Centurion-kragkrisis: Inwoner skok homself dood

crime scene tapeʼn Inwoner van Raslouw in Centurion is vroeg Vrydagoggend doodgeskok toe hy glo self probeer het om sy huis se elektrisiteitstoevoer te herstel.

Dit volg nadat verskeie woonbuurte in Centurion die afgelope week dae lank sonder elektrisiteit was weens vermeende sabotasie by substasies.

Ina Strijdom, DA-raadslid, het Vrydag aan Maroela Media gesê daar was reeds sedert Donderdagoggend geen elektrisiteittoevoer na die man se huis nie, maar dit was glo ʼn individuele onderbreking. “Ongelukkig is die mannekrag baie uitgeput weens vandeesweek se probleme, en die meeste tegnici doen herstelwerk by die substasies, dus word individuele klagtes nie so vinnig as gewoonlik hanteer nie,” het Strijdom gesê.

Die man het glo sy gesin bejammer omdat hulle nie elektrisiteit het nie, en het met ʼn aluminiumleer teen ʼn kragpaal opgeklim. Hy het glo handskoene aangetrek waarmee ʼn mens sweiswerk doen. “Hy het aan die 11 000 kilovolt kabel geraak en het doodgeskok,” het Strijdom gesê.

Sy het inwoners met individuele elektrisiteitprobleme versoek om geduldig te wees. “Individuele probleme kry wel aandag. Die hartseerste is dat tegnici moontlik vandag aandag aan die man se probleem sou gee,” het sy bygevoeg.

Sy het gesê die voorval het nie weens ʼn onwettige kragverbinding plaasgevind nie. Sy het wel gewaarsku dat dit teen die wet is vir enige lid van die publiek om aan Eskom se elektrisiteitnetwerk te werk.

Ná die week se chaos in die gebied is nog net die Eco Boulevard-winkelsentrum en ʼn paar omliggende buurte sonder elektrisiteit. “Elektrisiteitstoevoer na die gebiede behoort teen vanmiddag herstel te word,” het sy bygevoeg.

Die man se naam is nog nie bekend nie.

Lees ook:
Centurion-krag: ‘Dit was sabotasie’; munisipale amptenare ook ondersoek
Substasie in Centurion brand, kragonderbrekings verwag
Foto’s: Talle Centurion-buurte sonder krag weens vandalisme

Die klankinsetsels is deur GROOTfm 90.5 vervaardig. Luister gerus na GROOTfm by 90.5fm. Die radiostasie bedien die groter Pretoria metropool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.