Dringende versoek aan SuperSport gerig vir Afrikaanse krieketkommentaar

Argieffoto

Argieffoto

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ʼn dringende versoek aan SuperSport gerig om Afrikaanse kommentaar vir alle krieketwedstryde beskikbaar te stel.

Dit volg na klagtes van AfriForum se lede oor die huidige gebrek aan Afrikaanse kommentaar, en korrespondensie wat AfriForum met die kommunikasiebestuurder van SuperSport, Clinton van der Berg, gevoer het.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gemoeid met taalsake, het die organisasie die afgelope week ʼn stortvloed klagtes oor die gebrek aan Afrikaanse kommentaar tydens die huidige kriekettoer ontvang.

“In antwoord op AfriForum se navraag, het Van der Berg geantwoord dat dit nie gebruiklik is dat SuperSport Afrikaanse kommentaar vir wedstryde buite Suid-Afrika uitsaai nie. Hy het beklemtoon dat dit nie weens enige doelbewuste plan is om Afrikaans op die kantlyn te skuif nie, maar ʼn besluit wat op grond van tegniese oorwegings geneem is. Hy het ook bevestig dat Afrikaanse kommentaar wel steeds vir plaaslike wedstryde en toetsreekse beskikbaar sal wees.”

Bailey sê dié antwoord stel egter nie AfriForum se lede tevrede nie en die organisasie het dus ʼn dringende versoek aan SuperSport gerig om die besluit te heroorweeg.

“Afrikaanse kommentaar is wel die afgelope paar jaar vir buitelandse wedstryde gelewer en die kykers het geen aanduiding gehad dat dit uitsonderlik is nie. Lede bevestig dat die kommentaar professioneel was en dat hulle dit baie geniet het. Hulle vra tereg as daar dan klagtes oor die tegniese aspekte van die kommentaar was, waarom moeite nie gedoen is om oplossings daarvoor te vind, alternatiewe kommentators te kry of die bestaande kommentators beter voor te berei en op te lei nie.”

Bailey sê al is die besluit van SuperSport nie ʼn doelbewuste ondermyning van Afrikaans nie, benadeel dit die taal en haar sprekers.

“SuperSport bedien ʼn baie groot aantal Afrikaanssprekendes en dit is net goeie besigheidspraktyk om hulle behoeftes in ag te neem. Nie alleen stroom klagtes oor die gebrek aan Afrikaanse krieketkommentaar steeds in nie, maar kykers is ook baie ontevrede daaroor dat weinig Afrikaanse kommentaar vir rugbywedstryde beskikbaar is.”

Bailey sê hulle is hoopvol dat SuperSport hierdie kans sal aangryp om aan Afrikaanse intekenaars en potensiële intekenaars te bewys dat hy hulle wense en hulle taal respekteer deur kommentaar in Afrikaans uit te brei, eerder as om dit af te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Paul van Jaarsveld ·

Dit is noodsaaklik om druk te plaas op alle instansies wat Afrikaans af water! In die meeste gevalle is die Afrikaanse publiek ook die grootste betaling kanaal.

Elfie ·

Ag ja wat kyk, daar is mos vinnige Fanie de Villiers wat sekerlik die werk goed sal kan doen. Baie ander ouens ook, dis net nonsens en daar is GEEN verskoning nie – komaan SuperSport!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.