Bloemhof-water: Kind sterf, water getoets

waterDie burgerregte-organisasie AfriForum gaan watertoetse in Bloemhof doen nadat ‘n kind dood is en meer as 200 mense die afgelope twee dae na dokters en klinieke begin stroom het met simptome van cholera.

Die departement van gesondheid in Noordwes het Donderdag bevestig dat ‘n kind dood is na hy ernstige diarree opgedoen het weens waterbesmetting.

“Een sterfte is aangemeld – ’n kind onder die ouderdom van een jaar,” het Tebogo Lekgethwane, woordvoerder van die departement, gesê. Lekgethwane sê meer as 200 mense het sedert Saterdag by plaaslike klinieke hulp gesoek weens soortgelyke simptome.

“’n Cholera-uitbreking kan slegs verklaar word wanneer daar laboratoriumtoetse gedoen is. Ons het watermonsters gaan versamel. Ons het nog nie die uitslae van die laboratorium af ontvang nie,” sê Lekgethwane.

Andrew Makwapane, munisipale bestuurder van die Lekwa-Teemane-munisipaliteit, blameer intussen ‘n kontrakteur vir die waterbesmetting. “Ons weet daar was ‘n rioolstorting en daar was ‘n kontrakteur in uitbreiding vyf in Boitumelong wat veronderstel was om die probleem op te los – maar het nie sy werk voltooi nie weens die onluste in die gebied,” het Makwapane gesê.

Carmea Huysamen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Noordwes, is van mening dat die moontlike uitbreking veroorsaak kon word deur rou riool wat in die Vaalrivier gestort word. “Ons het voorheen ons kommer uitgespreek oor die watersituasie in die land, en die moontlikheid van ʼn cholera-uitbreking beklemtoon die erns van ons land se watergehalte. Dit is vir ons kommerwekkend, en moet dringend aandag geniet,” sê Huysamen.

AfriForum se toetse, wat deur ʼn onafhanklike laboratorium ontleed sal word, sal bevestig wat die oorsaak van die besoedeling is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peter Says ·

Wat n skande, die een blameer die ander, soos gewoonlik. Skoon water is n REG….

Marlene ·

EK bly in KZN en ons water is nie van die skoonste nie. Twee weke gelede het hulle pype veranders en ons was sonder water vir amper twee dae en toe die water weer aankom was dit eers bruin toe wit. Ek en my man het altwee gastro gekry van die water en jy kon ruik daar is iets fout. My honed het ook gastro gekry van die water. En dit ruik soosw jik.Nou kook ek maar my water en maak my bottels so vol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.