tot die elektrisiteitstekort verby is.

Nene het ook nog slegte nuus gehad vir sommige verbruikers met die aankondiging van verhogings in die sogenaamde sondebelastings. Vonkelwyn styg met 48c per liter, ʼn bottel wyn sal 15c meer kos terwyl bier met 15,5c per 750ml-bottel styg. ʼn Bottel whisky sal met R3,77 styg. Die prys van sigarette sal met 82c per pakkie van 20 styg en sigarettabak met 87c per 50 g.

Nene het aangekondig dat maatskaplike toelaes vanaf 1 April sal verhoog. Toelaes vir pensioentrekkers, afhanklikheidsorg, militêre veterane en gestremdes sal met R60 toeneem na R1 140 per maand terwyl kinderonderhoudstoelae na R315 per maand sal toeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

E VENTER ·

Volgens my vat en vat hulle net en gee net uit en uit en niks wat regtig aandag nodig het word gedoen nie. Dit is erger as ‘n sirkus. In die sirkus kan jy darem nog na ‘n vertoning kyk.

Drieks ·

14,7 miljard minder gekry plus die 30 miljard wat weg geraak het. En hul sé net eenvoudig ons sal dit vir die land help terug gee. Hoe kan enige mens vir die ANC stem.

E du Preez ·

Wat wed ek julle die elektrisiteitstekort gaan nooit ophou nie en die prys gaan nooit afkom nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.