Fietsongeluk: Onderhoofseun was Godvresend

Rudi Lettau Foto: Hoërskool Pretoria-Noord

Rudi Lettau Foto: Hoërskool Pretoria-Noord

Die hartgebroke ouers van Rudi Lettau, die onderhoofseun van Hoërskool Pretoria-Noord wat Vrydagmiddag ná skool op sy fiets doodgery is, sal hom altyd as ʼn Godvresende persoon onthou.

“Hy was toegewyd in alles wat hy gedoen het. Hy het in al sy vakke uitgeblink en was elke kwartaal eerste of onder die skool se top 10. Hy was ʼn baie liefdevolle mens en het baie vir sy medemens omgegee,” het Rudi se pa, Claus, Maandag aan Maroela Media gesê. Hy het gesê Rudi wou volgende jaar elektroniese ingenieurswese aan Tukkies gaan studeer het of dalk ʼn diensjaar vir Christus gedoen het. Rudi en sy ouers bly sedert 1994 in die omgewing.

Rudi se vriende en familie het Saterdagoggend ruikers en ʼn kruis gaan plaas naby die plek waar hy doodgery is (foto’s volg onderaan die berig).

Intussen het raadslid Dana Wannenburg aan Maroela Media bevestig dat die Akasia-polisiestasie Rudi se ongeluk gaan ondersoek. “Die saak is aanvanklik deur die Pretoria-Noord-polisiestasie ondersoek, maar is Maandag na Akasia oorgeplaas. Ons behoort Dinsdag ʼn beter aanduiding te hê oor wat presies gebeur het,” het Wannenburg gesê.

Wannenburg het ook bevestig dat Rudi nie deur ʼn Tshwane-metropolisiebeampte se voertuig raakgery is nie, maar deur ‘n lid van die Gautengse provinsiale verkeerspolisie, wat in ‘n ongemerkte wit voertuig gery het. “Volgens ‘n ooggetuie het die beampte ʼn bruin uniform aangehad.”

Rudi se begrafnis vind Vrydagoggend om 10:00 vanuit die Doxa Deo Akasia-gemeente op die hoek van Main- en Thelmastraat plaas.

Lees ook:
Onderhoofseun sterf in fietsongeluk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ria Maritz ·

Mag die mooiste herinneringe van jul seun altyd in jul hart gekoester word. Pragtige getuigskrif ook van Rudi se ouers, familie, vriende, skoliere en skoolhoof.

Baie sterkte wanneer julle Vrydag voor die oop graf staan !

Delia ·

Het die man nie gestop nie? Hoop hulle kry hom.
Aan die ouers, familie en vriende diepste meegevoel…vertrou op God, Hy sal dra en vertroos!
Dra julle op in my gebede.

AmY ·

Dis baie hartseer maar dis so goed om so ‘n mooi getuigskrif van ‘n jong man (wat hopeloos te vroeg weggeneem is) te lees. Rus In Vrede Rudi, jy was ‘n inspirasie gewees.

Leandri ·

Rudi was n Amazing seun hy het my persoonlik baie inspereer as gevolg van hom het ek ook begin die woord van die Here in die skool uit ge dra !* gaan jou missies Rudi mag jy nou veilig onder Jesus se vlerkies rus!*

Kay-Lynn ·

Aii,,ek is regtig jammer om te hoor!! Maar soos almal se gebeur dinge vir n doel. Ek het dit al n paar keer beleef in die afgelope tyd!! Ek hoop dit sal beter gaan. Want nou weet julle dat Rudi op n beter en veilige plekkie gaan wees.
Sterkte vir die pad wat voorlê

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.